![]() |
| Corné Koegelenberg |
![]() |
|
Nuwe Stories 3 Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn |
![]() |
| Koop Draalnoot vir ’n janfiskaal by Kalahari.com |
Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.
Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?
Ek wou ’n storie skryf oor wat ek dink die perfekte Afrikaanse man is. Iemand wat sal uitstaan as die marsmannetjies aarde toe kom en een man uit elke kultuur wou kloon, dit moes Bennie Wessels wees. Toe ek besef hierdie karakter sou onrealisties voorkom, het ek maar besluit om die karakter en die storie nog meer surrealisties te skryf, sodat die storie verander in ’n “tall tale” soos die Engelse dit noem. Ek het die storie om die karakter se enigste groot tekortkoming gebou. Ek probeer ook natuurlik vir myself sê dat ek baie van myself in Bennie ingesit het, maar ek dink hy is nog steeds baie cooler as ek.
Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?
Goed en sleg. Ek het nog altyd gesukkel om saam met ander mense te skaaf aan my eie werk. Die probleem lê en uit en uit by my, ek is heeltemal te hardkoppig en wil nie eintlik na ander mense se raad luister nie. Hierdie proses het ek as geleentheid gesien om daardie hardkoppigheid af te skud en ek het myself geforseer om dit meer oopkop te benader en almal se raad sterk te oorweeg. Enigste probleem was, elke mentor het verskillende raad gehad. Wat die een van hou, het die ander gevoel werk nie. So wat ek die meeste geleer het, is hoe om selektief te wees oor wie se raad jy gebruik. Behalwe vir dit was die proses baie lekker. Ek was nogal verbaas oor hoe baie tyd ons gekry het om aan die stories te skaaf. Niks was gejaag nie en ek het dit baie waardeer.
Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal?
Met enige vorm van storieskryf sukkel ek maar altyd met die einde. My stories ontstaan uit ’n konsep of soms ’n idee van styl en dan is dit maklik om te begin skryf, maar om ’n ordentlike, bevredigende einde te skryf is nogal 'n uitdaging en iets wat ook nie vir my met tyd makliker word nie. Meeste van die kere skryf jou storie homself in ’n rigting in waar daar net een moontlike slot is. Ander kere moet jy jou slot baie vroeg in die skryfproses kies sodat jy weet waarheen jy werk, want die opsies wat langs die pad opduik kan jou onnodig uitput. In ’n kortverhaal is dit vir my moeiliker om ’n slot te skryf omdat jy nie baie tyd het om na ’n einde op te bou nie. Partykeer mense hou van die vryheid dat daar enige iets kan gebeur, maar meestal sukkel ek met keuses maak. Ek hou van beplan.
Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?
Elke plek waar ek al ooit gebly het, het my gemaak wie ek vandag is en het ’n groot invloed op my werk. Ek het in die Klein-Karoo grootgeword, na skool Kaap toe getrek, maar bevind myself deesdae in Pretoria. Dis drie baie verskillende plekke wat elkeen ’n unieke manier van storievertel het en ek glo dat my blootstelling tot almal my gehelp het. Elke stukkie lewenservaring wat ek op hierdie plekke opgetel het, probeer ek in my stories inweef.
As kunstenaar is dit ongelukkig deel van jou werk om te steel, maar jy mag onder geen omstandige van ander kuns steel nie. Jou plig is om van die lewe en die ervarings wat jy tot dusver gehad het, te steel. Ek vind inspirasie uit elke plek, waar ek al ooit was, met elke mens wat ek al ooit gepraat en elke hoekie van hierdie wêreld wat ek al gesien het.
Pretoria inspireer meer as wat die Kaap ooit het. Mense dink dis vreemd as ek dit sê, maar ek dink nie so nie. Daar is iets so verskriklik mooi in Pretoria wat mens nie kan oorvertel of beskryf nie, jy moet dit self beleef. Daardie geheimsinnige mooiheid inspireer my om stories te vertel. Dit gee my hoop, want ek besef as jy die mooiheid in Pretoria kan sien, jy die mooiheid in enige iets kan sien.
Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?
“Being a writer is weird. You sit down and invent people and put them in made up places and you call it a job. It's embarrassing. And great.” – Matt Haig
As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?
Ek dink as daar nou een ding wat ek wens ek het geskryf sou dit nie ’n boek gewees het nie, maar eerder ’n film teks. Dit sou Quentin Tarantino se Inglourious Basterds gewees het. Daardie teks is onmenslik goed geskryf. Al die karakters is interessant en dinamies. Die tonele kan onafhanklik van die film staan en werklik as ’n kortfilm oorleef. En is die dialoog ook maar net briljant! Dis sonder twyfel die wêreld se beste draaiboekskrywer se beste werk nog.
Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?
Op die oomblik lees This is a Call deur Paul Brannigan, dit is ’n biografie oor Dave Grohl, die bekende rockster van Foo Fighters wat destyds ook in Nirvana was. Tussendeur dit lees ek ook Henry Cloete se eerste roman, Draalnoot vir ’n janfiskaal.
My gunsteling- Suid-Afrikaanse boek moet Dana Snyman se Anderkant die scrap wees.
Wat is jou skryfplanne vorentoe?
Op die oomblik skryf ek meestal aan film- en televisiedraaiboeke, dis maar die vorm wat ek die beste ken aangesien ek eintlik ’n filmmaker is. Ek hou sal aanhou rubrieke en kortverhale skryf, want dit is ’n lekker breuk van die filmwêreld en dit voel altyd of daar minder reëls en beperkings vir my gestel word. Ek het wel ’n idee vir ’n boek of twee wat ek graag sal wil aanpak indien ek ooit die tyd en die selfvertroue daarvoor kry.
Lees die tweede weergawe van "Die vrese van Bennie Wessels"




