Nuwe Stories-onderhoud: Marni Bonthuys

  • 0

1. Wie is Marni Bonthuys?

Marni Bonthuys het grootgeword op Upington en woon tans in Somerset-Wes saam met haar man en pragtige babaseuntjie. Sy is besig met haar PhD oor literêre pryse vir Afrikaanse en Nederlandse poësie en doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Ek was van kleins af lief vir lees en skryf. Om ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer was dus ’n voor die hand liggende keuse. My graad het my aan ’n wye verskeidenheid letterkunde blootgestel, wat my belangstelling in skryf aangewakker het. Ek het in my derde jaar en tydens my honneurskursus kreatiewe skryfwerk by Marlene van Niekerk geneem. Dit het my baie geleer en my meer selfvertroue gegee ten opsigte van my skryfwerk. Ek was ook as nagraadse student vir drie jaar betrokke by die organisasie van Ronel Foster se skrywerswerkswinkels – ’n ondervinding wat my belangstelling in skryf en die skryfproses verder geprikkel het.

Hierna is ek as lektor in akademiese geletterdheid aan die Noordwes-Universiteit aangestel, waar ek later ook saam met Hans du Plessis en Franci Greyling skryfkuns doseer het en sporadies by die ATKV se skryfagentskap en skryfskool betrokke was. As jong dosent onder leiding van sulke gesoute akademici en skrywers het ek baie geleer ten opsigte van my eie skryfwerk. Deur krities met studente se skryfwerk om te gaan, kry jy natuurlik ook ‘n beter blik op jou eie werk en raak bewus van jou eie sterk- en swakpunte as skrywer. Tans doseer ek taalverwerwing en Afrikaanse letterkunde aan die UWK en vergader nou en dan saam met ’n informele studenteskryfgroepie van Antjie Krog vir inspirasie. Ek het vir Nuwe stories ingeskryf omdat ek gevoel het ek moet ’n slag ’n kans waag: mens kan nie heeltyd net vir jouself skryf (en eindeloos herskryf) nie.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

My verhaal gaan oor dit wat ná ’n plaasmoord met die slagoffers se familie gebeur. Dit gaan dus oor die impak (en verwerking) van trauma en geweld. Familie en familieverhoudinge is verder ’n sentrale tema.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek hou van die magies-realistiese element in sommige van Etienne van Heerden se romans, asook sy en Eben Venter se weergawes van die tradisionele Afrikaanse plaasroman; die wyse waarop Dan Sleigh die storie ágter ’n historiese gegewe kan vertel, asook die ongelooflike hoeveelheid noukeurig-nagevorste besonderhede wat hy by sy stories invleg om dit so geloofwaardig moontlik te maak; en die humor, intrige en uitstekende karaktersketsings in Kate Atkinson se romans.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Ek is lief vir stories en het baie gunstelinge. My grootste gunstelinge is waarskynlik stories oor Suid-Afrika se geskiedenis: die mengelmoes van elemente eie aan Afrika, Europa en die Ooste is fassinerend.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

My baas en studieleier sal bly wees om te weet dat dit my vyfjaarplan is om my PhD klaar te skryf!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top