Nuwe Stories-onderhoud: Alida Eloff

  • 1

1. Wie is Alida Eloff?

Hierdie vraag behoort spesiaal gereserveer te word vir iemand wat sinne kan begin met die woorde “Die lewe is” of “Die liefde is” en dit kan voltooi. Ek kan nie.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Die “reis tot by Nuwe Stories” het heel moontlik begin toe my sussie op die ouderdom van nege ’n gediggie by die skool geskryf het wat so lui:

Die kat sit op die mat
Toe kom daar ’n reus
Die kat byt hom op sy neus
Die reus se neus was seer
Toe byt die kat hom weer.

Dit is nou 18 jaar later, en ek sukkel steeds om die ironie in die bostaande te verbeter. Voor Nuwe Stories was daar ’n skoolloopbaan, ’n kunsgraad, ’n onvoltooide honneurs in Afrikaans en ’n 20-bladsy-kortverhaal met ’n oneffektiewe titel.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

“Wentzel”is ’n storie oor hoop en hopeloosheid gesentreer rondom ’n verbeeldingryke seuntjie, ’n onskuldige rifrug en ’n paar onbekwame grootmense.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Nick Cave en Michel Houellebecq vir hulle donker humor en die sensitiwiteit van hulle karakters; Nabokov vir sy verlekkering in uitgebreide beskrywings van die kleinste dingetjies; Etienne Leroux vir elke snydende woord asook die naam Tommy Togvader; Don DeLillo vir Underworld;en Martin Amis oor die karakter in Dead babies wat as The loathesome Keith beskryf word, asook oor die eerste sin van The Information wat lees: “Cities at night, I feel, contain men who cry in their sleep and then say nothing.”

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Ek het elke week nuwes. Hierdie week was dit “The curse of Millhaven”, ’n liedjie deur Nick Cave op die album Murder Ballads (1996); “desember en see”, ’n gedig deur Gert Vlok Nel; “What’s He Building”,uitgevoer deur Tom Waits (op die album Mule Variations); en Eend, Dood en Tulp, ’n kinderboek deur Wolf Erlbruch.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Nee.

  • 1

Kommentaar

  • Ek moes Wentel twee keer gelees het en twee dae na die lees sit ek steeds en wonder of die ma nou mal is en of die kind ooit 'n dokter geword het. Dit was dieselfde gevoel wat ek gehad het toe ek Richard Marx se Hazard die eerste keer op TV gesien het. Sien uit na nog Eloff-verhale!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top