Nuwe Stories-onderhoud: Philip Brand

  • 0

1. Wie is Philip Brand?

’n Jongman van 23 met ’n ligte “OCD condition” en ’n “somewhat wild imagination”. Ek is Afrikaans grootgemaak, maar as dit by skryf kom, is Engels eintlik my taal. As ’n rebelse tiener het ek die skool gelos en begin werk. Spyt het natuurlik later ingeskop en so het ek in 2009 my matriek op my eie geslaag (al was dit net-net). Tans is ek ’n werknemer by ’n plaaslike drankwinkel en probeer ek om my BEd deur Unisa te begin. My dryfwoorde in die lewe is “familie”, “eer”, “trots” en “liefde” – in daardie volgorde.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

In standerd 8 (graad 10) het ons ’n “essay” geskryf vir die Engels Eerste Taal-klas. My liefde vir fantasieverhale het totaal uit die bloute beheer oor my geneem. Heeltemal onverwags het ek ’n beter punt behaal as die top-presteerder (wat ook my enigste klasvriend was op daardie stadium). My vriend het natuurlik sy stuk oorgeskryf om ’n beter punt te kry, maar die oorwinning was steeds myne. Dit was op daardie oomblik dat die liefde vir skryf by my ontwaak het en ek myself met tyd maar begin leer het.

Hierna het ek die “ups and downs” van die skrywerslewe begin beleef met die een “rejection letter” na die ander. (Natuurlik was ek ook nog veels te jonk en onervare). Ook het ek in nie net een nie, maar twee strikke geval van oorsese publiseerders wat my werk aanvaar en net so ’n klein sommetjie geld vra vir die begin van die publikasieproses. Met die eerste bedrag moes ek my eerste voertuig verkoop en het ek nie weer ’n sent gesien of ’n woord gehoor nie. (Ek was “hoog” op al my drome en hoop vir publikasie.) Met die tweede was ek gelukkig meer ervare en kon ek vroegtydig die proses stopsit.

Met báie hulp van ’n liewe tante het ek weer moed gekry en toe ook later begin Afrikaans skryf. So ’n paar kortverhale later kom ek toe op die Nuwe Stories-kompetisie af en neem toe sommer deel met ’n paar inskrywings. Ek het nie terugvoer verwag nie, maar hier is ek nou met die onderhoud vir “Gewapende kerkgangers” besig. Kan dit steeds nie werklik glo nie.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Die verhaal was die natuurlikste van my drie inskrywings. Waar ek baie tyd aan die ander twee moes spandeer, het hierdie een net eenvoudig uit my gevloei en op die rekenaar beland. Dit was en is steeds my gunsteling van al my Afrikaanse werke. Ek kon maklik in die hoofkarakter se kop klim met behulp van persoonlike ervaringe.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Stephen King sal altyd heel bo wees, die koning van letterkunde volgens my. Niemand kom naby aan daai man se skrywe nie, hy is net eenvoudig briljant. Uit my liefde vir fantasie (en omdat daar ’n baie klein Suid-Afrikaanse mark is vir fantasie in Engels of Afrikaans), is George RR Martin tweede met sy Game of Thrones-reeks. Ek is baie lief vir tradisionele fantasie, en sy weergawe daarvan is vir my baie goed. In Afrikaans staan die misdaadskrywer Deon Meyer vir my uit bo die res.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Ek het eintlik baie gunstelinge, verskillende stories en boeke wat ’n impak op my gemaak het. Een van dié is ’n kortverhaal getitel “Vendetta” wat ek op skool gelees het. Die storie sal my seker altyd bybly, van hoe die karakter sy hond laat honger ly het, dan elke paar dae ’n string wors om ’n graspop se nek vasgemaak het, en wanneer hy die hond loslaat, ’n sekere wagwoord gebruik en die hond dan die pop se nek verslind agter die wors aan. Op die ou end het die karakter die skurk gekry wat hom kwaad aangedoen het en met die spreek van die wagwoord het die hond die skurk se keel verslind. Dis vir my ’n vreeslike interessante manier van doen, asook ’n goeie voorbeeld van hoe wrok kan bou en kwaad ’n mens se gedagtes kan dryf na dinge waaraan jy nooit kon dink nie.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek vat dit deesdae maar net dag vir dag. Met die ure wat ek werk, is daar selde kans vir skryf en is ek die meeste van die tyd te moeg, maar ek geniet steeds die tye wat ek wel kan afknyp daarvoor. Op hierdie stadium wil ek net druk om my eerste Afrikaanse jeugboek ten minste teen volgende jaar uit te hê, en wil ek ook iets soortgelyks vir die Engelse mark skryf – hopelik vir oorsee en nie net plaaslik nie. Buiten dit sal die tyd net leer wat volgende sal kom.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top