Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoude met die kortverhaalskrywers

  • 0

Nuwe Stories 2 is pas deur NB-Uitgewers uitgegee. Lees die onderhoude met al sewentien skrywers wat bygedra het tot hierdie bundel.


Brian Fredericks is gebore in Elsiesrivier, Kaapstad. Hy het skoolgegaan aan die Hoërskool Elsiesrivier. Hy is ’n vryskutskrywer en ’n voltydse student, besig om elektriese ingenieurswese by Northlink College te studeer. Tans werk hy aan ’n bundel kortverhale.

Klik hier om die onderhoud met Brian Fredericks te lees.


Carla Kargaard is ’n plaasmeisie van die Karoo. Sy en haar man, Joakim, woon in Somerset-Wes, maar reis graag die wêreld vol. Sy studeer kreatiewe skryfkuns aan Unisa en werk as ’n vryskut-kopieskrywer. Carla het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Poort-prys in 2004 ontvang. Haar skryfwerk het in Toulopers, Guillotine en Nuwe Stories 1 verskyn.

Klik hier om die onderhoud met Carla Kargaard te lees.


Christina van Deventer woon in Rustenburg saam met haar man, Bragi Thor, en hul ontembare Huskies, Thor en Odin. Narre gee haar koue rillings en sy hou ook nie van Barbie-poppe nie. Wanneer sy nie skryf nie, sing sy graag of doen naaldwerk.

Klik hier om die onderhoud met Christina van Deventer te lees.


Dalena Theron het grootgeword in Pretoria, waar sy skoolgegaan het en honneurs in joernalistiek en sosiale antropologie by Tuks gedoen het. Sy woon eintlik in Kaapstad, maar sy en haar man is tans in São Paulo vir sy werk. Sy hou haar besig deur Portugees te leer en stories te skryf. 

Klik hier om die onderhoud met Dalena Theron te lees.


Elani Venter is 26 jaar oud en woon in Malmesbury, Wes-Kaap. Sy het skoolgegaan aan Augsburg Landbou Gimnasium in Clanwilliam, en in 2005 gematrikuleer. Sy werk tans as ’n rekenmeestersklerk by ’n ouditeursfirma en studeer BCompt deur Unisa. Sy skryf ook graag in haar vrye tyd.

Klik hier om die onderhoud met Elani Venter te lees.


Elmarie Greffrath-Rossouw is bo alles ’n woordliefhebber. Sy het in Clanwilliam skoolgegaan en daarna spraakterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy werk as konsultant vir ’n mediese maatskappy in Johannesburg en soek graag die Hoëveldse laatmiddagson op saam met haar man en drie skaaphonde.

Klik hier om die onderhoud met Elmarie Greffrath-Rossouw te lees.


Elmien de Klerk het skoolgegaan op Potchefstroom en arbeidsterapie aan die UV studeer. Die studiegogga het gebyt en ’n meestersgraad het gevolg. Sy werk as arbeidsterapeut by ’n skool. Sy en haar man geniet die buitelewe. Hulle woon in Heidelberg, Gauteng.

Klik hier om die onderhoud met Elmien de Klerk te lees.


Frederick Botha is op 23 Junie 1988 gebore en word op Heidelberg groot. In 2009 ontvang hy die graad BA Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en in 2010 sy honneurs in Afrikaans (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is tans besig met die voltooiing van ’n magisterverhandeling in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg, waar hy ook Afrikaanse letterkunde op voorgraadse vlak doseer. 

Klik hier om die onderhoud met Frederick Botha te lees.


Inge Lategan is gebore op 25 Mei 1985, tussen Bolandse berge en ryk wingerde in Worcester.  Na matriek aan Worcester Gimnasium het sy openbare skakelwese op Stellenbosch gaan swot. Vir al amper sewe jaar is sy ’n finansiële-adviseur-assistent. Sy het die hart van ’n Gemini, dra haar hart op haar mou, en partydae wil sy woorde eet, net omdat dit so mooi is!

Klik hier om die onderhoud met Inge Lategan te lees.


Madré Marais is in Bloemfontein gebore en het hier aan die Meisieskool Oranje gematrikuleer. In 2009 het sy haar BA in taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en hierna haar BA Honneurs in linguistiek. Sy werk as subredakteur by Volksblad se plaaslike koerante.

Klik hier om die onderhoud met Madré Marais te lees.


Marteni Burger het grootgeword in Potchefstroom en het haar matrieksertifikaat by Hoër Volkskool Potchefstroom se kantoortannie gaan optel. Daarna het sy drama geswot aan die Universiteit Stellenbosch, haar BA Honneurs verwerf in drama- en teaterstudie, en in teksskepping gespesialiseer. Sy woon in Arcachon in die Suidweste van Frankryk, net buite Bordeaux, waar haar verloofde rugby speel en sy vryskut-skryfwerk doen.

Klik hier om die onderhoud met Marteni Burger te lees.


Niel Koekemoer is in Lichtenburg, Noordwes, gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Lichtenburg. Hy studeer BIS Multimedia en behaal sy meestersgraad in informatika aan die Universiteit van Pretoria. Hy woon in Kaapstad, waar hy in die finansiële sektor as ’n stelselargitek en -analis werk.

Klik hier om die onderhoud met Niel Koekemoer te lees.


Solette Stander het tussen die blou en die sout van die Kaap grootgeword. Sy het ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, asook ’n nagraadse kwalifikasie in bemarking by Maties verwerf. Tans werk sy as assistent-uitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA Uitgewers in Pretoria. Sy sit net stil wanneer sy lees – ander kere hardloop sy of klouter berge uit.

Klik hier om die onderhoud met Solette Stander te lees.


Talita van Graan is al van kleins af boekbedinges. Sy wou eers ’n biblioteektannie word, toe droom sy van skryf en op die ou einde gaan swot sy uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 2008 haar honneursgraad behaal. Sy was vir drie jaar ’n kinderboekuitgewer by Fantasi Boeke, hou vir die volgende drie jaar skool in Suid-Korea en is tans die bemarkingskoördineerder by Exclusive Books.

Klik hier om die onderhoud met Talita van Graan te lees.


Tanya van Buuren is ’n produk van Hartbeespoortdam en bewoon tans die Moederstad. Bedags doen sy skakelwerk vir ’n eiendomsmaatskappy en snags pleeg sy rubrieke. Sy het joernalistiek aan Tukkies studeer en toe vir twee jaar in Nederland gewoon. Sy het ’n obsessie met quotes en fairy lights en is glad nie getroud nie.

Klik hier om die onderhoud met Tanya van Buuren te lees.


Wentzel Lombard is 21 en is in Harrismith gebore, waar hy ook in 2011 graad 12 voltooi het aan Harrismith Christian Academy. Hy is tans besig met sy tweede jaar in dramastudie aan Oakfields College in Pretoria. Om stories te vertel is sy groot passie.

Klik hier om die onderhoud met Wentzel Lombard te lees.


Willem Breyl is van Albertinia in die Wes-Kaap. Hy het in 2006 matrikuleer aan Hoërskool Langenhoven in Riversdal en daarna aan Inscape Design College in Kaapstad vir ’n graad in binnenshuisontwerp studeer. Willem was in 2011 deel van die Kunstekaap Teater se tegniese-opleidingsakademie, en dis ook hier waar hy hom tans bevind, as stelontwerper.

Klik hier om die onderhoud met Willem Breyl te lees.


Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

Lees ook:
Nuwe Stories 2: Foto's van die boekbekendstelling
Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Tweede weergawe van kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top