Nuwe Stories-onderhoud: Charl Bezuidenhout

  • 0

1. Wie is Charl Bezuidenhout?

Charl is in die Windstad (Port Elizabeth) gebore en was agt jaar rondgewaai. Daarna het hy die dorpslewe ervaar in Humansdorp en toe later in George die werklike paradoks van ’n stad-dorp ervaar. Ek is die oudste van twee. Wel, eintlik is ek een van ’n tweeling. Ek is tans besig met my honneursgraad in rekeningkunde by NMMU en aspireer om ’n geoktrooieerde rekenmeester én ’n gevestigde skrywer te wees. Hoekom met mens net een loopbaan hê? Ek hou van uitdagings, maar dis al wat ek gaan sê. Mens moet mos nie te veel oor jouself praat nie.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

 

Stop 1 was om agter te kom dat ek wel kan skryf. Cliché soos dit ook al mag klink. My eerste verhaal was geskryf in ’n vriend (Louw Breytenbach) se drama-studio in 2010.

Stop 2 was die raad van skryfsters. Sonder dié drie sou ek sekerlik al opgegee het. Myra Lochner het my geleer dat elke storie iewers iemand sal genees. Carina Diedericks-Hugo het my laat besef dat ek wel kan skryf en talent het. Erla Diedericks het my gemotiveerd gehou om my droom na te jaag.

Stop 3: Dink, beplan en staar na ’n leë bladsy. Om iets te skryf wat wel die moeite werd is, is definitief nie maklik nie. Dit vat baie tyd, dink en natuurlik kreatiwiteit.

Stop 4: Laat iemand wat jy vertrou, dit lees. Hier het my ma (my “voice of reason” as ek skryf), my broer (Clive) en vriendin (Charlene) ingekom. Vir jou sal jou storie perfek lyk, maar tog sal dié wat die naaste is aan jou, die waarheid gou genoeg gee.

Stop 5: Lees die storie hardop, maak ’n paar veranderinge en click “Print”. Onseker of die pakkie sy bestemming gaan haal, maar die inskrywing was met hoop gepos. En toe begin die wag ...

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Dit gaan oor drama! Soos in ’n vervalle teater, ’n swart verhoog en ’n bekende akteur. Dit is al wat ek kan sê ...

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

CS Lewis – Hy het Narnia geskryf! Sy ander werke is ook goed.

Ilse Salzwedel – Al haar stories is ware verhale, maar dit lees so lekker soos fiksie.

Anoeschka von Meck – Elke boek is heeltemal anders. Haar beskrywings vervoer jou dadelik weg na haar wêreld. Dit voel of jy die karakters persoonlik ken. Die gebeure persoonlik ervaar het.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

My gunsteling-storie is Annelie Botes se “Skoene vir Kersfees”, waar die kern gaan oor wat jou ouers alles vir jou sal opoffer. Die storie is van toepassing op (byna) almal, sonder dat ons dit werklik besef.

My gunsteling-boek is moeilik om te kies. Die boek wat ek die meeste al gelees het, is Pat Stamatelos se Kroes. Daar is net iets aan daardie boek wat magies is.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Nie regtig nie. Dit klink na ’n goeie idee! Alhoewel ek beplan om voor ek 25 is my eie boek gepubliseer te hê. Dus ’n driejaarplan definitief! En as ek te lank vat, kan dit miskien vyf jaar word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top