Nuwe Stories-onderhoud: Alettie van den Heever

  • 0

1. Wie is Alettie van den Heever?

Die grootste gedeelte van my tyd is ek ’n onderwyser. Na werk is ek te dikwels die deurtrapper van my naaste DVD-winkel se welkom-matjie. Ek is ook ’n leser, ’n joga-entoesias en een van daardie mense wat sê hulle familie en vriende is hulle eerste prioriteit, maar my tydsbesteding weerspieël dit nie altyd nie. Soms probeer ek om minder voorspelbaar te wees.  

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Ek spandeer my kinderjare op Ariamsvlei (Namibië) en Springbok (Namakwaland). In standerd 8 gaan ek Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch) toe. Ek doen ’n BA Taal en Kultuur aan die US en studeer verder aan die Departement Afrikaans en Nederlands. Op Stellenbosch word ek deel van ’n “skryfgroepie” (by gebrek aan ’n beter woord). My storie wat in die bundel opgeneem is, het ek een maand, toe die tema “Employer of the mercantile business” was, geskryf. Tussendeur gaan werk ek oorsee en kry my vuurdoop in die onderwys.

Tans hou ek skool by Middelskool Herzlia in Kaapstad.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

Dit is die storie van ’n jong meisie se soeke na onafhanklikheid. Sy woon op Port Nolloth aan die Weskus en word tydelik ’n smous van glasoë en besoek die omliggende dorpe saam met die rondreisende tandarts.

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek gaan die vraag omseil. Dis te moeilik. Op die oomblik lees ek Philip Roth en FA Venter (om die beurt) op iemand se aanbeveling. Voor dit het die twee jongste Deon Meyers my uit die DVD-winkel gehou.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

Nee, maar in die laaste maand het die BBC-reeks Sherlock my herinner aan hoe lief ek vir ’n karaktergedrewe speurverhaal is. As tiener het ek die boeke verslind (en tussendeur die films gekyk). Dus, duidelik kan ek nie genoeg van hierdie stories kry nie. 

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Siende dat ek effens beter vaar met ’n gedromery as met beplanning, probeer ek wegbly van vyfjaarplanne. Dit kan gevaarlike goed word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top