Nuwe Stories-onderhoud: Henali Kuit

  • 0

1. Wie is Henali Kuit?

Ek is in Pretoria gebore en het daar grootgeword. Ek is nou 23.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

1. Toe ek klein was, het my ouers baie vir my gelees. Boeke en stories het my nog altyd laat lekker voel.

2. Op skool het ek graag ingeskryf vir skool-skryfkompetisies.

3. Op universiteit het ek ’n paar kursusse in kreatiewe skryfwerk geloop. Ek het ook vir kampuskoerante geskryf. Dit het my gehelp om beter te skryf.

4. Ek het een aand Bybel gelees en op ’n versie oor drome afgekom. Ek is ’n groot dromer en die woorde het in my kop begin draal. Ek het die versie gebruik om ’n kortverhaal te skryf.

5. ’n Vriend van my, Armand Fourie – wat ook in Nuwe Stories gepubliseer word – het my herinner aan ’n advertensie wat ons oor Nuwe Stories gesien het en ek het hierdie verhaal ingeskryf.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Alles kom tot niks is ’n storie oor hoe moeilik dit is om ’n gemaklike afstand tussen jou en jou medemens te behou.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek is mal oor Eben Venter. As tiener het ek Ek stamel, ek sterwe opgetel. Ek was verskriklik ontroer deur die storie en erg opgewonde oor die skryfwerk. Om die waarheid te sê, dit was vir my ontnugterend (selfs ’n bietjie traumaties) om te voel hoe diep ek geraak kon word deur ’n boek. Venter se werk is sedertdien vir my baie belangrik.

Nes enige ander regdenkende mens hou ek ook baie van Marlene van Niekerk.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Ek het gedink ek het een totdat ek nou pas hard probeer het om ’n oulike antwoord vir hierdie vraag uit te dink.

Dis so lekker as iemand ’n storie vertel van wat hulle by die werk gedoen het toe die kantoor vir ’n slag leeg was, of oor hoe hulle vanoggend hulle hare met conditioner in plaas van sjampoe gewas het. Daar is so baie van hierdie skynbaar banale stories waaroor ek mal is, maar ek het nie naastenby genoeg vaardigheid of talent om hierdie stories só op te skryf dat hulle tot hul reg kom nie.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek het gedink ek het een totdat ek nou pas hard probeer het om ’n oulike antwoord vir hierdie vraag uit te dink.

Dis so lekker as iemand ’n storie vertel van wat hulle by die werk gedoen het toe die kantoor vir ’n slag leeg was, of oor hoe hulle vanoggend hulle hare met conditioner in plaas van sjampoe gewas het. Daar is so baie van hierdie skynbaar banale stories waaroor ek mal is, maar ek het nie naastenby genoeg vaardigheid of talent om hierdie stories só op te skryf dat hulle tot hul reg kom nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top