Nuwe jaar, nuwe jy?

  • 5

...
Maar vir ’n lang tyd het ek in dieselfde lokval getrap van voornemens maak vir die nuwe jaar. New year, new me.
...

Droë Januarie was nog nooit vir my ’n opsie nie. Nie met my verjaardag in die middel van die maand nie.

Verlede jaar het Uncle Cyril my planne vir vonkelwyn op my verjaardag amper in die wiele gery. Amper, maar meer kan ek nie daaroor sê nie. Selfinkriminasie en so aan.

Maar vir ’n lang tyd het ek in dieselfde lokval getrap van voornemens maak vir die nuwe jaar. New year, new me. Gym-lidmaatskap wat ek net die eerste week van die jaar getrou gebruik? Gedoen. Eetplan vir ’n slanke lyf wat na dag 10 in die asblik beland? Gedoen. Ou, uitgediende gewoontes vervang met nuwe, gesonder en beter gewoontes? Gedoen.

Die enigste voorneme wat ek gestand hou die afgelope tyd, is om geen voornemens te maak nie.

Dis menslike natuur om patrone te vestig, om een ding af te sluit en iets nuuts te begin op seremoniële manier. Dis hoekom ons “Auld lang syne” sing, dis hoekom ons die sekondes na die nuwe jaar aftel, hoekom ons op middernag mekaar gelukwens.

Hierdie jaar voel anders.

In 2021 het ons nog gehoop dat die pandemie finaal agter ons rug sou wees. Ons het gehoop om weer te kan reis, om familie te kan onthaal, om restaurante te besoek, te fliek, sportbyeenkomste by te woon, weer teater toe te kan gaan. Ons het gehoop om terug te keer na normaal, wat normaal ook al mag beteken.

...
Ons het gehoop om terug te keer na normaal, wat normaal ook al mag beteken.
...

Hierdie jaar voel anders.

Wat is ons realiteite vanjaar? Die eerste deel van die staatskapingverslag is uit. Daar word mooi beloftes gemaak van fluitjieblasers wat beskerm sal word, en die aanbevelings van die verslag wat ernstig opgeneem sal word. Maar hoeveel maal tevore het ons dit al gehoor, en dan gebeur daar net mooi niks? Ek dink nie eers regter Zondo het veel hoop dat sy verslag tot daadwerklike optrede sal lei nie, veral aangesien geen van die groot visse ingekatrol kon word nie.

Die Zuma-tronk-klug troos nie. Dit laat ons net weer besef hoedat ons hele land vir poppe gevat word, om die mooi weergawe van ’n bekende uitdrukking te gebruik.

Die ekonomiese vooruitsigte lyk nie watwonders nie. Kos is duurder. Petrol is duurder. As Eskom hulle sin kry, gaan ons selfs nog duurder betaal vir meer onvoorspelbare kragtoevoer. Die bedreiging van rollende beurtkrag bly maar soos ’n donker wolk oor ons koppe hang. En dan word daar gepraat van sabotasie.

Maar salarisse, vir dié wat gelukkig genoeg is om nog ’n werk te hê, stagneer.

Die parlementêre brand is glo te wyte aan brandstigting. Of ’n terreuraanval op ons demokrasie. Of iets. Selfs net ’n vinnige blik na hoe ons “demokrasie” die afgelope tyd bedryf word, laat my wonder of afbreek en oor begin nie dalk ’n goeie idee is nie.

Ten minste het Omikron nie die grootskaalse gesondheidsverwoesting gesaai wat almal gevrees het nie. Maar derduisende vlugte wat gekanselleer word, toeristebedrywighede wat feitlik tot stilstand gedwing is, hospitale wat onder druk verkeer omdat gesondheidspersoneel weer in groot getalle positief toets veroorsaak onsekerheid. En onsekerheid maak dit moeilik om enige langtermynvoornemens selfs te oorweeg.

Daarom het ek hierdie jaar besluit om iets anders te doen. Ek wil meer doelbewus dankbaar wees vir goed. Nie die groot goed nie, want dit voel of daar hierdie jaar maar min daarvan gaan wees.

In my tuin het ek waterbakke gesit waar die voëltjies kan kom drink, en ou brood verkrummel en gestrooi. Vanoggend het ek gesien hoedat ’n veldmuis en ’n mossie vreedsaam uit dieselfde bak drink. Later het spreeus en duiwe bygekom. Hulle kon eet, hulle kon drink. Dis nie die oplossing vir al die probleme rondom my nie, maar vir kortstondige oomblikke kan ek vreugde in die natuur vind.

...
Ek wil dankbaar wees vir die klein goedjies.
...

Ek wil dankbaar wees vir die klein goedjies. ’n Sonsondergang wat my herinner in watter mooi land ons bly. ’n Vreemdeling wat die deur oophou vir iemand. Blomme in my tuin. Vriendskap. ’n Meem wat my laat lag. Humoristiese kommentaar op absurde berigte. Die ongebreidelde vreugde van ’n bekende wat besluit het om op sy eie ’n kind aan te neem. ’n Kennis wat op 70 weer liefde vind. Iemand anders wat op 65 uiteindelik die moed bymekaar skraap om matriek te skryf. ’n Verbyganger wat groet. ’n Vreemdeling wat jammer sê wanneer iemand anders voor haar val, al het sy niks met die val of die persoon te doen nie.

Dalk is dit nie so klein nie. Dalk is dit juis die belangrike dinge wat die lewe sinvol maak.

Mag 2022 groot vreugde in klein dingetjies bring.

  • 5

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Die klein dingetjies wat die lewe groots maak.

    Tog snaaks hoe meer sin dit maak namate ons ouer word.

  • Barend van der Merwe

    Stem nie saam met jou nie. Dis so belangrik om die klein dingetjies in die lewe te waardeer. Ek stem ook nie aldag met Bettina nie maar die is 'n boodskap waaraan mens maar elke dag herinner kan word, want hoe gou vergeet ons dit nie? Ons leef met met ons koppe in die verlangens na wat was en die vrese van wat gaan word, en so gaan die hier en die nou by ons verby, tesame met alles wat daaraan kosbaar is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top