Nuwe Stories-onderhoud: Constant van Graan

  • 0

1. Wie is Constant van Graan?

Ek is ’n bedrogondersoeker, skrywer, musikant en gholf-fanatikus (met ’n baie slegte voorgee!). Ek woon en werk in Windhoek, maar kies gereeld koers na afgeleë plekke om my battery weer te laai.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

    • Dit het begin in my kinderdae. My liefde vir letterkunde is deur my ma en ouma, albei gewese Afrikaans-onderwysers, gekweek. Dit het begin as gedigte voordra by kunswedstryde, en later gegroei tot storie- en liedjieskryf op hoërskool. 
    • Op universiteit byt die skryfgogga my toe behoorlik, en ek begin eerstejaarskonserte, tonele en sêrkomposisies vir Laureus, my koshuis, skryf.
    • En toe kom die kortverhale. Eers een, toe twee en toe sommer ’n klomp. Ek stuur toe van my verhale na tydskrifte, maar hulle stel net in gevestigde skrywers belang.
    • Ná die hoeveelste tydskrif my afkeur, soek ek eendag op die internet vir enige kortverhaalkompetisies. Dadelik verskyn Nuwe Stories 2012-kortverhaalwedstryd op die soeklys.
    • Ek skryf in, en maande later, tot my verbasing, hoor ek ek is een van die gelukkige finaliste wie se kortverhaal gepubliseer gaan word in Nuwe Stories 2012.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Dit vertel die storie van iemand met ’n groot droom, maar wat erge teenkanting van haar ma ervaar. En dan aan ’n plan dink om haar droom tog te bewaarheid.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Wanneer dit by kortverhale kom, is ek ’n baie groot aanhanger van Riana Scheepers. Sy het die unieke vermoë om lewe aan ’n storie te gee. Haar skryfstyl is eenvoudig, tog skeppend. En sy hou van reis, wat beteken sy skryf dikwels oor ervarings en belewenisse wat onbekend vir die leser is, en tog, op ’n manier, voel elkeen van haar verhale vreeslik bekend.

Daar is ’n klomp romanskrywers van wie ek hou, maar Deon Meyer bly een van my gunstelinge. Ek kan gou met ’n boek verveeld raak, veral as die boek meer soos ’n geskiedenisles as fiksie voel, maar Deon weet net hoe om my aandag (en my naels kort!) te hou.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Boerneef se “Teen die helling”. Dit is ’n aangrypende kortverhaal wat ’n aantal tydlose kwessies aanspreek, sonder om vir ’n mens te preek. Die wyse waarop dit vertel word, die onderliggende simboliek, sowel as die ontrafeling van die verhaal, is meesterlik.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek dink die volgende stap is om te probeer om ’n roman te skryf en te publiseer. Die skryf en publikasie daarvan is albei natuurlik ’n groot uitdaging, maar ek glo met genoeg harde werk en ambisie is dit moontlik. Oor vyf jaar wil ek ook graag meer Engelse verhale en Afrikaanse dramas op my kerfstok hê, en ’n gevestigde liriekskrywer wees..

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top