Nuwe Stories-onderhoud: Armand Fourie

  • 0

1. Wie is Armand Fourie?

Armand Fourie is ’n filmmaker, skrywer, musikant en reisiger. Ek is passievol oor kuns in al sy verskillende vorme.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Ek is die hoofsanger in die rockgroep Rhythm of Grace en doen tans nagraadse studie in film by Open Window (School of Visual Communication). In 2010 het ek ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria in joernalistiek ontvang. Ek het daarna ’n merietebeurs aan die Universiteit van Pretoria behaal om my honneursgraad in Engels en kreatiewe skryfkuns in 2011 te voltooi. Tydens my studies het ek as verslaggewer vir Beeld geskryf en van my gedigte is ook opgeneem in die digbundel In Warm Water. In Mei 2012 was ek die regisseur van Open Window se filmadvertensie “The Awakening” vir hulle sosiale-media-bemarkingsveldtog. My draaiboek Stut is in Julie 2012 deur kykNET en NuMetro gekies en vervaardig vir die Silwerskerm Filmfees. In September 2012 was die kortfilm Stut, waarvan ek mederegisseur is, aangewys as een van die top ses kortfilms op die Silwerskerm Filmfees en sal na aanleiding hiervan by NuMetro-teaters vertoon word. Rhythm of Grace se tweede album word tans opgeneem. Ek is ook gelukkig genoeg om die medestigter van die niewinsgewende organisasie Come Alive te wees.

Om die film, niewinsgewende organisasie en rockgroep te ondersteun, besoek gerus die volgende webtuistes:

Rhythm of Grace

Stut

Come Alive

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

“Kampus-kriminologie” is ’n spanningsverhaal wat handel oor ’n eerstejaarstudent, Marieke, wat een aand ná haar kriminologie-semestertoets nie haar beste vriendin kan opspoor nie. Sy vermoed die ergste en kort voor lank agtervolg sy ’n vreemde man deur verlate kampusstraatjies op soek na haar vermiste vriendin. Alles begin so verdag lyk dat dit vir haar amper soos een van die gevallestudies in haar krim-toets voel. Is sy te paranoïes? Is dit ooit móóntlik om “te paranoïes” te wees binne ’n Suid-Afrikaanse milieu?

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Die volgende skrywers inspireer my oor die veelvlakkigheid van hulle tekste sowel as die oorspronklikheid van hul verteltegnieke. Nog iets wat ek baie waardeer van al die volgende skrywers, is dat hulle sterk tematies werk sonder om herhalend of prekerig te raak en terselfdertyd ook mens se siel aanraak. Ek voel hierdie skrywers wy hulself daaraan toe om werklik nuwe stories te vertel. Dié skrywers is:
 
Marita van der Vyver – Bestemmings het my veral geïnspireer; ek droom om eendag van daardie kortverhale in kortfilms te omskep.

Donald Miller – Die eerlikheid van Blue like Jazz het my lewe en my uitkyk op skryfkuns totaal verander.

Henali Kuit, my mede-Nuwe Stories-skrywer – Sy is ’n absoluut inspirerende skryfkuns-maestro; sy het ’n rare intuïtiewe inslag op die konsepte wat sy aandurf. Lees gerus haar verhaal “Alles kom tot niks” in die Nuwe Stories-kortverhaalbundel.

In dramaturgie: PG du Plessis, Bernard Shaw, Peter Shaffer, Eugene O’Neil, Arthur Miller, Oscar Wild, Henrik Ibsen, en natuurlik William Shakespeare.

Digkuns: DJ Opperman, Antjie Krog,  Breyten Breytenbach, Danie Marais, TS Eliot, Wallace Stevens, Anne Sexton, James Tate, Ai, Gary Soto, Ezra Pound, Aga Shahid Ali, Robert Hass, Lyn Hejinian, Louis Simpson.

Verdere prosa: PJ Bosman (ek is veral mal oor sy kortverhaal ‘Nag van Twee Vroue’), Daleen Matthee, Damon Galgut, Jamie Tworkowski (‘To Write Love on Her Arms’), Olive Schreiner, Virginia Woolf, Neil Gaiman.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Ek het ’n paar. Omdat ek boeke in die vorige vraag bespreek het, sal ek in hierdie vraag graag ’n paar van my gunsteling-films wil noem:

Lost in Translation (2003) deur Sofia Coppola
Donny Darko (2001) deur Richard Kelly
Jesus of Montreal (1989) deur Denys Arcand 
Drive (2011) deur Daniel Winding Refn
4 Months, 3 Weeks and 2 Days (2007) Cristian Mungiu
One Flew Over the Cuckoo’s Nest (1975) Milos Foreman
Band of Outsiders (1964) deur Jean Luc Godard
Bladerunner (1982) deur Ridley Scott.
Fish Tank (2009) deur Andrea Arnold
Once Upon a Time in the West (1968) deur Sergio Leone.
The Tree of Life (2011) deur Terrance Mallick
Siener in die Suburbs (1973) deur Francois Swart.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek sal graag teen die einde van 2013 Kalifornië toe wil gaan om ’n praktiese meestersgraad in film as regisseur te voltooi. Alhoewel ek ’n klein wonderwerk benodig om hierdie droom te verwesenlik, is ek besig om stappe in daardie rigting te doen. My mikpunt hiermee is om later terug te kom na Suid-Afrika toe met ’n internasionale standaard van film-bekwaamheid. Ek wil ook in 2013 ons rockgroep, Rhythm of Grace, se tweede album voltooi, dit bemark en op toer gaan. Teen die einde van 2013 wil ons vir verskeie platemaatskappye, insluitende Solid State Records, Victory Records en Vagrant Records, ’n pakket (biografieë, musiekvideo’s ens) stuur.

Teen 2015 wil ek al minstens vyf ordentlike kortfilms en/of ’n vollengte-film gemaak het. Hopelik het ons band ook al teen daardie tyd ’n kontrak aangegaan met ’n platemaatskappy.

My strategie is maar net om deurgaans draaiboeke vir produksiehuise voor te lê, kontakte in die bedryf op te bou en vir kortfilm-kompetisies in te skryf. As kunstenaar moet mens bereid wees om aan deure te klop tot hulle oopgaan.

Teen 2017 wil ek graag gevestig en in aanvraag wees as ’n filmmaker/skrywer/musikant. In so ‘n mate dat ek kreatiewe vryheid aangaande al my projekte sal hê. Dus sal ek graag projekte wil aanpak nie omdat kommersiële markte dit winsgewend ag nie, maar alleenlik omdat ek passievol daaroor is.

Om eerlik te wees, dit is my grootste vrees: om nie waardering te ontvang vir my kreatiewe werke nie – nie omdat ek mense se waardering soseer nodig het nie, maar omdat ek op straat sal sit daarsonder. Daar is binne my ’n onvermoë om aan projekte te werk waarin ek nie glo nie. Sisteme waar passie nie deel is van die proses nie, voel vir my ietwat sielloos. Ek ontwyk al lank sulke sisteme, maar ongelukkig gaan my studies nie meer lank ’n aanvaarbare verskoning wees nie. Daarom bedank ek H & R vanuit die diepte van my hart vir die platforms wat hulle aan nuwe kunstenaars beskikbaar stel.

Aangaande my loopbaan wil ek myself oor die algemeen daaraan toewy om die wonderlike inhoud en waarde van Suid-Afrikaanse skryfkuns te omskep in rolprente. Ek is oortuig dat die bevordering van die Suid-Afrikaanse filmbedryf vir alle vorme van kuns voordeel inhou, veral vir die skryfkuns. Die jonger generasie het visuele inspirasie nodig voor hulle ’n boek sal optel. En sal dit nie wonderlik wees as die regte films hulle na die regte boeke toe lei nie? Afrikaanse literatuur is so ’n ryk en gevorderde kunsvorm, maar ek glo nie dit sal ten volle benut of ontgin kan word sonder die hulp van die Afrikaanse filmbedryf nie.

Jammer vir my essayistiese antwoorde op hierdie vrae. Ek het myself, nes alle storieliefhebbers, te veel daarin ingelewe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top