Ode aan Chris van Wyk lui nuwe era van Van Wyk-aanhangers in

  • 0

Van Wyk – the storyteller of Riverlea

Van Wyk – the storyteller of Riverlea

Met: Zane Meas
Deur: Zane Meas
Regie: Christo Davids
Kostuums: Nthabiseng Mokone
Musiek: Cyril Peterson

Chris van Wyk was ’n storieverteller, boekwurm en digter. Sy woorde het diep spore in ons letterkunde getrap en reeds in 1979, met een van die bekendste anti-apartheid gedigte, “In detention”, wat in die versameling It is time to go home opgeneem is en hom die Olive Schreiner-prys besorg het, skryf hy die woorde wat in duisende se gedagtes vasgevang is.

Hy het meer as 20 boeke – waaronder ook poësie, ’n memoir en verskeie kinderboeke – die lig laat sien en van sy gedigte is in versamelings in Europa, Turkye, Amerika en Kanada opgeneem. Sy kortverhaal “Magic” besorg in 1996 aan hom die Sanlamprys vir beste Suid-Afrikaanse kortverhaal.

Die toneelstuk vertel van sy kinderdae in Riverlea, hoe armoede mense in ’n soort onderdrukte familie saamgesnoer het; van drome van skrywer wees; van ’n pa wat nie wyd belese was nie, maar wie se stem Chris gekry het.

“Alles wat ’n digter nodig gehad het, hy my pa my gegee: behalwe die woorde,” vertel hy. Hy beskryf hoe sy pa geskree en geraas het. “Ek skree soos hy, maar in assonansie en literasie.” Hy het egter as jong seun vir sy pa gesê hy gaan eendag boeke skryf wat hartseer én snaaks is. Daardie belofte het hy gestand gedoen.

Hy vertel later met ’n vonkel in sy oog dat ’n boek ’n skelm is, omdat dit hom wegvoer na verre lande; hom heeltemal tred met tyd laat verloor.

Om na die persvrystelling te loer wat meld dat twee bekroonde Suid-Afrikaanse verhoog- en televisiesterre, Zane Meas en Christo Davids in hierdie produksie saamspan, is nie verkeerd nie, maar dis ook nie die nuuswaardigste deel van die produksie nie. Twee bekroonde akteurs is ’n lekker trekpleister, toegegee, maar die heel nuuswaardigste is die feit dat ’n skrywer van Riverlea, ’n half vergete myndorp buite Johannesburg waar “die bruinmense al die jare vir die witman gewerk het”, soveel impak kon maak op ’n volk se psige – selfs vyf jaar na sy dood.

En selfs ’n kwarteeu nadat die vryheidstryd sogenaamd oorwin is.

Voeg dan vir Zane en Christo by die mengsel en jy het die ware nuushoek: Zane het die stuk geskep en geskryf en speel ook die rol van Chris van Wyk; en Christo sit in die regisseurstoel. Voor jou oë word Zane die nimlike Chris; sy woorde rol van sy tong af, asof dit uit sy eie siel kom.

En raadpleeg jy die program, sien jy dis die vyfde maal dat Zane en Christo saamwerk. Hulle wérk. Baie goed. Daar is ’n gedeelde passie daar, wat deurskemer in die 70 minute op die verhoog.

Chris verklaar dat ons die gevaar loop om die verlede en sy lesse saam met die toekoms en sy beloftes te verloor as Suid-Afrikaners verder toelaat dat diskriminasie ons van mekaar verwyder.

Wanneer hy verduidelik dat sy herinneringe aan sy ma oorheers word deur haar aansteeklike lag – ’n lag wat die klanke van hartseer afgeslag het – dat mense na hul huis gelok is deur haar lag wat “uit ons huis en ons mense gegroei het”, reik jy nes die tannie voor jou na jou sakdoek.

Hy vertel dat die boek Angela’s ashes hom inspireer het om sy eie memoir, Shirley, Goodness & Mercy, te skryf. Selfs dié titel wentel om sy ma en haar invloed in sy lewe. In Psalm 23 praat die Bybel van “Surely goodness and mercy”, maar hy het besluit om die “surely” met sy ma se naam te vervang.

Hy het Nelson Mandela se Long walk to freedom in ’n kinderboek omskep en regoor die land by skole besoek afgelê om te praat oor sy liefde vir boeke en die wonderlike wêreld wat dit vir kinders kan open. Hy het selfs van sy siekbed in die hospitaal toestemming gevra om by ’n geleentheid op te tree waar hy vir kinders kon stories voorlees.

Zane Meas se pad het jare gelede met Chris s’n gekruis, en ’n rol in een van Chris se kortverhale, “Flats”, waarvoor hy bekroon is, spoor Zane aan om ’n akteur te word. Hulle het twee blokke van mekaar gewoon in Riverlea en dis miskien daardie intieme kennis van Chris se grootwordwoonbuurt wat Zane so moeiteloos Chris se woorde laat voordra.

Hierdie toneelstuk is ’n huldeblyk aan Chris en die rol wat hy in Zane se lewe gespeel het.

Maar dis soveel meer as ’n persoonlike huldeblyk aan ’n mentor en vriend. Dis ’n ode aan ’n profeet wat dalk nie genoeg in sy eie land geëer is nie.

Chris is in 2014 ná ’n stryd met kanker oorlede. Die toneelstuk gebruik sy laaste paar dae in die hospitaal as die finale “ondervraging”, iets waaraan hy gewoond was onder apartheid, waar sy uitgesprokenheid hom gereeld in die kookwater laat beland het.

Ek hoop die stuk kan deur nog honderde mense gesien word en dat daardie honderde die boodskap verder sal neem. Dat Chris se vrae of hy genoeg was, of hy genoeg gedoen het, met ’n onbetwiste “Ja!” beantwoord kan word.

Ek hoop die toneelstuk wakker ’n nuwe generasie lesers en ondersteuners van sy skryfwerk aan.

Te sien by die Baxter Flipside tot 29 Junie. Kaartjies by Webtickets op 086 111 0005, aanlyn by www.webtickets.co.za of by Pick n Pay-takke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top