Nzimande se uitspraak bewys dat taalregte en -sensitiwiteite nog nie behoorlik verstaan word nie

  • 0

Die uitlatings deur die Minister van Hoër Onderwys, dr Blade Nzimande dat hy nie sal toelaat dat enige student toegang tot ? hoëronderwys-instelling geweier sal word nie, al is dit op grond van taal, wys dat taalregte en –sensitiwiteite nog nie behoorlik verstaan word nie. Dit is die mening van Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.

Die eerste wanopvatting is dat Afrikaans net wit is. Die 2011-sensus wys duidelik dat Afrikaans huistaalsprekers uit 50% bruin, 40% wit, 9% swart en 1% Asiër Suid-Afrikaners bestaan. Verder is die aanvraag na Afrikaanse projekte van die ATKV deur addisionele taalsprekers oorweldigend. Die totale aantal Suid-Afrikaners wat daagliks met Afrikaans omgaan, is waarskynlik 20 miljoen. En nie almal is wit nie!

Die krag van moedertaalonderrig is ook al oor en oor bewys. Dit is dus dom as bestaande moedertaal-instellings vernietig word en nuwes gestop word. Die gehalte van onderwys en die kundigheid van leerders en studente kan net verbeter indien ons moedertaalonderrig uitbrei.

“Dis tyd dat ons ideologie en wanpersepsies uit die weg ruim en meer met mekaar moet praat oor praktiese wyses hoe ons te werk kan gaan om die beste uitkomste te verseker”, het Gouws gesê. “Ons moet ook seker maak dat ons grondwetlike regte in terme van onder andere onderwys en tale, nagekom word”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top