Oewerkonyn: ’n Onderhoud met Louisa Punt-Fouché

  • 0

Skaarser-As-Skaarste. Oewerkonyn van die Karoo
Louisa Punt-Fouché

Uitgewer: Christel Foord
ISBN: 9780620740784

Skrywers oor hul nuwe boeke: Louisa Punt-Fouché vertel vir Naomi Meyer van Oewerkonyn.

Oewerkonyn is ’n kinderboek met ’n sosiale gewete, maar dit preek nie. Vertel asseblief oor hierdie skaars dier en jou boek se storie?

Ek het eendag op die plaas gaan stap. Ek is ’n ou vroutjie met grys hare en ek loop moeilik. Die ou-vroutjie-karakter in die boek is lewenswaar. As stadsmeisie het ek my regtig boeglam geskrik toe ek ’n oewerkonyn vir die eerste keer sien. Ek was so opgewonde oor hierdie ontmoeting. Dit was vir my die mooiste dier met die langste ore. Die oewerkonyn was baie mak en ek kon hom goed bekyk. Ek het gaan oplees oor hierdie dier en dit het my toevallig gelei na wat veral met hase en konyne gebeur in die skoonheidsbedryf. Die meeste produkte (veral parfuum) word op hase/konyne se oë getoets. Ons almal weet dit, maar toe dit lewensgroot voor my staan, kon ek die werklikheid nie ignoreer nie. Ek het begin ondersoek instel na beter produkte en toe self begin om olyfolieprodukte te maak, gebaseer op baie ou Mediterreense resepte. Dit was ’n lang, maar wonderlike oefening in alchemie, maar so is Shasha-Do-No-Harm (my reeks skoonheidprodukte) gebore. “Shasha” is ’n Sanskrit-woord wat verwys na die "rabbit pose" in joga. Dit beteken om te laat gaan, om oor te gee, en om besluite te neem wat geen dier of mens kwaad aandoen nie. Ek maak steeds hierdie produkte. Dit is vegan en word nie op diere getoets nie en al die bestanddele is natuurlik. Ek het ook T-hemde ontwerp van die oewerkonyn met die slagspreuk “Do no Harm” en “May all beings everywhere be happy and free”. Daar is nou ’n webwerf, www.shashadonoharm.co.za, en Facebook-blad. ’n Gedeelte van die opbrengs gaan vir die bewaring van die oewerkonyn. Dit is ’n klein poging om te help en om almal bewus te maak van die oewerkonyn. Ek is en was nog altyd ’n kampvegter vir diere en is self ’n vegetariër. Hierdie produkte is goedgekeur deur Beauty without Cruelty. 

My buurman het toe ’n pad gebou in ’n rivierloop wat groot skade aangerig het aan die oewerkonyn se natuurlike habitat. Ek het geraas en geblaas, maar nie veel bereik nie. My hart was baie seer. En toe gebeur die boek, ’n fabel. Die doel van die boek is om almal, oud en jonk, bewus te maak van die bestaan van hierdie bedreigde dier. Die funksie van die woordbeelde in die boek is om die leser te roer en wakker te maak. Dit gaan oor bewuswording van dit wat tans vergete is (die natuurlike siklusse van die Moeder-argetipe) en dat ons ongeërgheid en onbewustheid ernstige gevolge het vir ons eie psigologiese en fisieke oorlewing.

Jy het die boek se storie geskryf en dit geïllustreer. Wat is jou agtergrond?

Ek en my man het drie jaar gelede ’n groot skuif gemaak, ons beroepe laat vaar en op ’n Karoo-olyfplaas ’n nuwe lewe begin. Ek het meer as 30 jaar ondervinding as kliniese sielkundige, navorser en dosent op die gebied van Jungiaanse sielkunde (ek het ’n DPhil-graad in sielkunde). Ek is ook ’n kunstenaar, skrywer, storieverteller, joga-instrukteur en kampvegter vir diere.

Die idee was om woord en beeld te laat saamsmelt tot ’n metaforiese en allegoriese teenwoordigheid wat altyd die deur van die onbewuste oopmaak. Die kleure rooi, grys, swart en wit is onbewustelik ingevleg. Soos ek gewerk het, het gedagtes van die bedreiging van die lewensaar (“life force”) in rooi gebeur, wat die opponerende gedagtepatrone van swart en wit uitgedaag het tot integrasie – al beteken dit eers net die versagting tot grys. En iewers in die agtergronde ingewerk is die teenwoordigheid van die Groot Moeder, gedoen deur lino- en monoprints. Die kuns-en-woord-prosesse was nie uitgedink nie, maar eerder ’n spontane geboorteproses aan woord-en-beeld as ’n heilige kuns-en-poësie-taal, wat altyd die stem van ons diepgeborge essensiële wesens sal oproep.

In een van my dagboeke skryf ek:

Word-webs and word-images are precarious symbols of transition. We need the image to evoke emotion and language to bring the direct experience to consciousness.

The imponderable mystery of the marriage of image and word leads to the intermingling and colliding of mind, soul and spirit … that is when we suddenly change … it is just a little jump to the left … and things will never be the same …

My bedoeling is dat hierdie eenvoudige woord-beeld-boek sal lei tot ’n klein sprongetjie na links … dit is al.

Louisa Punt-Fouché (Foto: Marlene Malan)

Daar is baie bedreigde diere op hierdie planeet. Waarom het die oewerkonyn jou genoeg aangegryp om sy storie vir kinders te skryf?

Ek het interaksie met dit wat voor my staan. Buno die oewerkonyn het voor my kom staan en sy storie het my aangegryp. Buno se bedreigde lewe (daar is net 200 opgetekende oewerkonyne oor in die wêreld) is ’n spieëlbeeld van die bedreigde lewens van so baie spesies op die aarde. Dit gaan oor die proses van bewuswording. Hoe meer bewus ons is van elke gedagte, besluit en interaksie met ander en die natuurlike wêreld waarbinne ons leef, hoe beter sal ons besluite en begrip van die gevolge van ons aksies wees. ’n Bewuste lewe lei tot etiese en gevolglik ’n meer behoudende bewoning van die aarde. Verder sal dit help om die individu weer te verbind met die natuurlike wêreld en die vroulike aspek van menswees (versorging, emosionele beskikbaarheid en werklike deernis).

Watter interessante dinge het jy in jou navorsing omtrent die oewerkonyn en die Karoo uitgevind?

Die oewerkonyn is ’n skugter dier. Ons laat dus geen groter voertuie, honde wat hulle kan jaag, of enige vorm van jag op die plaas toe nie. Die konyne het begin ontspan en dit was makliker om hulle soms in die laatmiddag te sien. Hulle het nie meer weggehardloop nie, maar het hulle lang ore laat sak (waarskynlik met die hoop dat jy hulle nie sal raaksien nie).

Hulle is ongelooflik mooi, met buitengewoon lang ore. Hulle was altyd die trots van die Karoo. Hulle speel ’n baie belangrike rol in die bewaring van die droë rivierlope en die bestuur van water in die Karoo.

Die bewaring van die oewerkonyn is ook voordelig vir plante en spesies in die Karoo.

Dit is ’n baie delikate ekosisteem en dis moeilik om die presiese rol van die oewerkonyn te verduidelik. Ons weet wel dat gebiede waar die konyne voorheen voorgekom het, maar nou uitgewis is, droë onbegaanbare stukke aarde is met erosie. Die vrugbaarheid van die grond is ook op dié plekke nadelig aangetas.

Dis ook belangrik om te weet dat die oewerkonyn slegs twee babas per jaar kry. Dié is hulpeloos en blootgestel aan baie gevare – veral roofdiere en mense.

Ek het ’n feiteblad agter in die boek ingesluit om hierdie feite uiteen te sit. 

Jy skryf en skep nie net kunswerke vir kinderboeke nie. Vertel asseblief nog meer van jou agtergrond vir LitNet se lesers?

Tans bly ek op ’n olyfplaas. Ek werk nie meer as ’n terapeut nie, maar ek gesels graag met die olyfbome. Daar is so baie om te voel en te weet. Die bome se kleur verander heeltyd en as jy mooi kyk kan jy later presies weet hoe dit met hulle gaan. Daar is ’n baie ou mite dat olyfbome wat gelukkig is, elke nag net na twaalf hande neem en dans en speel. (Daar is twee tekeninge in die boek van hierdie dansende gelukkige bome.) Die mite vertel verder dat die bome dan plekke ruil en dat jy die volgende oggend baie mooi moet kyk of jy dit kan sien. Ek loer natuurlik elke oggend skelm om te sien of my bome geskuif het. Verder maak ek kuns, ek skryf en ek speel klavier. Ek werk tans aan ’n digbundel wat teen die einde van die jaar sal verskyn.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top