Nuwe film oor Adam Small bekendgestel

  • 0

Lees ook: Kô laat ons sing vi’ Small se Hertzogprys deur Michael le Cordeur

Op Vrydag 1 September 2016 is die première van Ek hoor die vryheid sing, 'n film oor die lewe van Adam Small, gehou. Die film - gefinansier deur die Dagbreek Trust - word op Small se verjaarsdag die 21ste Desember amptelik uitgereik en sal dan gratis aflaaibaar wees.

Die première is  in ’n onopgesmukte saal van die Wes-Kaapse Sportskool gehou. Uiters gepas: niks fênsie nie, wel goed toegerus en volledig deel van die gemeenskap. Adam Small sou tevrede wees.

Small het geleef vir sy gemeenskap, die opdrag voor in sy bundel sê sjibolet is: "Vir die eenvoudiges wat dink en ook mag praat."

Small was ook ’n opvoeder in murg en been en het destyds by die UWK meegedoen aan betogings wat bekend gestaan het as "hek toe" – aangesien die UWK-studente dikwels van die kampusgeboue af na die hek toe marsjeer het.

Avril Fielies, ’n joernalis, en Danie van Wyk

Volpunte dus aan Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, wat die première juis hier, juis vir onderwysers gehou het.

Willem Fransman (junior)

Van Wyk het almal verwelkom waarna Willem Fransman (junior) vir ons twee gedigte uit Small se oeuvre voorgedra het.

Micheal le Cordeur

Micheal le Cordeur het daarna gesels oor Small se lewe, die onreg teen hom, en die feit dat die Hertzogprys darem ’n mate van korreksie gebring het. Die datum 12 September is belangrik, sê Le Cordeur, want Steve Biko is daardie dag in aanhouding dood, en Small is op daardie datum vereer met die Hertzogprys.

In die geval van Biko, soos later met Chris Hani, is die stem van ’n swartbewussynsleier stilgemaak en daar was geen manier om die onreg reg te stel nie. In Small se geval kon die onreg darem gedeeltelik reggestel word.

Le Cordeur het ook verwys na Small se versoenende houding teenoor hulle wat die onreg gepleeg het. Adam Small het byvoorbeeld vir Pieter Odendaal, die jong digter, vertel het dat hy wat Small is, wéét Odandaal se pa was ’n goeie man, al het hy op die grens baklei. (Hierdie moment kom ook in die film voor.) Odendaal se gedig is hier te lees. 

Abraham de Vries

Abraham de Vries, die vervaardiger van Ek hoor die vryheid sing, het daarna vertel hoe dit gekom het dat hy die film gemaak het en wat hy daarmee wou bereik.

Die film is ten eerste vir onderwysers gemaak, sê De Vries en hy wou vier vrae beantwoord.

1. Wat was die invloed van Small se kinderjare op sy loopbaan? Daar is heelwat argiefmateriaal gebruik vir hierdie gedeelte.

2. Waarom bly Small relevant vir vandag se jongmense? Die jong Lyntia Julius, wat in 1993 gebore is, het hierdie vraag help beantwoord.

3. Wat is die rol wat skuld speel in Small se oeuvre? Interessant, in sy antwoord was Small weer eens versoenend, nie aanvallend nie; presies soos Le Cordeur vroeër gesê het.

4. Hoekom Kaaps? Hier het Frank Hendricks, van die Universiteit Afrikaans en Nederlands aan die UWK, baie interessante insette gelewer.

Die film is daarna vertoon.

Die film gee ’n interessante blik op een van ons groot denkers. Dit is net 48 minute lank en sal dus ’n skoolperiode inpas. Dit is ’n baie goeie oorsig oor Small se lewe en dit was lekker om sy stem weer te hoor.

Small lees voor en gesels met die kamera. Daar is heelwat foto’s en beeldmateriaal uit die verre en die onlangse verlede. Charles Badenhorst se aangrypende animasie van "Wat about de lô", soos vervaardig deur die ATKV vir Filmverse, is volledig opgeneem in die film en ’n deel van Koos Kombuis se vertolking van dieselfde gedig vroeër vanjaar by die US Woordfees, is ook opgeneem. (Daar is hier oor hierdie geleentheid berig.)

Op 21 Desember sal almal toegang kry tot Ek hoor die vryheid sing. Laai dit af en maak dit asseblief beskikbaar aan alle skole.

Kyk dit ook self. Ons was bevoorreg om Adam Small in ons midde te hê. Ek hoor die vryheid sing sal nie net vir skoolkinders nie, maar vir alle Afrikaanssprekendes iets bied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top