Nuwe Stories-onderhoud: Carla Kargaard

  • 0

1. Wie is Carla Kargaard?

Carla Kargaard is ’n kopieskrywer wat lief is vir allerhande stories … veral lekker stoepstories. (Hoe dan anders as mens van ’n klein Karoo-dorpie af kom!) Carla werk tans as ’n vryskut-skrywer vir ’n Noorweegse universiteit. Sy en haar volksvreemde (Deense) man woon in Somerset-Wes. Sy is besig met haar finale jaar in kreatiewe skryfkuns aan Unisa.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

My reis tot Nuwe Stories het alles in my miniatuur-“cubicle” by die werk begin. Ek was moeg daarvoor om kopie te skryf en onnodige goed aan mense te “verkoop”, toe het ek bietjie op LitNet gaan rondsnuffel en op die kompetisie afgekom. Die inspirasie het getref en “Swem en ander drugs” is sommer so tussen lunch-tyd en tjailatyd gebore. Daardie naweek het ek en my man na ’n plot op Tesselaarsdal gaan kyk en “Vir die eerste keer net Bea” het sommer so saggies en uit die bloute na my toe gekom.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Daar is twee van my verhale in Nuwe Stories opgeneem. “Swem en ander drugs” handel oor ’n rich bitch van Pretoria wat dit waag om vir die heel eerste keer in haar lewe in die see te swem. Ek dink my ouers het hierdie verhaal nogal ontstellend gevind – hulle sou nooit kon geraai het ek ken al daardie lelike woorde nie! “Vir die eerste keer net Bea” het my gevind nadat ek en my man na ’n plot op Tesselaarsdal gaan kyk het. Ek het ’n eensame, kwaai dogtertjie buite op die trappie sien sit en ek kon net droom van wat alles in haar gedagtes aangaan. Gelukkig kon ek in die huis ingaan en haar wêreld so ’n bietjie verken (al kon ek sien sy soek ons glad nie daar nie). Ek het besluit haar naam is Bea en ek het my verbeel hoe dit sou voel om in haar vellies te staan.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek het nog altyd baie van Gert Vlok Nel se gedigte gehou, maar dalk is dit net omdat ons albei van Beaufort-Wes af kom. Nietemin, ek kan my regtig inleef in al die beelde wat hy skep en as sy CD in my kar speel, mag niemand praat nie!

(Dié bekentenis hoort seker eerder op biegnet as op LitNet, maar ek kan regtig ook nie sonder Huisgenoot leef nie! ?)

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

My gunsteling-storie op die oomblik is Dexter. Ek weet dis skandelik dat ek te lui is om die boeke te lees en eerder na die TV-program kyk, maar ek sit nogtans elke aand my naels en afkou in spanning vir wanneer hy uitgevang gaan word.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek het nie regtig ’n groot vyfjaarplan nie, maar ek sou baie graag my hand wou waag aan ’n jeugroman of ’n bundel kortverhale. Ek het hierdie jaar geleer dat ’n mens moet fokus op dit waarin jy goed is, so ek gaan vir eers opgee om shitty poetry te probeer skryf en eerder plein net stories vertel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top