
“O, die donkie” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
O, die donkie
Die kelnerin – ek skat haar nie ouer as agtien nie, moontlik ’n matrikulant van verlede jaar – lei ons na ons tafel en sit die wynlys voor ons neer. “What would you like to drink?”
“Jammer, kan jy dit in Afrikaans herhaal?” vra Bertha, my goeie vriendin wat al donkiejare met ’n Engelsman getroud is.
Die kind lyk verward. “Sorry Ma’am, I don’t speak Afrikaans very well.”
“Afrikaans is een van ons land se amptelike landstale. Indien enige instansie met my wil besigheid doen, moet hulle my in my taal bedien.”
My stoel word warm onder my. “Bertha, sy verstaan nie wat jy sê nie.”
“Wel, dan moet sy iemand kry om my in my taal te bedien.”
Ek kyk na die naamplaatjie op die kind se bors. “Lerato is a Tswana name?”
Sy knik.
“Lerato, the lady can’t speak English,” lieg ek. “Can you get us somebody who speaks Afrikaans?”
“Certainly.”
“Ag, los maar.” Bertha gooi haar hande in die lug. “Bestel jy sommer, want jy weet wat ek drink.”
Toe Lerato wegloop nadat ek ons bestelling geplaas het, sê sy beskuldigend: “Natuurlik kan ek Engels praat.”
“Hoekom het jy nie? Jy het mos gehoor sy kan nie Afrikaans praat nie.”
Sy frons vererg. “Dis die punt wat ek wou maak. Ons taal suig altyd aan die agterspeen. Eers het die Engelse ons onderdruk en nou kom die ANC met allerhande slinkse truuks. Ek voel net êrens moet ons standpunt inneem. Jy ken die storie van ‘ek is ’n donkie’ nadat die Engelse die Boereoorlog gewen het?”
“Natuurlik. As ons ooroorgrootjies nie so steeks soos donkies was nie, het Afrikaans nie vandag meer bestaan nie,” lag ek in ’n poging om die atmosfeer ’n bietjie ligter te maak.
“Presies. Kan jy sien hoe ver ons gekom het? Hierdie jaar is ons taal amptelik ’n honderd jaar oud, maar as ons en ons kinders nie daardie ou mense se voorbeeld volg nie, gaan Afrikaans nie naastenby nog ’n eeu maak nie.”
En ook nie as ons ander bevolkingsgroepe van ons taal vervreem nie, dink ek, maar sê dit nie.
“Bertha, as jy so ’n groot kampvegter vir Afrikaans is, hoekom het jy met John getrou? Hy was so rou Engels soos kan kom toe julle die knoop deurgehaak het.”
“Wel, vandag praat hy Afrikaans net so goed soos Engels. My kinders ook.” Sy kyk triomfantlik na my.
“Maar kan hulle Tswana, Xhosa of Zoeloe of enige van ons ander elf amptelike tale praat?”
“Nee, wat is jou punt?”
“My punt is dat al die ander tale, behalwe Engels, in dieselfde boot as ons is. Ons almal baklei vir moedertaalonderrig.”
“Wel, ek is ’n Afrikaner. My prioriteit is my taal.”
Lerato sit ons wyn voor ons neer.
“That was quick. You are an excellent waitress.” Ek weet ek oorkompenseer vir Bertha se optrede.
Die kind kyk onderlangs na Bertha. “The lady was very angry with me.”
Die onskuldige verlange om te behaag het niks met ’n fooitjie uit te waai nie en selfs Bertha kan dit sien. “Sê vir haar ek was nie kwaad vir haar nie, ek was kwaad omdat die restaurant my nie in my taal kon bedien nie,” sê sy en ek vertaal gehoorsaam.
“I know how you feel,” simpatiseer Lerato. “If I could have written my matric exam in my mother tongue, I would have been at university instead of waiting tables.”
“Exactly,” antwoord Bertha, en kom nie eens agter dat sy Engels praat nie. Sy het ’n nuwe geesgenoot en nou sal sy Mandaryn probeer verstaan om Lerato te akkommodeer.
Die Bela-wet is onderteken. Ek druk die rooi knoppie van die afstandbeheer met wrewel en die TV-skerm word swart.
“Shoot, Ma, wat is Ma se problem? Ek wag vir die sport. Ek wil sien wie vir die Springbokspan gekies is.”
“En ek is besig om nuus te kyk.” My kind se pa kyk my net so verwytend aan.
“Problem? Dit is presies wat my probleem is. Jou taalgebruik, Herman.”
“My taalgebruik? Jeez, ek het nie eens ’n woord gesê toe Ma skielik hier uit niks uit berserk geraak het nie.”
“Ek het g’n berserk geraak nie.”
Dietmar lag dat die bure hom sweerlik kan hoor. “Natuurlik het jy berserk geraak. Nes jou voorvaders.”
“Ekskuus? Omdat hulle moes veg vir oorlewing en vir hulle taal in die hierdie land, maak dit hulle mal mense?” Bertha se preek is nog vars in my geheue.
Nou lag hy eers. “Ek praat van jou voorvaders lank voor die Voortrekkers.”
“Wie?”
“Wat was jou nooiensvan?”
“Store. So?”
“Wat beteken dit en waar kom dit vandaan?”
“Winkel,” basuin Herman dit uit. “Dit kom van Engels af.”
Sy pa skud sy kop. “Probeer weer.”
“Dit is Noors vir groot riviervis,” antwoord ek vies.
“Noors? Ma is familie van Hagar die Verskriklike?” Herman lag harder as sy pa. “Dit is waar die rooi hare en die humeur vandaan kom.”
“Einste,” sê Dietmar. “Weet jy waar kom die Afrikaanse woord berserker vandaan?”
Ons kind skud sy kop.
“Van Oud-Noors. Dit beteken beer en hemde. Met ander woorde die Vikings het klere van diervelle gedra. Stel jou voor hier kom ’n klomp groot, sterk dieragtige wesens vol woede op jou afgestorm. Jy moet weet, die ou Vikings het geen vrees geken nie.”
“Ek bedinges my. Ek en Pa beter nie moeilikheid soek met onse Helga nie,” lag Herman.
“Ekskuus. Waar kom jou en jou pa se name en ons van, Scholtz, vandaan? Van Duits. Hitler, die mal man, was een van julle voorgeslagte, maar nie van myne nie.”
Herman frons kamtig ernstig. “So, ek is ’n nageslag van Hagar en Hitler? Die een het sy alie gesien, maar die ander een het vir eeue lank ’n groot gedeelte van die wêreld oorheers. Wie is ek? Die een wat sy alie gesien het of die een wat oorheers het?”
“Daar is iets van albei wat in jou voortleef, net soos in al ons Afrikaners. Wenners en verloorders, goed en sleg, soos in alle mense,” antwoord Dietmar meer ernstig. “Die Afrikaner is ’n mengelmoes van nasies en so het ons taal ontstaan.”
“Maar dit is wie ons is en Afrikaans is ons taal. Bertha het my juis gister weer so sleg laat voel omdat ons nie opstaan en veg daarvoor nie.”
“O,” gaan daar lig vir Dietmar op. “Dit is oor die aankondiging dat die president die Bela-wet onderteken het dat jy netnou so ontsteld geraak het en sommer die TV afgesit het.”
“’n Wet? My fok, Ma, wat het ek daarmee uit te waai? Vir wat raak Ma vir my daaroor kwaad?”
“Herman! Dit is nie nodig om kru te raak nie.”
“Sorry.” Hy gee ’n ondeunde laggie. “Ten minste het ek in Afrikaans kru geraak.”
“’n Vieslike woord uit Engels oorgeneem.”
Vanaf sy stoel knipoog Dietmar vir ons seun. “Net mense met vuil gedagtes sal dit as vieslik beskou. Ons wat rein van gemoed is, sê fok kom van focke – klein seil – uit Middelnederlands.”
Herman skaterlag. “Presies. Net soos Pa sê.”
Ek moet glimlag. “Ja, toe.”
“Ma het nog nie gesê wat ek met daai wet uit te waai het nie.”
“Weet jy ooit wat die Bela-wet is?”
“AfriForum se ouens gaan gereeld daaroor tekere. Ek dink dit het iets met taal te doen.”
“Onder andere,” sê Dietmar met ’n verlangende kyk na die TV. “Dit staan vir Basic Education Laws Amendment. Ek wonder of die sport al verby is?”
“Wat de f ... Wat de duiwel het ek met education te doen? Julle is die onderwysers, nie ek nie. Ma ‘oukei’ en ‘orraait’ ook links en regs en nou preek Ma skielik vir my. Ek praat Eng-Afrikaans, nes Ma.”
“Ek praat g’n Eng-Afrikaans nie. Daar is goed soos leenwoorde.”
“Rentia, Herman is reg. Jy was nog nooit ’n taalpuris nie.”
“Ag, dit is seker so, Dietmar, maar Bertha het ’n punt. Herman en die res van ons jeug behoort ons taal se toekoms te wees.”
“En ons is. Wat is Ma se punt?”
“Jou ma se punt is dat ons soos die Engelse van destyds moet maak. Elke keer as jy ’n Engelse woord gebruik, moet ons vir jou donkie-ore aansit en ’n plakkaat om jou nek hang met die woorde: I am a donkey.”
Herman se oë rek. “Not a fok.”
Dietmar lag ondeund. “Presies. Die Engelse het dit nie daai tyd met die ouer skoolseuns gewaag nie. Hulle sou gebliksem gewees het.”
“Dietmar! G’n wonder Herman vloek soos ’n matroos nie.”
“Wat? Ek praat net goeie Afrikaans.”
“Pa doen,” grinnik Herman. “Ma behoort te weet dat elke keer wanneer daar ’n storm is, dan donder en bliksem dit buite.”
“Ja, toe. Ek wens jy was so slim met jou skoolwerk.”
“Het Pa gehoor wat gebeur het nadat die Engelsman vir Koos van der Merwe sy sigaret aangesteek het?”
“Nee.”
“Baie dankie, het Koos gesê. Die Engelsman kyk hom verbaas aan en sê toe: No, thank you. I don’t want to buy a donkey.”
Pa en seun skater asof dit die beste grap ooit is. Aardjie na sy vaartjie.
“Herman, grappies op ’n stokkie. Sal jy asseblief probeer om op jou eie ons taal se geskiedenis te gaan navors?”
Hy frons. “Hoekom?”
“Want jy weet niks daarvan nie.”
“Rentia, as ons dit nie destyds op skool geleer het nie, sou ons dit ook nie geken het nie,” keer Dietmar.
“Presies. Dit is hoekom Herman dit self moet gaan doen.” Ek vat my kind aan sy arm. “En probeer asseblief om Afrikaans reg te praat.”
“Ag, oukei. Enige iets om Ma se gewete te reinig sodat Ma by tannie Bertha kan brag – ekskuus, kan spog – oor Ma se telg wat hogere Afrikaans besig.”
Ek klim moeg uit die motor. Geskiedenis is deesdae vir my ’n uitdaging om met ’n rein gewete aan te bied. Die huidige leerplan is net so eensydig soos die ou apartheidjare s’n, maar net na die ander kant toe. G’n wonder Herman weet nie eens wie Andries Pretorius of Piet Retief is nie. Hy weet darem baie goed wie Jan van Riebeeck is. Die wit “grondsteler” is een van die hoofspelers in die nuwe leerplan.
Toe ek die voordeur oopmaak, begroet ’n donkie se gebalk my. Net daarna begin Chris Blignaut uit volle bors sing: “O, die donkie is ’n wonderlike ding. / Ja-nee, die donkie is ’n wonderlike ding. / Die donkie is ’n bonkel, hy’s ’n boetie van ’n muil. / Sien die een die ander dan begin hy sommer huil ...”
My kind staan in die sitkamer met sy tablet en sing uit volle bors saam: “Ja, die donkie, o die donkie / die donkie is ’n wonderlike ding. / Sy kop is so groot, dit lig sy agterpoot, o die donkie is ’n wonderlike ding ...”
“Sit af,” skree ek.
Die vertrek word stil. “Ek het net gedoen wat Ma gevra het. Ek het gaan navorsing doen. Hierdie is een van die gewildste Afrikaanse liedjies ooit. Ek dink dit kom uit die 1930’s. Maar daar is een wat baie ouer is. Ken Ma dit?”
“Nee.”
“Het Volksblad in 1860 geskryf van ’n ou wat dronk in die straat geslinger en verdrietig gesing het: ‘Alie, mijn Alie, gij kost mijn nog mijn nek / zonder mijn Alie wil ek liewers vrek.’” Hy skater. “Ek kan dit nie sing nie, want hulle het nie die wysie saamgegee nie.”
“Klink vir my maar na ’n lawwe liedjie.”
“Jeez ... Sorry ... Ag, ek bedoel, jammer. Ek moes my humorsin seker van die Duitsers gekry het, want Ma het niks, zilch, zero daarvan. Ek kan vir Ma ‘Die sterwende kind’ van die Briels sing as dit Ma sal laat beter voel.”
“Nee, asseblief tog nie. Ek het eintlik bedoel jy moet die oorsprong van Afrikaans, ons taal, gaan navors.”
“En ek het. Sang is deel van ons taal en ons kultuur, maar ek het ook op Google gaan lees oor daardie Genootskap van Regte Afrikaner-latte. Arnoldus Pannevis, die Du Toit’s, Malherbe en ’n paar ander. Die meeste van hulle was Franse, nie Nederlanders nie. Dit is vir my snaaks.”
Dietmar kom by die voordeur ingeloop. “Waaroor praat julle?”
“Waaroor dink Pa? Vandat Ma saam met tannie Bertha gekuier het, is daar mos net een topic, ag, ek bedoel, onderwerp.”
Dietmar se mondhoeke trek boontoe. “Ons moedertaal.”
“Jip. Ek het nooit geweet hoekom Afrikaans ’n kombuistaal genoem word nie, maar nou weet ek. Pannevis – jig, ek is bly ek het nie so ’n van nie – het agtergekom dat die wittes hier aan die suidelike punt van Afrika nie meer goeie Nederlands kon praat het nie omdat hulle met so baie ander nasies soos die Franse, Duitsers, Nore en wie weet wat vermeng het, net soos Pa vertel het. Die Khoi-Khoi, maar veral die Maleiers – slawe, mense wat in die kombuise gewerk het – het vir baie van die woorde in ons taal gesorg.”
Dietmar slaan sy arm om ons kind. Trots straal uit hom.
Ek kan sien Bertha geniet my melktert en koeksisters. Haar grootjies en oorgrootjies sou beswaarlik beter kon doen.
Die voordeur vlieg oop en Herman en Klasie Stuurman kom ingeloop.
“Aweh, anties,” groet Klasie beleefd.
Bertha se rug trek kiertsregop. “Goeiemiddag.”
Herman se oog vang myne en sy mondhoeke trek boontoe. Ek weet hier kom ’n ding.
“Tannie se seun, Johan, studeer mos op Stellenbosch?”
“Ja?”
“Nee, maar dan kan Tannie mos vir Klasie goeie raad gee. Sy pa wil hom nie volgende jaar Stellenbosch toe stuur nie, want hy sê hulle diskrimineer teen Afrikaans.”
Dit vang Bertha onkant. Sy draai na Klasie. “Afrikaans is vir jou pa belangrik, maar jy noem my antie?”
“Ja, Antie. Ons praat Kaapse Afrikaans. Ons is kreoolse mense. Myse pa sê ons is ’n mix van 195 verskillende bloedlyne.”
“Nog meer as die Afrikaners s’n. Hulle gaan nooit boggelrûe en skeel oë hê soos die Europese adellikes met hulle baie ondertrouery nie,” lag Herman. “Het Tannie geweet Afrikaanse dialekte is in drie hoofgroepe verdeel: Kaapse Afrikaans, Oosgrens-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans?”
“Ja,” sê sy styf, “maar daar moet ’n standaard wees. Anders gaan ons mekaar naderhand nie meer verstaan nie.”
Herman knipoog vir my. “Ek dink nie dit is ’n probleem nie. Kaaps stem baie ooreenstem met Nederlands.”
“Dit doen?”
“Ja. Ek het die volgende sinne op Google uit my kop uit geleer spesiaal vir my ma en vir Tannie: En ik zeg tegen jullie: Wat zoeken jullie hier bij mij? Ik zoek jullie niet! Nee, ga nu weg!”
“En ek sê vir julle, wat soek julle hier by my? Ek soek julle nie! Nee, gaan nou weg!” vertaal Bertha onwillekeurig.
“Presies,” beaam Herman. “Klasie, hoe sê julle dit in Kaaps?”
“En ik seg ve’ djille, wat soek djille hie’ by my? Ik soek’ie ve’ djille nie! Nei, gaat nou weg!”
“Ja, Kaaps is baie naby aan Nederlands,” gee Bertha toe.
“Daar is nou ’n Drietalige Kaapse Woordeboek.” Klasie gloei van trots.
“Kaaps loop dieselfde paadjie as Afrikaans,” smee Herman die yster terwyl dit warm is.
“Daar word gesê dat dit nie goed genoeg is vir gebruik op skole en universiteite nie en dat dit ’n kombuisvorm van Afrikaans is – net soos hulle destyds gesê het dat Afrikaans ’n kombuisvorm van Nederlands is.”
Bertha se skouers trek loodreg. “Klasie, dan moet julle so steeks soos donkies raak. Ons Afrikaanssprekendes kan die mense nie toelaat om hulle sin te kry nie.”
“Antie, ek wil in Afrikaans op Stellenbosch gaan swot, maar myse pa is kwaad vir hulle oor hulle se taalbeleid.”
“Dit is jou reg om in jou moedertaal te studeer,” sê Bertha vurig. “Wat die universiteit deesdae doen, is in direkte teenstelling met die reg in artikel 29(2) van die Grondwet op onderrig in die taal van jou keuse.”
“Myse pa sal liewe dat ek by Ikeys in Engels gaan swot, net om hulle ’n punt te druk.”
“Hy moenie net omrol en dood speel nie. Gee vir my sy selfoonnommer; ek sal met hom praat. Hy moet aansluit by ons ouers wat veg vir ons taal.”
Herman fluister in my oor: “Tannie Bertha is in Klasie se sak. Sien Ma hoe ver het ons jeug gekom? Ons verenig; ons verdeel nie.” Hardop sê hy: “Tannie Bertha, kan ek vir Tannie een van die gewildste liedjies in Afrikaans speel?”
Sy knik en oomblikke later weerklink die gebalk van ’n donkie en Chris Blignaut val weg met “O, die donkie is ’n wonderlike ding ...”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

