Ohgod: "’n Vocalist sal die fokus van die musiek aftrek"

  • 0

Die instrumentele rockgroep Ohgod het die tonge los met hul klipharde, sangerlose aanslag op die verhoog. Danny Harris, tromspeler van dié groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Danny. Hoe's dinge?

Hi Henry, dinge hier is altyd besig maar baie lekker.

Ohgod1groot

Ohgod het onlangs ’n debuut-EP, Forest Feuds, uitgereik. Geluk daarmee – die EP is kliphard en so vol musikale vaardigheid en ambisie soos ’n mens sou verwag van ’n groep met hul wortels in progressiewe metal. Waar en hoe het die besluit om die EP te doen gebeur, en hoe het die opnameproses verloop? Hoe voel jy terugskouend oor die EP? Dink jy julle sal vir ’n volgende opname enigiets anders wil doen wat die aanslag betref?

Forest Feuds was ons eerste aanslag as Ohgod in die local musiekbedryf. Ons het live shows begin speel en ’n paar volgelinge opgebou en hulle het ons konstant gevra vir iets wat hulle saam huis toe kan neem. Ons guitarist, David, het ons toe voorgestel aan een van sy vriende, Yan Sanchez, wat gehelp het om die materiaal neer te lê. Ons het saam met Yan ’n naweek by Cape Audio College spandeer en het die vier snitte deur Multitrack-opnames gedoen, want ons wou die "live feeling" van ons optredes vasgryp in die EP. Ons het so twee of drie opsies gevat van elke track, en toe die beste gekies om op die EP te kom. Ons wou net iets maak om terug te gee vir die mense wat ons altyd ondersteun.

Ek is persoonlik trots op hoe die EP uitgekom het, en daar is natuurlik altyd goed wat mens sal wil verander, maar die opname, die kunswerk en die mixing en mastering was deur mense gedoen wat ’n passie vir Ohgod het en dit was lekker om saam met mense te werk wat dieselfde passie deel vir ons musiek. Vir ons volgende opname sal ons net meer tyd spandeer aan die produksie om ’n meer volledige produk te maak, sodat elke song nie op sy eie geluister en waardeer word nie, maar die opname as ’n eenheid ervaar word.

Dankie aan David Houston vir production en editing, Yan Sanchez vir engineering, Bobby Adison vir mixing, Neil Pickles van Reveal Sound vir mastering en Frances Lawlor vir die album art.

Die vocalistlose en dus lirieklose inslag van bands soos Ohgod is altyd interessant. ’n Mens dink wat local bands betref dadelik aan Kidofdoom – weliswaar nie dieselfde genre nie, maar ook met daardie sangerlose aanslag, en hulle het ’n groot groep volgelinge gewen. Waarom het julle besluit om dit so te doen? Wat dink jy verloor ’n mens met hierdie samestelling, en wat dink jy wen ’n mens? Driekwart van die band was in Lane Evermore, ’n Pretoriase groep wat (sover ek kan vasstel – kon net een live video opspoor!) ook sangerloos was ... Is dit dus ’n aanslag wat julle nog altyd as ononderhandelbaar beskou het?

Aan die begin het ons net aan die musiek gewerk. Ons wou nie te veel op vocals konsentreer tot ons tevrede was met die rigting wat die musiek vat nie. Na ons ’n paar snitte klaar geskryf het, het ons besluit dat ’n vocalist die fokus van die musiek sal aftrek waaraan ons so baie tyd spandeer het. Ons besluit toe om voort te gaan as ’n instrumental band.

Wat ’n mens verloor is die musiek waarmee jou fans jou lirieke na jou toe terugskree en saamsing tydens die optrede. Ons vocalist is daar om met die crowd te gesels en almal in te trek, wat ek dink ons wen is. Mense het ’n kans om al die dynamics van die musiek te hoor, en tussen die guitars, bass en dromme is daar niks wat vir dieselfde spasie veg nie. Ons komplementeer mekaar se skryfstyl en daar is niks wat bo die ander lê nie. Ons kan ook in enige land van ’n vreemde taal gaan speel en hulle sal ons musiek nog net so goed verstaan.

Ja, Lane Evermore was gestig deur my en Stefan. Ons het toe op ’n latere stadium vir Mark gekry om die bass te tokkel, en ’n goeie vriend, Jean Buys, op lead guitar. Stefan het ook gesing en kitaar gespeel, maar ons het van daai tyd af al instrumentele snitte geskryf. Dit was ook altyd die lekkerste om te speel, en die reaksie van die mense was altyd goed wanneer ons dit gespeel het. Ons wou altyd meer op die musiek konsentreer, maar ons het gevrees dat mense nie sal vasgryp aan iets waarmee hulle nie kan saamsing nie. Toe ons in die Kaap kom en saam met David begin speel het, het ons besluit om te doen wat ons wil en waarvoor ons passie het, ongeag of mense ons sou ondersteun.

Gepraat van die Pretoria-na-Kaapstad-skuif: volgens die biografie op jul Facebook-blad het die drie lede dit gedoen vir ’n "fresh start". In hoe ’n mate is vooruitsigte op onderskeidelik die Pretoriase en Kaapse musiekfronte verantwoordelik vir die skuif? Met ander woorde, hoe verskil die twee tonele vir jou, veral wat live optredes betref, en hoe sou jy die ontvangs vir Ohgod tot dusver in Kaapstad beskryf?

Die grootste verskil tussen die twee scenes is dat mense in Gauteng meer geld het. Dis makliker vir hulle om uit te gaan en ’n band te ondersteun as wat dit hier in die Kaap is. Ek glo dat jy nooit te min geld het om ’n show te ondersteun as jy regtig die liefde vir musiek het nie. Die kompetisie in Gauteng is bietjie sterker, want daar is meer bands wat die scene aandurf. In Gauteng het ons baie van ons shows self gereël en supporting acts vir die events gereël, maar hier in die Kaap het ons nog nie een event gereël nie, omdat ons bevoorreg genoeg was om elke keer genooi te word. Ouens soos The Metalist, Turning Tricks Entertainment en Heavy Metal Panic help ons gereeld om ons aktief op die circuit te hou en ons het juis Kaap toe gekom om musiek te maak. So as iemand ons vra om te speel, sal ons speel. Die support in die Kaap is ongelooflik. Ons kan nie vir beter volgelinge vra nie.

Terug by die musiek self – hoe benader Ohgod die skryfproses? In die algemeen word aangeneem iemand lê die woorde en akkoorde vir ’n snit neer en die band vat dit verder, maar vir Ohgod, wat suiwer op instrumentele verkenning gefokus is, is dit natuurlik anders. Hoe gebeur dit, en hoe, veral, werk julle die storievertel-element van ’n lied in die musikale verloop binne ’n snit in? Met ander woorde, hoe vertel julle die storie sonder woorde, of moet ’n mens nie noodwendig so diep daaroor nadink nie?

Ons is ’n groep mense wat nogal hou van oefen. Ons sal baie keer net by Kill City Blues instap vir ’n 3-ure-sessie om deur ons set te gaan, en wanneer alles opgestel is, sal ons net enigiets speel om op te warm. Baie van ons songs het begin net uit pure opwarm-jams. Daar sal gewoonlik ’n basis wees waarvan ons werk, maar so deur die loop van die progressie sal ons stop en gesels oor wat ons voel die musiek moet doen, hoe dit moet vloei en waarheen dit moet beweeg. Partymaal sal ons net vir ’n uur lank bou en breek sonder om te praat en op die ou end is dit hoe dit die beste vir ons werk. Ons speel saam met mekaar en van mekaar af.

Die enigste manier wat ’n instrumental band ’n storie kan vertel, is deur die dynamic (dinamiek) van die musiek. Daar moet dele wees met meer spasie en weer dele met meer klank, mens moet altyd die balans handhaaf. Ons probeer nie noodwendig een storie vertel nie, maar poog om ’n gevoel te skep waar die luisteraar sy eie storie kan opmaak. Daarom kan elke song iets persoonliks vir jou beteken omdat daar niemand is wat vir jou sê wat om te voel of te dink nie.

Dis interessant dat julle op jul Facebook-blad aanhangers uitnooi om die musiek af te laai, te "pirate" en te deel nes hulle wil. Bands en kunstenaars is deesdae onder druk weens dalende verkope – wat is jou filosofie en benadering hieroor in terme van hoe Ohgod die situasie hanteer? Hoe dink jy moet jong bands in die algemeen daarmee omgaan? Sal Ohgod mik om voorts slegs digitaal vry te stel, of is daar planne vir harde kopieë?

Met tegnologie waar dit is en met die internet op ons vingerpunte is daar ’n groot kans dat ons musiek buitendien verniet gedeel gaan word. Ons het nie noodwendig die EP gemaak om geld te maak nie, ons wou net vir die wêreld sê: "HIER IS ONS EN DIS WAT ONS DOEN." Mense kan natuurlik op Bandcamp donasies gee wanneer hulle die EP aflaai en as hulle rêrig die band wil support. Daar is baie mense wat dit doen, en ons is baie dankbaar dat mense ons wil ondersteun, want ons verwag dit nie, maar hulle doen dit nog steeds. Omdat ons musiek gratis op Bandcamp is, het ons ’n onderhoud gehad met ’n Griekse online radiostasie en menigte fans oral oor die land en ’n paar mense van die buiteland betrek. Mense wil nie altyd geld op iets spandeer wat hulle nie ken nie, so ons het besluit om dit vir almal verniet te gee, en dan kan hulle besluit of hulle ons wil aanhou support of nie. 

Ek voel elke band se eerste release moet verniet wees, juis om daardie rede. Mense ken jou nie, hulle het nog niks van jou gehoor nie. So gee hulle die opsie – jou ware volgelinge sal jou altyd support sonder dat jy daarvoor hoef te vra, jy moet net laat jou musiek soveel nuwe ore tref as moontlik, so gee dit verniet weg.

Ons het ’n hele paar harde kopieë laat maak van Forest Feuds vir ons launch by Mercury (CPT) en later by Rumours Lounge in Jhb. Die support was ongelooflik en ons het baie meer verkoop as wat ons gedink het ons sal. Ons sal natuurlik dit aanhou print soos die aanvraag groter word, en ons sal altyd al ons opnames digitaal en via harde kopieë vrystel. 

Die verskil tussen Pretoria en Kaapstad in terme van die live toneel is al genoem, maar in die breër sin is die Suid-Afrikaanse toneel ook altyd aan die verander, altyd interessant. Wat dink jy is lekker van wat plaaslike bands (insluitend julle self, natuurlik) op die oomblik doen en die geleenthede wat daar is, en wat dink jy suig? Het Ohgod planne om die vlag oorsee te plant, of dink jy dinge in Suid-Afrika is sterk genoeg vir julle om die projek so hard te klap soos julle kan en wil?

Deur die tyd wat ons nou leef is ek baie opgewonde oor die scene. Instrumental bands soos Poverty Of Ideals, Savage Lucy en Ark Synesis is besig om die standaard elke dag op te stoot en help Suid-Afrika om ’n merk te maak in die global instrumental scene. Ander ouens, soos Megalodon, Facing The Gallows, Red Helen, Raptorbaby en Wildernessking werk almal ook verskriklik hard om op ’n internasionale vlak te kompeteer en hulle is almal besonders in die style wat hulle doen.

Ek hou nie daarvan om ooit te kla oor die scene nie, want ons moet dit liewer bou as afbreek. Die enigste ding wat my onlangs gepla het, is dat daar mense is wat kla oor hoe dinge nou is en dat dit altyd beter was, maar in die afgelope vyf jaar wat ek persoonlik in die bedryf is, het ek lanklaas soveel mense so opgewonde gesien oor die dinge wat nou gebeur. Dieselfde mense support al die shows en met elke event kom daar nuwe gesigte by. Dis ’n goeie tyd om deel hiervan te wees.

Ons wil natuurlik sien of ons kan kompeteer met die internasionale groepe, en sodra ons ’n kans het om oorsee te gaan vir ’n toer, sal ons almal dit gryp en daarmee hardloop tot ons moet terugkom. Ons is almal lief vir die land, en sal altyd terugkom vir ons mense, maar die enigste pad vorentoe vir ’n musikant is om te toer en meer volgelinge te bekom.

As Ohgod en as Lane Evermore is julle al ’n rukkie aan die gang en het julle al ’n hele paar mense laat regop sit. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte tot dusver in julle bestaan? Enige onvergeetlike gigs of gebeure? Enige venues of agter-die-skerms-stories wat jy eerder sal wil vergeet?

As Lane Evermore het ons nog maar ons voete gevind – ons het menige keer ons gesigte geverf om by die events se temas te pas. Deur Lane Evermore het ons vriende geraak met die ouens van Raptorbaby, want ons was geborg deur dieselfde tattoo shop, My Tribe Body Art. Ons het ook baie saam met Poverty Of Ideals gespeel en daardeur het ons ook vriende met hulle geraak.

Onvergeetlike gigs met Ohgod was definitief ons album launch in Jhb. Na die show het ons met ’n paar mense en met vriende wat ons lank terug gesien het, gesels. Net voor die deure sou toemaak, kom daar ’n groep mense in en beroof almal in die venue, hulle het skote geskiet en almal se fone en beursies geneem. Niemand het seergekry nie, behalwe die eienaar van Rumours. 

Die mees onvergeetlike gig vir my was die show van Turning Tricks Entertainment, toe hulle vir Protest The Hero oorgebring het van Kanada af. Dit was die grootste event wat ons al gespeel het, en die energie van die mense daai aand was iets besonders. Ons het opgetree net voor Protest The Hero – een van die bands waarna ons geluister het toe ons grootgeword het – en dit is nogal ’n groot mylpaal vir enige musikant in sy loopbaan. 

Wat hou die nabye en die verre toekoms in vir Ohgod?

Ons gaan in September terug Jhb toe om aan die Krank'd Up Festival deel te neem en weer eens is ons bevoorreg om saam met bands te speel soos Monuments, 36 Crazy Fists en Van Coke Kartel. Bands waarna ons geluister het en gevolg het toe ons nog op skool was. Dit gaan definitief ook een van daardie onvergeetlike hoogtepunte wees.

Ons is ook besig om aan nuwe musiek te werk vir nog ’n EP, wat ons voor die einde van die jaar wil vrystel. 

Verder in die toekoms wil ons graag Europa en Suid-Amerika, selfs Japan en China, gaan toer, omdat ons nie verhinder word deur taal nie. Ons taal is musiek. Ons wil dit graag so lank doen en so ver vat as wat dit moontlik is.

Wat is die sin van die lewe?

Niemand weet rêrig nie. Ek weet nie of mens móét weet nie. Vir ons is die enigste ding wat sin maak om te doen wat jy liefhet sonder om ander mense te na te kom, dan sal jy ’n volkome lewe leef. 

ohgod2groot

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top