Oestyd-skryfuitdaging: "Nabot se wingerd" deur Elza Smal

  • 0

Nabot se wingerd

Uit dröe wingerdstok
beur knoppies groen van kleur
sprei hul blaartjies oop
die son se strale nader te lok.
Wanneer die korrels na goud verkleur
En druppend hul soete geur
is dit oestyd in ons vallei.

Dan kom blinkgesigplukkers
Hul sing en riel
– knip daai druifie
en swaai jou lyfie
die kromhoutsap
kom vat jou siel
maak vol die mandjies
toe-toe maak tog gou
die bank manager smile
met spierwit tandjies vir my en
vir jou
klink ‘n glasie
proe die wyn
sit op jou paleis se stoep
en kyk hoe die son verdwyn

As jy dalk kaja se kant toe tuur
En jy sien skadu’s in die vuur
Luister op die aandwind
Hoor die geween
wat vasklou teen sinkdak
en grief in murg en been

Dis my vrou en my kind
wat so kla teen die wind
vanaand droom sy van ’n paleis
of dalk net ‘n stukkie vleis
Jou kind het graad gaan haal
my kind huil – sy voet is kaal.
Ons eet pap en somtyds snoek
gekoop op jou winkel se boek

In Nabot se wingerd is die druiwe suur
die prys te betaal gans te duur
Leë hande maak my blind
Jy, draai jou mantel na die wind
Vat nog ’n sluk chenon blanc
geoes met my eeltehand
Met jou leeueaandeel sit jy
voëlvry
op Margate se strand

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top