Nuwe vaartbelynde kabinet, of slegs kosmetiese veranderinge?

  • 1

Soveel is al oor die nuwe kabinet gesê en geskryf dat daar oënskynlik niks oorbly om op te haal nie. Maar soos te verwagte is daar wel iets wat agterweë gebly het, en dis ewe veelseggend dat dit so te sê geen aandag gekry het nie – ten minste nie wat ek kon raaksien nie.

’n Mens kan dit gebruik as ’n haak om gal te braak oor die miskenning van die kunste, maar eintlik is dit ’n simptoom van ’n veel dieper gebrek, een wat aan die fondamente van ons saambestaan in hierdie streke van die wêreld knaag.

Ek praat nie net van die samesmelting van die Departemente van Kuns en Kultuur en Sport en Ontspanning nie – dis lankal voorspel en dit is ook uitgewys dat dit gewigtige sake gelykstel aan frivoliteit – maar van die behoud van een van die powerste ministers in Cyril Ramaphosa se bestuurspan vir die land, Nathi Mthethwa.

Toe Mthetwa in 2014 met Jacob Zuma uitval, kon die eertydse president hom afgedank het of gedemoveer het as minister van polisie. Hy het egter iets ergers gedoen: hom minister van kuns en kultuur gemaak. Moontlik was dit uit weerwraak teen die wêreld van die kunste vir die beproewing wat hy moes ondergaan met die sage rondom The Spear van Brett Murray.

Maar dit het weer eens gewys wat regerings wêreldwyd doen, en ook die ou Nasionale Party-regering gedoen het: om kuns en kultuur as rommelhoop vir politieke loopbane te gebruik. Behalwe die ou koloniale lande, en nuwe sterre soos Suid-Korea of Noorweë. In die VSA en Brittanje byvoorbeeld gebruik regerings kuns en kultuur om die toon te bly aangee, om hul koloniale praktyke voort te sit, op so ’n deeglike manier dat ons ons lewens nie sonder hul produkte kan voorstel nie.

Mthethwa, het die kulturele kritikus Chris Thurman geskryf, gee nie ’n duit om vir sy portefeulje nie. Op verskillende maniere het hy laat blyk hy sien kunstenaars se taak as om propaganda vir die staat te maak, en dat hy nie dink vryheid van spraak maak soveel saak nie. Destyds met die moles om die verbanning van die rolprent Inxeba was hy nêrens te sien nie.

Hy het ook al die Brics-lande aangeprys as modelle vir Suid-Afrika se rolprentbedryf. ’n Land soos China, het ons minister op ’n kol gesê, weet wat sy nasionale belang is. Jy gaan soontoe en “you get it”. Dis nou die land wat vele van sy kunstenaars en skrywers, of hulle nou akkolades soos die Nobelprys wen of nie, in sy tronke opsluit.

’n Groep kultuuraktiviste het in ’n ope brief aan Ramaphosa gevra om tog ’n behoorlike kultuurminister aan te stel, en voorgestel dit kan iemand uit die burgery wees wat weet wat hy of sy doen. Maar verniet – Mthethwa is weer daar.

’n Mens moet seker hande klap oor die res van die kabinet. Goeie mense is behou, en die meeste skerminkels is die trekpas gegee. Maar ons is ook so verheug oor enigiets wat beter lyk as Zuma se vernietigende aksies dat ons ’n paar dinge miskyk. Verskeie kommentators het daarop gewys dat Ramaphosa se span nie eintlik kleiner is nie – daar is nou meer adjunkministers.

Hierop kan ’n mens antwoord dat Ramaphosa miskien noodgedwonge moes sorg dat daar genoeg lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee nuwe karre, huise, kredietkaarte, nuwe gordyne en ekstra bediendes kry om seker te maak dat daar nie groepe met kritieke massa oorbly wat uit jaloesie probleme kan skep nie.

Feit bly staan, die gordel is nie regtig ingetrek nie; die boep sit net op ’n ander plek.

Dit is om verskeie redes ’n goeie ding dat Gordhan aanbly; dis die beste kans vir Ramaphosa om Eskom ens te probeer regruk. Maar dis ook ’n feit dat Gordhan steeds ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is. As dit die rede is waarom Eskom se hoogs uitsonderlike personeeltal nog nie uitgedun is nie, spel dit swarigheid vorentoe. Dis ook geen goeie teken dat die nuwe Departement van Arbeid en Indiensneming aangevoer gaan word deur die nommer 2 in die SAKP nie, Thulas Nxesi, ook ’n voormalige algemene sekretaris van die onderwysunie Sadou. (Toe hy gevra is wat hy gaan doen om werk te skep, het hy geantwoord hy kan nie sê nie, hy moet eers sy amptenare raadpleeg.)

Die probleem is nie net dat aksie wat gekompromitteer is deur kommunistiese oorwegings, nie sal help om Eskom se yslike skuld te hanteer nie; dit dui op ’n filosofie van die staatsdiens as ’n laer vir onbevoegde ANC-mense wat in stand gehou gaan word, net soos 50% van alle wit Afrikaanssprekendes op ’n punt deel van die Nasionale Party se staatsdiens was.

Dit is ’n vreemd konserwatiewe, selfs outokratiese bestel. Dit maak staat op die verskaffing van inkomste deur belasting deur dieselfde ou garde wat Suid-Afrika nog altyd die kolonie gehou het wat dit nog maar steeds is – die anglosentriese, “witheid”- en manlik-gedomineerde agente vir multinasionale belange waarteen die ANC maak of dit baklei.

Ten einde te sorg dat Suid-Afrika nie veel verder vorder as ’n verskaffer van grondstowwe vir die sentrum nie, was die beleidsrigting van die meeste van sy koloniale regerings sterk ekonomisties van aard. Sy ingenieurs en tegnici is aangemoedig om die toon aan te gee, en het beduidende bydraes op vele gebiede gelewer, en doen dit nog steeds. Maar dieselfde het nooit regtig gegeld vir ander talente nie.

Suid-Afrika was eerder nog altyd ’n mark vir kultuurprodukte, en veral die neokoloniale moondheid Amerika leun sterk vir sy ekonomiese winsmarges op kultuurprodukte, van Superman comics tot Spotify. ’n Enkele voorbeeld: vir elke R1 wat aan ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar aan tantieme betaal word, gaan R200 na oorsese kunstenaars.

Ramaphosa se retoriek is deurspek met dieselfde ekonomistiese slagspreuke as Zuma s’n, en die ou koloniale bewinde van ouds; daar is net groter sofistikasie en begrip vir takt en burgerlike diplomasie. Die simptoom hiervan is juis die geringskatting van sektore in die kunste en kulture van die land op ’n erg onrevolusionêre manier.

Kultuurprodukte is reeds, ná wapens, die tweede hoogste verdiener van buitelandse valuta vir vele gevorderde lande. Met die aanbreek van die veel geloofde vierde industriële revolusie word hierdie oorheersing net verder verstewig.

Dit lyk nie of Ramaphosa dit gaan regkry om ’n industriële gemeenskap hier te vestig as hy nie staatsamptenare op groot skaal wil afdank nie. (Maar miskien verras hy ons tog.) Hoewel hy ’n raad aangestel het om hom te adviseer oor die koms van die robotte, lyk dit ook nie of daar enige begrip is van die totaal anderse benadering as net die konvensioneel ekonomistiese wat gaan nodig wees as ons wil bybly by die nuutste ontwikkelinge nie.

Dit sou nou waarlik vooruitgang gewees het as ons sê maar ’n Departement van Kennis en Kultuur kon gekry het. Dan sou ons soos Suid-Korea byvoorbeeld staatshulp gee aan enigiets van videospeletjiekampioenskappe tot beurse vir eietydse klassieke musiek. Suid-Afrika se mees ontginbare grondstof is nie sy goud of sy landbou nie, maar in die kennisekonomie sy veelvoud aan tale en kulture. So ’n departement sou hom rig op vernuwing en kreatiwiteit oor die volle spektrum van menslike aktiwiteit heen, met die klem op kruisbestuiwing en veelvaardigheid. Ook sou sy amptenare beleid opstel om opvoeding te dryf as die summum bonum van regeringsaktiwiteite, met onderrig in alle tale en op alle ouderdomme, van jou suigelingjare tot jou oudag, as die fondament.

  • 1

Kommentaar

  • Die probleem is mi dat ons as wittes gesien ons verlede geneig is om dinge uit ons meer Westerse kultuur te beoordeel en dan vergeet dat die ANC se beleid gegrond is op sy Vryheidsmanifes en dat dit ook nie kan bekostig om sy alliansievennote in sy stryd teen apartheid te vervreem nie.
    Kyk gerus wat doen 'n metroraad soos Ekurhuleni om mense tevrede in minder gegoede gebiede te hou.
    Contribution for Bad Debt R 1 445 795 514 – 2018/2019-begroting. Ja, dit is amper R1,5 miljard en dit word jaarliks afgeskryf. Teen die trant sal die metro binne 'n dekade slegte skuld afskryf gelykstaande aan die beraamde koste van die Gauteng-tolstelsel.
    'n Voorstel om 'Contribution for bad debt' te verander na 'Provision for debt impairment' sien ek het nog nie die paal gehaal nie. Snaaks genoeg in dieselfde trant koop 'n mens nie meer 'n tweede- of derdehandse voertuig nie, maar wel 'n 'previously owned' asof so 'n voertuig nou in 'n beter toestand as 'n tweedehandse een sou wees.
    Die president is dus met 'n balanseertoertjie besig en mens moet hoop en bid dat hy sy balans behou en ons nie saam met hom nie in in 'n fiskale afgrond beland nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top