Nuwe Stories-onderhoud: Bibi Slippers

  • 0

1. Wie is Bibi Slippers?

Ek is die redakteur van die afdeling “Nuwe skryfwerk” (met ander woorde poësie en fiksie) op LitNet en die artikelredakteur by die weeklikse tydskrif MyTyd. Ek is besig met ’n MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

My eerste groot skryfsukses was in graad 2, toe ek ’n opstel geskryf het met die titel “Die alfabet”. Dit het groot insigte bevat, soos “J is die tiende letter van die alfabet”, en dit is hoog aangeprys deur my onderwyseres, Juffrou Lizzie Venter.

Later was ek redakteur van die skoolkoerant Die Heuwellander en op hoërskool redakteur van Die Impi.

Ek het tale en beeldende kuns gaan studeer by die Universiteit van Pretoria en besluit dat ek eerder wil skryf as kuns maak.

Na universiteit is ek Nieu-Seeland en Australië toe, waar ek as kopieskrywer gewerk het en uit die groot verlange huis toe erg begin skryf het. Die gedigte wat ek toe geskryf het, is opgeneem in Nuwe Stemme 4.

In 2011 het ek die advertensies gesien vir Nuwe Stories en besluit om my hand aan ’n kortverhaal te waag. Ek wou drie verhale inskryf, maar het bly uitstel tot ’n dag voor die sperstreep en toe net-net een verhaal klaargekry. Ek was baie bly om te hoor hy het deurgeskraap.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

My verhaal gaan oor ’n trend forecaster wat ’n ongemaklike bed present kry. ’n Paar nagte van slapeloosheid lei haar na ’n terugkeer tot die geskrewe woord, iets wat sy jare tevore verruil het ten gunste van die beeld.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek lees teen ’n stink spoed en sonder ophou. Ek is so bietjie verlief op Ivan Vladislavic en probeer daarom gereeld iets van hom lees – op die oomblik is dit Portrait with Keys, wat ’n bedonnerd goeie boek is. Ek het ’n ongesonde obsessie met Anne Carson: sy is die een van die min  skrywers wat ek oor en oor en oor kan en wil lees. Ek is nou net klaar met haar Autobiography of Red en dis die beste boek wat ek nog vanjaar gelees het. My navorsing vir my MA gaan oor haar boek Nox: dit is die mees aantreklike boek in my versameling. My gunsteling-kortverhaalskrywer is Annie Proulx. Ek hou ook van die kortverhale van Dave Eggers, Rachelle Greeff, Henrietta Rose-Innes, SJ Naudé, Julian Barnes en Dan Rhodes.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Dis moeilik, maar kom ons sê I capture the Castle deur Dodi Smith (sy is ook die skrywer van 101 Dalmatians). Ek het ewe veel van die boek en die film gehou – dis baie snaaks en die akteur wat Stephen speel is bitterlik sexy.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

As ek binne die volgende vyf jaar my MA kan klaarmaak, sal ek verskriklik in my skik wees met myself. Op die oomblik probeer ek ’n manuskrip voltooi wat deel vorm van die kursus, en terwyl ek sukkel met die gedigte, maak ek tussen-in notas vir stories.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top