Nuwe Stories 2013-onderhoud: Riana Scheepers

  • 0

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Ek het begin skryf toe ek nog op laerskool was. My eerste “verhale” is in die jeugrubriek van die Huisgenoot geplaas (onder redaksie van Herman Engelbrecht). Hulle het elke jaar ’n skryfkompetisie gehad. Ek het goed geld gemaak, want hulle het R5 (vyf rand, ja) vir elke gepubliseerde verhaal betaal en R25 vir die wenner. Ek het onder verskillende skuilname geskryf en een jaar het ek die 1ste, 2de én 3de prys gekry. Ek was skatryk.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Omtrent alles het verander, maar miskien bly alles steeds dieselfde. Kortverhale is steeds ’n opwindende genre, op die voorpunt van literêre strominge. Soos Hermes is dit die boodskapper van die gode, maar daar word steeds gedink dat ’n roman ’n grootser literêre produk lewer.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Daar is ’n groot, groot verskil. Ek het nogal nie heeltemal vrede daarmee dat elke persoon wat wil skryf, sy ongekookte produk op die internet kan plaas en dan ’n “skrywer” is nie, maar ek erken dat dit soms wonderlike, wilde produkte lewer. Soms dink ek dat internet-publikasies net een groot virtuele snippermandjie is. Daar is groot waarde aan die langsame, frustrerende en soms pynlike redaksionele proses van die verlede. Ek dink ook e-boeke, wat nog nie heeltemal vaartbelyn is nie, is die ding vir die toekoms; ons kan nie daarteen baklei nie. Moenie baklei nie, gebruik die tegnologie! Dis wel jammer dat swaar, stowwerige huisbiblioteke, en die romantiek daaraan verbonde, mettertyd sal uitsterf.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Die kortverhaal is slim, geslyp, slu, skigtig, sexy – en volkome in balans. 

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Jinne, niémand het my gehelp nie. Die grootste slaggat is om te dink jy weet alles; wees verseker, jy weet nié. Die beste raad wat ek aan ’n ander skrywer kan gee, is: lees elke kortverhaal wat jy in die hande kan kry, in elke taal wat jy magtig is, en maak jou oë oop en leer dit wat vir jou prakties gegee word. Leer veral wat jy nié moet doen nie. Daar is wonderlike voorbeelde van hoe om nié te skryf nie, veral in Afrikaans.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Die menslike mentors wat gedink het hulle help my, het my niks gehelp nie; ek het in elk geval my eie intuïsie vertrou en my eie kop gevolg. Boek-mentors was daar baie, op subtiele maniere. Dikwels luister ek na musiek en dink: só, soos hierdie musiek is, so wil ek skryf.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Ek kan ’n hele paar opnoem, maar as ek twee kan uitsonder in Afrikaans: Hennie Aucamp se “Vir vier stemme”, en Zirk van den Berg se “Eendag dag ek ek sien bloed”.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Ek het geen vaste roetine nie, maar as ek aan die skryf kom, sal ek amper dag en nag besete en waansinnig skryf tot ek klaar is.

Klik hier vir Riana Scheepers se profiel in die ATKV-Skrywersalbum.

Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013.

Klik hier vir die kortlys.




Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top