Nuwe Stories-onderhoud: Carolyn Meads

  • 0

1. Wie is Carolyn Meads?

Saam met Sarel Seemonster kan ek sê: “Stories is my leeewe!” Ek stel belang in enige medium waarin ’n storie vertel kan word: boeke, blogs, foto’s, video’s, klankopnames, ens. En die internet is my speelplek.

Ek is die besturende redakteur van die literêre webtuiste Books LIVE. My studies het ek aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waar ek honneursgrade in joernalistiek en Afrikaans en Nederlands behaal het. Tans is ek besig met my meestersgraad in Afrikaanse literatuur.

O, en ek probeer ook ’n bietjie skryf ...   

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

My skryfgeskiedenis lyk so:

 

  • Ek het my eerste verhaal in graad 2 geskryf. Dit was ’n “grafiese roman” getiteld Lyn se storie en was losweg op my lewe gegrond. Daarna het ’n verhaal oor die Bybelfiguur Ragab gevolg, wat deur my graad 2-juffrou geprys is. (Dankie Juffrou!)
  • Ek het ’n hele paar keer op skool aan die Eisteddfod deelgeneem en ’n aantal van my verhale het in skoolpublikasies verskyn.
  • In my tweede jaar op universiteit het ek ’n tutoriaalklas in kreatiewe skryfwerk onder leiding van Ashraf Jamal voltooi.
  • Ek was bevoorreg om in my honneursjaar ’n komponent in kreatiewe skryfkunde onder leiding van Marlene van Niekerk te volg. Dit was hoogs intimiderend, maar ek het baie geleer.
  • Die begeerte om te skryf en gepubliseer te word, is nog altyd by my. Daarom het ek die kans aangegryp toe ek die advertensie vir die Nuwe stories-kortverhaalwedstryd sien.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

My verhaal gaan oor ’n universiteitstudent wat op ’n bergklimuitstappie haar crush se oog probeer vang. Sy besluit dan om in ’n yskoue bergpoel te spring ...

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

My gunsteling-skrywers is Ingrid Winterbach, Eben Venter, Etienne van Heerden en Dan Sleigh, omdat hulle op so ’n besonderse manier met taal omgaan. Ek bewonder ook Dan Sleigh se geskiedkundige navorsing.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Dis so moeilik om net een te kies! Maar kom ons sê maar net dat ek ’n teer plekkie vir JRR Tolkien se The Lord of the Rings het. Ek lees nie veel fantasie nie, maar Tolkien se magiese karakters vat jou terug na die slaaptydstories van jou kinderdae, met die verskil dat jy hier met ’n veel langer en meer gesofistikeerde storie te make het. Ek kan nie help om die wêreld wat Tolkien geskep het – tale en geslagsregisters inkluis – te bewonder nie.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Nie eintlik nie, maar ek droom daarvan om ’n roman te skryf...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top