Obskure digter word stil

  • 0

De Waal Venter, selfportret, 2021

De Waal Venter 7 Mei 1942 – 20 Maart 2022 

Sewe jaar gelede het AJ Opperman ’n ietwat prosaïese artikel gepubliseer oor die skrywer PA de Waal Venter getitel “Lewe vergesel van woorde en skryf” (Wes-Beeld, Vrydag 12 Junie 2015) – in teenstelling met Opperman se latere baie bekwame gedenkstuk vir Venter (Die Burger, 24 Maart 2022). Onder Venter se vriende is vroeër na die eersgenoemde artikel verwys as “Geheime lewe van obskure skrywer oopgevlek”. Ek het daarna ’n soort repliek geskryf (Versindaba, Februarie 2016) wat op 3 April 2022 met redigering op Versindaba herpubliseer is.

Sedert 2016 het Venter ’n stroom verdienstelike, sonore werk gepubliseer (vier digbundels) en het hy tereg erkenning gekry. ’n Akademieprys vir vertaalde werk is in 2020 aan hom toegeken vir een van hierdie bundels, Vandag is boordensvol (2019, poësie van Pablo Neruda). Joan Hambidge het onlangs beklemtoon dat Venter die Afrikaanse letterkunde hiermee verryk het. Oor vertalings van Tomas Tranströmer uit Sweeds het Breyten Breytenbach gesê: Jy illustreer weer hoe ’n gedig gelei deur die hand van ’n meestervakman deur tale kan beweeg, metamorfoseer (soos dit ’n rustelose gedig betaam), ’n nuwe baadjie aantrek by wyse van spreke en nog net so misterieus mooi anderkant uitkom” (https://versindaba.co.za/2013/08/26/tomas-tranströmer-vertaling-in-afrikaans).

Boggom en Voertsek by die Krugersdorpse polisiestasie, in standerd 8 (De Waal regs)

Ek en De Waal was maar altyd diep maters, seuns van twee polisie-offisiere in Krugersdorp. Ons Britse was al goed ingeburger daar toe die Venters soontoe verplaas is teen die einde van 1954, toe ons hoërskool toe moes gaan (Monument). Hulle het my by die huis vertel van die kranige sportman, die vir my toe onbekende Wallie (oa ’n amateurstoeier). Ek het oorgestap om die groot tawwe tienie te ontmoet en hierdie skralerige outjie in die voortuin sien werskaf … “Hallo, het jy dalk ’n ouer broer met die naam Wallie?” “Ek is Wallie,” het hy gesê. En so het die lewe met Wallie begin, en met voortdurende verrassings. Ons het in ’n stadium so erg hand-om-die-nek geloop dat my pa eendag gesê het seuns loop eintlik nie te veel só nie. Ons was boesemvriende maar dit was nie net plesier nie. Ek was soms jaloers op sy hoë klaspunte in Afrikaans en ons kompetisie was knaend en selfs kneusend. Maar soos dit Boggom en Voertsek betaam, het ons die rande van die interessante saam verken.

Venter was vir jare in Krugersdorp ’n DA-stadsraadlid en ek was verlig die dag toe die nuus kom dat die DA sy raadslede gaan verminder, met hom as een van die ongevalle – dit was die aansporing wat vanaf 2015/16 vir nuwe groei in sy literêre produksie verantwoordelik was (kyk “Publikasies sedert 2016” onder “Verwysing”).

De Waal Venter se oeuvre strek oor vele terreine van produksie, in verskillende genres van dig-, prosa- en skryfkuns (onder andere romans, wetenskapfiksie, jeugverhale en radiodramas) oor lang periodes (kyk https://dewaalventer.wordpress.com), onder etlike heteronieme; en dan veral as vertaler uit verskeie literêre tradisies. Hy was ’n pionier van internetpublikasie en het letterlik duisende gedigte op literêre blogs gepubliseer. Hier het talle poësielesers hom entoesiasties en soms ekstaties gevolg. “Musing Inuk” is ’n juweel (https://westrand.wordpress.com/environmental, gedig 2) – in die woorde van een blogleser, ’n “beautifully tragic poem” (maar kyk ook ander blogkommentare).

Musing Inuk

The bergs look limp
to me nowaseasons,
I shouldn’t read
National Geographic,
that once was a tree
now covered in blinding shots
of glaciers gliding all the more
readily
sweating in the gloaming –
an old word I now use
for global warming.

                 .

I don’t need to read
journalistic twilight musings,
I can see when a bear
is panting to death,
I can see the whales flail
in the a-krillic blue sea,
I know the götterdämmerung
is going to be a hot event

                  .

Inuitively.  

Venter het ’n skerp sin vir humor gehad en ek het hom nooit ’n grap van andere hoor herhaal nie. Sy snaaksheid het gelê in die subtiele en die geskakeerde. Die kunstenaar spot met eietydse waardes en sy werk is deurspek daarvan – veral hoe dit in die massamedia oorgedra word – kyk “Entertaining the barbarians”; hierdie gedig reflekteer ook op sy liefde vir wetenskapfiksie (https://westrand.wordpress.com/satyrical, gedig 5). Lees ook die volgende verse in sy satiriese rubriek (https://westrand.wordpress.com/satyrical): “There used to be a gentleman” (gedig 6), “There are no bars on Mars” (gedig 3), “The startled solipsist” (gedig 7), “The apotheosis of the pumpkin” (gedig 8); en met akademia: “Gister is ’n mite” (gedig 9); ens.

Tog is Venter ook ’n digter van patos, empatie, goedgeaardheid – kyk “Jy’t my lief Tsamma” (https://westrand.wordpress.com/lyrical-and-emotional, gedig 2) en “Redemption from an onerous sin” (https://westrand.wordpress.com/biographical, gedig 2).

Venter dig geesdriftig oor die sensuele en erotiese liefde, en die poëtiese gestaltes wat liefde aanneem in sy verse is veelvuldig – kyk “The neurobiologist writes a love letter – revised 02” (https://westrand.wordpress.com/humourous, gedig 2), “The moisturous life of an analyst” (Venter 2010, bl 13), “The wisdom of whiskey, as well as whisky” (https://westrand.wordpress.com/satyrical, gedig 3). Hy was blykbaar geïnfatueer met die sensuele werk van Pablo Neruda, van wie se poësie hy kwistig vertaal het (Venter 2019).

Venter se vertalings in Afrikaans uit tale anders as Engels lei in sy verskuns weg van die eng eie en stel lesers aan onverwagte en vars denkreise bloot. Dit vorm ’n sterk komponent van sy latere oeuvre (kyk einde van die bronnelys hier onder). Hy doen gereelde vertaling, in ’n taamlik wye veld van uitheemse digters (uit Duits, Italiaans, Portugees, Spaans en Frans). Venter vertaal veral graag die warm emosionele Spaanse poësie van Neruda en die dikwels ysig-abstrakte tekste van die Sweed Tomas Tranströmer. En hy balanseer hierdie soms kontrasterende poëtiese buie van die digters moeiteloos.

In “Spoor” (Tomas Tranströmer, https://tomaswordpresscomblog.wordpress.com/bladsy-een, 10de gedig) mesmeriseer die digter met sy weergawe van die doodse stilte van ’n Sweedse wintersnag, die eensame trein ’n metafoor van die alleenheid wat in slaap maar ook in ernstige siekte ondervind word – hier suiwer vasgevang in vertaling:

Spoor

Twee-uur in die oggend: maanskyn. Die trein staan
in die veld. Ver ’n dorp se liggies
wat koud flikker teen die horison.

Soos wanneer jy so diep in ’n droom wegsak
jy nie eers kan onthou jy was daar
wanneer jy terugkom nie.

Of wanneer jy so diep wegsak in ’n siekte
dat jou dae ’n swerm flikkerende spikkels word,
yl en koud teen die horison.

Die trein staan doodstil.
Twee-uur: helder maanskyn, yl sterre.

Venter se siekte het hom in vier dae laat wegsak. Die geliefde “old apricot flavoured philosopher” (“Blown a bit out of myself”, Venter, 2010, bl 31) is uiteindelik deur die koue wind van leukemie opgeraap en die landskap lyk armer sonder hom.

Meer gedigte is te lees by http://dewaalventer.bookslive.co.za/blog, en sy oeuvre word uiteengesit by https://versindaba.co.za/gedigte/gedigte-2.

Verwysing

Venter, PA de W. 2010. Entangling states of mind. Uitgegee deur www.lulu.com . ISBN 978-0-557-83905-6: https://www.lulu.com/shop/search.ep?keyWords=entangling-states-of-mind&type=

Publikasies sedert 2016

2017: Oop sirkel. Naledi.

2019: Vandag is boordensvol. Pablo Neruda in Afrikaans. Naledi.

2020: Alles keer om. Vertalings van gedigte deur Tomas Tranströmer. Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

2021: Vrugbeginsel. Naledi.

Sien ook:

De Waal Venter in beeld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top