Nuwe Stories-onderhoud: Wilken Calitz

  • 0

1. Wie is Wilken Calitz?

Hy dra soms ’n skryfhoed en ander kere een met musieknote op. Hulle pas selde saam op sy kop, maar wanneer dit wel gebeur in een projek of tematies in ’n storie, dan trek sy binnegoed knop van die plesier.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

  • Kleilat-spelerige seun in Pretoria.
  • ’n Aversie vir stories of boeke as gevolg van ’n onderwyseres wat ons klas ’n jaar lank laat Kringe in ’n bos lees het en die vele betekenise van “kringe” tot oormate toe laat bedink het.
  • 2007. Een lang Desembervakansie. ’n Liefdesteleurstelling in Stilbaai en ’n meisie wat Sewe dae by die Silbersteins (as troosprys) in my hand stop.
  • ’n Sabbatsreis deur Etienne Le Roux se oeuvre en slapelose nagte oor ek niks verstaan nie.
  • 2009-erig: Waag hand versigtig aan eie pen en idees. Dit laat my lekker voel. Binne-in. 

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Die verhouding tussen broers is baie kompleks. Dit kan óf vriendskaplik wees of heeltemal vyandig. Die probleem kom met die tussen-in tipe verhouding: nie heeltemal haat nie en nie heeltemal afskryf nie. “Fratres” handel oor een dag in die lewe van twee broers wat hulself ten opsigte van mekaar probeer kalibreer.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Etienne Leroux – ’n verhaal hoef nie net een betekenis te hê nie.
Eben Venter – ’n enkele goeie karakter maak of breek ’n boek.
Nabokov – It’s not the “what” you write about, but the “how”.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Die verhaal van Antjie Somers. Dit laat my elke keer rillings kry. Die prentjie in my kop is ’n man wat soos Mary Poppins aantrek en kinders eet!

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Om ’n lewe daaruit te kan maak en om verbaas te bly oor die genot wat ’n goeie twist in ’n storie my kan verskaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top