Nuwe Stories 3: Onderhoud met Carien Smith

  • 4
Carien Smith

Nuwe Stories 3

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISSN: 9780798167987

Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com

Koop Die Afrikaanse kortverhaalboek by Kalahari.com

Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.

Carien is as naaswenner aangewys vir haar kortverhaal "Binnekort" en het ook eervolle vermelding gekry vir "Likkewaan".

Wat was die inspirasie agter jou verhale wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?

“Binnekort” is ’n verhaal wat al vir ’n tydjie gelê en broei het in my onderbewussyn. Dit het my twee ure geneem om hom neer te pen die dag voor die sluitingsdatum. Ek dink die idee was net eenvoudig ryp en die storie het vinnig gekom. Ek het ’n baie sterk bewustheid ontwikkel vir die verlange wat oumense het vir hulle kinders en kleinkinders. Met die wêreld wat soveel kleiner word met tegnologie – ten opsigte van vervoer – vergeet ’n mens dat die ouer generasies nie noodwendig so vertroud is met sosiale media en kommunikasie om kontak te behou met hulle kinders en kleinkinders nie. Die wêreld word soveel kleiner, en tog word die afstande al hoe verder.

“Likkewaan” is ’n blote refleksie op die situasie waarin soveel jongmense hulle vandag bevind. Pas klaar geswot – medies, onderwys, of wat ook al – en dan word hulle verplig om te gaan werk in ’n omgewing waarvan hulle geen bewussyn het nie.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?

Suzette Kotzé-Myburgh het die keurverslae vir albei my verhale geskryf, en die werkswinkel wat ek in Pretoria bygewoon het, is deur Leti Kleyn aangebied. Ek was baie bevoorreg om insette vanaf beide die samestellers te kry. Ek hou baie daarvan om kommentaar te kry, aangesien ek besef dit is die enigste manier om te verbeter.

Leti Kleyn draai glad nie doekies om nie en sy is pynlik eerlik. Dit verrig wondere vir ’n mens se skryfwerk, solank ’n mens bereid is om hard te werk. Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslae was altyd baie duidelik gewees, en ek het baie by haar geleer. Ek is dankbaar vir albei se insette. Die leerskool was van onskatbare waarde!

Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal? 

Ek glo dat elke ding wat bestaan – boom, blom, mens, kleur, geur, spesifieke karaktereienskap of situasie – heel moontlik alreeds neergepen is. Die grootste uitdaging lê in die skrywer se eie blik op die wêreld. Om iets wat óórskryf en beskryf is, nuut te maak. Die skrywer moet die leser verlei om deur ’n ander bril – die skrywer se oë – na die wêreld te kyk. Uiteindelik moet die skryfwerk iets nuuts vir die leser bied. Dit is nie genoeg om net nóg ’n storie oor ’n sekere onderwerp of tema te skryf nie.

Ten opsigte van tegniese aspekte van die skryfproses kan ek nie werklik iets noem wat moeilik is, of ’n uitdaging is nie. Elke verhaal kom met sy eie uitdagings.

Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?

Waar moet ek begin? By die papegaai of die honde? Die omgewing waarin ek woon het definitief ’n invloed. Ek bly tans by my ouers, en ek bevind myself in ’n baie kreatiewe en stimulerende omgewing. Met my ma se eie skryfwerk en akademiese werk is daar ’n deurlopende energie en uitruil van idees. Ons inspirasie steek mekaar heeltyd aan. My pa en my boetie (my boetie is al uit die huis) is ook argitekte, musikante en fotograwe, en dus ook kunstenaars in hulle eie reg. Ek speel ook kitaar, klavier, dromme en ek sing. Ek en my ma is albei lief vir skilder. Daar is altyd iets aan die broei in die huis. Altyd.

Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?

“There are things known and there are things unknown, and in between are the doors of perception.” – Aldous Huxley

Deur die neerpen van wêrelde op papier word die onderskeid tussen dit wat ons weet, en dit wat ons nié weet nie, opgehef. Enige iets kan as ink op papier bestaan, en sy uiteindelike lewe in ’n leser se verbeelding vind. Daardie “doors of perception” is waar die skrywer hom of haar bevind. En “perception” word dus “deception”. Die leser laat homself doelbewus verlei, mits die skrywer hom of haar goed van sy taak kwyt. Dit het betrekking op enige kuns. Die kunstenaar moet die “gehoor” van sy kuns verlei.

As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?

1984 deur George Orwell. Wat kan ek sê? Hierdie roman is absoluut klassiek. Ek sal vir ewig kan sit en rondkrap en ontleed. Die filosofie, karaktertekeninge, simboliek, verhaallyn, metafore, en so meer skep soveel lae van betekenis. Wanneer ek iets lees, dan móét daar meer aan die verhaal wees as net die ooglopende besonderhede. Anders verloor ek my belangstelling bitter vinnig. Dit is ook ’n maatstaf waaraan ek my eie skryfwerk meet.

Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?

Ek lees tans: Katvoet deur Riana Scheepers, ’n Duisend stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer, Doomsday Book deur Connie Willis, en so ’n bietjie Kafka, Poe, Kant, Dahl, Oliver Sacks, TT Cloete, Hambidge, en Marlene van Niekerk se Kaar. Veral met poësie en die kortkuns is ek lief daarvoor om te kou en te herkou. Ek het altyd ook ’n paar akademiese boeke waarmee ek besig is.

My gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat oor die afgelope twee jaar verskyn het, is Die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham de Vries. Ek dink dat hierdie boek van onskatbare waarde sal wees vir my pad vorentoe – daar is geen beter manier om te leer as om die meesters se kuns te ontleed nie.

Ek het nog ’n gunsteling. In die afwesigheid van sin deur Susan Smith. My redes is vanselfsprekend.

Wat is jou skryfplanne vorentoe?

Ek werk tans aan my debuut-kortverhaalbundel, en ek hoop dat hy binnekort die lig sal sien. Verder sal ek my pen altyd gereed hou om vir die teater te skryf. My liefde vir skryf het natuurlik by die teater begin. My teks “Formalien” was in 2009 in die top-10 vir die Nagtegaal Teksprys. Hierdie teks het ek in my matriekjaar (2006) geskryf en hy was in November hierdie jaar op die planke by die Pierneefteater in Pretoria. Ek het ’n paar ander verlore dramatekste in my laai waaraan ek moet skaaf. Verder het ek my akademiese skryfwerk wat my aandag verg. My eerste akademiese artikel was hierdie jaar aanvaar vir publikasie by Stilet. Ek hoop om nog ’n paar gepubliseer te kry oor die volgende paar jaar.

Ek glo ek sal my hand ook nog aan ’n roman slaan. Eendag. Maar vir nou die kortverhaalbundel.

Lees die tweede weergawe van "Likkewaan"

Lees die tweede weergawe van "Binnekort"

 

  • 4

Kommentaar

  • Jou jong loopbaan is indrukwekkend en getuig van 'n veelsydige en begaafde skrywer wat dit nog ver gaan bring. Mag jou pad vorentoe vol hoogtepunte wees. 

  • Vang jongs af het Carien onderhoude met bekendes uitgevoer. Dit het vir haar goeie insig gegee van ander se gevoelens, ondervinding en opinies. Nou gebruik sy die kennis kreatief. As voormalige onderwyseres ek baie trots op haar en haar prestasies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top