Oeroumas wat jag en Amasones wat oorlog maak – g’n mite

  • 3
 

Nie net mans was in die voorgeskiedenis jagters en krygers nie. Al hoe meer navorsing kom na vore dat vroue dit net so goed gedoen het. En die Amasones, daardie groep vroue wat oorlog gemaak het, was nie net mitiese figure nie.

Hoog in die Andes-gebergtes in wat nou Peru is, het wetenskaplikes een van die mees fassinerende ontdekkings gemaak wat die idee dat dit net mans was wat duisende jare gelede gejag het, pas op sy kop gekeer het. Dié werk is onlangs in die vakjoernaal Science Advances gepubliseer.

Tydens argeologiese opgrawings op ’n terrein genaamd Wilamaya Patjxa, waar mense 9 000 jaar gelede geleef het, is die graf van ’n vrouejagter gevind. By nadere ondersoek is gesien sy was ook nie die enigste een nie.

Die betrokke vrou was tussen 17 en 19 jaar oud toe sy dood is. Saam met haar in haar graf was haar werktuie om haar jaginstrumente mee te maak en om mee te jag. Daar was vier spiespunte wat jy sou geheg het aan ’n spies wat jy dan gooi met behulp van ’n spieswerper, of atlatl. Dié hulpmiddel laat jou spies aansienlik verder trek. Tipiese klipgereedskap, verskeie stukke oker, skerp skrapers en ’n klipmes, asook bruineerstene is saam met haar begrawe.

So, was sy maar net toevallig ’n jagter, of was daar meer vrouejagters? Die span navorsers se werk op 107 terreine in die Amerikas het na 429 individue gekyk. Van hulle was 27 jagters, soos gesien kan word uit wat saam met hulle begrawe is, en van die 27 is 11 vroue en 15 mans – dit kon spesifiek bepaal word.

’n Vikoenja, ’n tipe llama wat in die suide van Amerika voorkom en wat vroue baie duisende jare gelede gejag het. Foto: Randall Haas.

Vroue het net soos die mans gejag en die meeste prooi was wildsbokke en vikoenjas, ’n tipe llama wat in die suide van Amerika voorkom, soos hulle kon sien uit die bene wat op die terreine gevind is. Dit was van groot stukke vleis, nie byvoorbeeld hase nie.

Hulle statistiese ontleding het gewys dat vroue tussen 50% en 30% van die jagters uitgemaak het in die vroeë Amerikas, wat aansienlik meer is as in meer onlangse jagter-versamelaar-bevolkings en by die latere landbouers.

Al meer navorsing word gedoen wat wys dat vroue voorheen rolle gehad het wat heel anders is as wat voorheen gedink is. Die Grieke het baie na die Amasones verwys, vroue wat ver op die grense van die bekende wêreld geleef het – sonder enige mans – aan die Swartsee met hulle hoofstad Themiskyra.

Die mite lui dat hulle mans gebruik het net om kinders mee te verwek, en sou ’n seun gebore word, word hy vermoor. Dié groot beskawing van krygervroue het glo ook hulle een bors afgebrand sodat hulle makliker met ’n pyl en boog sou kon skiet. Allerhande vreemde dinge is deur mans aan hulle toegedig.

’n Tipiese Griekse standbeeld van ’n Amasone. Dié een is in die Vatikaan. Foto: Wikipedia.

Na bewering sou die woord amazon beteken “sonder ’n bors”, maar dit is uitgedink deur die Griekse historikus Hellanikos. Hy het ’n Griekse woord saamgeflans met a- wat “sonder, of gebrek aan” beteken, en mazon wat ’n bietjie soos die Griekse woord vir “bors” beteken. Die betekenis het vir eeue gebly.

Die Amasones was dogters van die God van Oorlog – Ares. Jy sien hulle op pottebakkerskuns, monumente en standbeelde. Plato, Herodotus en Homeros skryf oor hulle en daar is talle interessante verhale oor vroue soos Antiope en Thessalia.

Nog ’n bekende koningin was Pentesileia, ’n wyse en dapper vrou wat ’n weermag van vroue na Troje gelei het om teen die Grieke te veg. Sy het Agilles doodgemaak, maar Zeus het hom opgewek en daarna het Agilles haar doodgemaak.

Maar steek daar enige waarheid in? Was daar vrouekrygers in die antieke tyd?

Beslis; hulle was deel van Skithië – ’n gebied in sentraal-Eurasië tot by die Swartsee –  en het van die 11de eeu vC tot 200 nC daar gewoon het. Die Skithiërs het, soos almal destyds, oorlog gemaak, maar hulle het ook vrouekrygers gehad – en Herodotus het ook in die 5de eeu vC oor hulle geskryf.

Die graf van ’n Amasone-kryger met haar hooftooisel (skets) en die skedel met die tooisel (regs) dateer uit die 5de eeu vC. Dit is in die destydse Skithië gevind, wat ’n groot deel van vandag se sentrale Eurasië tot by die Swartsee beslaan het. Foto: www.archaeolog.ru.

Opgrawings wat in die Altai-gebergtes gedoen is, het verskeie ondergrondse graftombes, of eintlik grafhope (kurgans) gevind en vier van die 11 was van vroue, net op een terrein. Twee van die vroue was tussen 20 en 29 jaar oud toe hulle dood is; een was ’n tiener en die ander een was tussen 45 en 50 jaar oud. Hierdie was krygervroue wat perd gery en geveg het. Altesame 30 ysterpylpunte, ’n haak in die vorm van ’n voël, fragmente van perde se harnasse, ystermesse, potskerwe, verskeie dierebene en ’n versierde oliefles is in die tombe by hulle gevind. Dié is in antieke tye besteel.

Maar dieper die tombe in is daar nie geroof nie en twee van die skelette was nog goed bewaar daar waar hulle op houtbeddens, oorgetrek met gras, gelê het. Een van die vroue is begrawe soos ’n perderuiter, asof sy op haar perd sit. Onder haar is ’n bronsspieël gekry, en langs haar twee spiese. Aan haar linkerarm was ’n armband van glaskrale. Daar was ook ’n bak, ’n oliefles en ’n tipiese drinkbeker met twee ore.

Die ouer vrou, wat tussen 45 en 50 jaar oud was toe sy dood is, is begrawe met ’n seremoniële hooftooisel (calathus) – ’n wye tipe kopstuk wat vrugbaarheid simboliseer. Die plate is versier met blomme. Dit is gemaak van goud, koper en silwer. Toegedraai langs haar het ’n ystermes gelê, en ’n skaars gevurkte pylpunt.

Die vroue se bene is ook tipies krom; dit wys hulle het hulle lewe op perde spandeer.

Dit was twee van 11 sulke vrouegrafte wat Russiese ekspedisies gevind het die afgelope jare, waar die vroue almal gewapen was en waar daar aanduidings was dat hulle ook perd gery het. Dit, sê die kenners, was die Amasones van hulle tyd. Geharde, vegtende vroue wat ook begrawe is net soos die mans en met dieselfde eer.

Voor en ná hulle kon daar derduisende vroue gewees het wat ook krygers was. Hulle stories is dalk net nie opgeskryf nie en hulle grafte is nooit gevind nie.

’n Skets van ’n wildjagter sowat 9 000 jaar gelede in die Andes. Navorsing wys vroue het destyds gejag. Die dier wat sy jag, is ’n vikoenja, ’n tipe llama. Sy gooi haar spies met ’n spieswerper, genaamd ’n atlatl. Skets: Matthew Verdolivo, UC Davis IET Academic Technology Services.

Ook in Afrika weet ons van verhale van individuele vroue wat krygers was. Soos Mmanthatisi (ook gespel Mantatisi en Ma Nthisi) (c 1784–1847) – sy was ’n kryger en stamhoof van die Batlokwoa (die Wildekatmense), Sotho’s van die omgewing van Harrismith.

In 1813 is haar man en stamhoof Mokotjo dood en verskeie mans was oorgehaal om oor te neem, omdat haar seun, die opvolger Sikonyela, net nege jaar oud was. Mmanthatisi het vas gestaan, al was daar planne beraam om haar dood te maak, en die troon oorgeneem. Sy is aanhoudend uitgedaag deur haar man se halfbroer Sehalahala.

Sy was standvastig en intelligent, en het oor 40 000 mense regeer. Gedurende die Lifaqane, toe drie stamme van die Zoeloes van Sjaka gevlug het en in kontak met die Sotho’s gekom het, waartydens daar groot slagtings en hongersnood was, het haar briljantheid na vore gekom.

Mmanthatisi het haar mense na die Caledonvallei gelei vir skuiling, waar hulle veilig omring was deur die berge en daar baie water was. Vir haar teenstanders het sy geen genade gehad nie; die duisende wat voor haar gevlug het, is doodgemaak. Haar krygers het die bynaam die Manatees – na haar vernoem – gekry.

Vinnig is stories oor haar versprei; eerwaarde Robert Moffat het só oor die magtige vrou beskryf: “Haar weermag beweeg soos sprinkane oor die veld en saai verwoesting waar hulle gaan. Hulle krag kom van haar, hierdie verskriklike vrou wat haar krygers glo borsvoed.”

Maar sy en haar 40 000 mense het maande lank die binneland deurkruis, en eindelose gevegte oorleef. In 1824 het haar seun, wat ’n swak leier was, by haar oorgeneem, nadat sy hulle tot by die Vaalrivier gelei het. Derduisende Sotho’s het gesterf, maar haar mense het uiteindelik oorleef danksy haar leierskap. Omstreeks 1838 is sy buite Ficksburg dood, waar sy ook begrawe is.

Sendelinge het haar onder meer beskryf as standvastig, intelligent en ’n militêre genie. Uitgeslape, lank, lenig, oplettend en met ’n waardige houding. Maar hoeveel weet van haar?

Elizabeth I het ’n tipiese rol van staatsvrou aangeneem toe die Spaanse armada gereed gemaak het om aan te val. Sy het op ’n wit perd, met staalhelm en borsharnas en in ’n wit rok, op 9 Augustus 1588 haar bekende toespraak by Tilbury gemaak. ’n Deel lui:

I know I have the body of a weak and feeble woman; but I have the heart and stomach of a king, and of a king of England too, and think foul scorn that Parma or Spain, or any prince of Europe, should dare to invade the borders of my realm: to which rather than any dishonour shall grow by me, I myself will take up arms, I myself will be your general, judge, and rewarder of every one of your virtues in the field.

Bronne

  1. R Haas ea, Female hunters of the early Americas. Science Advances, 4 November 2020. https://advances.sciencemag.org/lookup/doi/10.1126/sciadv.abd0310.

  2. https://www.ancient.eu/amazon.

  3. https://www.nationalgeographic.com/news/2014/10/141029-amazons-scythians-hunger-games-herodotus-ice-princess-tattoo-cannabis.

  4. Alexis Jordan, “I am no man”: A study of warrior women in the archaeological record. Field Notes,

  5. https://www.rmg.co.uk/discover/explore/queen-elizabeth-i-speech-troops-tilbury

  6.  Elena Fialko, Scythian female warriors in the south of Eastern Europe. https://pressto.amu.edu.pl/index.php/fpp/article/view/13588.

  7. Max du Preez, Of tricksters, tyrants and turncoats: More unusual stories from South Africa, 2009.

 

  • 3

Kommentaar

  • Marthinus Willemse

    Die Skitiërs was uitsonderlike mense. ’n Skitiërvrou sal eers trou nadat sy ten minste drie vyande gedood het. Daarna sal sy nie meer aan ekspedisies deelneem nie. Hulle had geen regterbors. As kind is dit gebrand (kouteriseer) om die spierkrag te verplaas na die arm en hand. (Of dit uit ’n mediese oogpunt sin maak, weet ek nie.) In een van die grafte wat die Russe ontdek het, is ’n jongvrou se toebehore met 14 goue pylpunte gevind; moontlik het sy soveel vyande gedood.

  • Jeanette Ferreira

    Lekker om hierdie belese joernalis se interessante artikels nou hier raak te loop. Sy ontdek altyd iets nuuts en kry dit reg om die verre verlede, wetenskap en ons daaglikse lewe met mekaar te verbind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top