
Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.
Op die oog af handel “Duimgooi na nêrens” oor prostitusie. Dit gaan oor die mense wat ’n bestaan maak langs die nasionale paaie van ons land. Diegene by wie (die meeste) mense net vinnig verbyry en dan oningeligte menings vorm oor hierdie professionele duimgooiers. Dit gaan egter ook oor menslikheid en die mens se kernbehoefte aan aanvaarding. In my verhaal het ek iets hiervan probeer verstaan. Ek het met my verhaal as’t ware by een van hierdie duimgooiers “stilgehou” en met haar gesels oor haar kant van die storie
Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae. Hoe het jy hierdie proses ervaar?
Dit was fassinerend om te sien hoe ’n ander persoon na jou verhaal kyk en dinge raaksien of uitwys waarvan jyself nie eens bewus is nie. Ek het die hele proses uiters leersaam gevind. Suzette Kotzé-Myburgh se raad, konstruktiewe terugvoer en aanbevelings was baie insiggewend.
Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?
Skryf (en skaaf aan) jou verhaal totdat jy tevrede is daarmee. Ek probeer baie hard om dit op myself toe te pas. Ek is geneig om ’n verhaal of gedig vinnig te wil afhandel en met ’n nuwe een te begin, al weet ek dat ek nog nie 100% tevrede is met die eerste een nie.
Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?
Ek het nie regtig ’n gunstelingskrywer nie. Ek lees enigiets van doodsberigte, dramatekste, spanningsverhale en selfhelpboeke tot Nataniël se “Kaalkop”-rubriek.
Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?
Solank ek dit bevredigend, terapeuties en genotvol vind om te skryf, en solank as wat daar idees in my kop rondswem, sal ek aanhou skryf. Publikasie is ’n bonus.
![]() |
Titel:Nuwe Stories 2 |
Klik hier om die tweede weergawe van Willem Breyl se kortverhaal "Duimgooi na nêrens" te lees.
Klik hier vir die ander onderhoude.
Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!
Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


