Nuwe boeke by LAPA gedurende Maart 2015

  • 0

 
  LAPA Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende Maart 2015.


Skuldig
Martin Steyn
ISBN: 9780799373608

Ná sy baie goeie debuut, is Martin Steyn terug met nog ’n krimi. Hierdie keer ondersoek Adjudant Colin Menck ’n baie professionele reeksmoordenaar.

Alles begin toe ’n middeljarige tandarts tereggestel word in sy sitkamer, met een skoot in sy voorkop. Voor die doodskoot het die tandarts egter een woord teen die muur geskryf met sy eie bloed. Hoekom? Waarom soveel pyn verduur as jy vermoed jy gaan sterf?

Colin Menck kyk na die sewe letters teen die muur, die skoon toneel, en hy is oortuig dit is ’n professionele moordenaar se werk, maar wie het hom gehuur? Daar is verdagtes, veral die slagoffer se vrou, wat net te onemosioneel oor die moord is. Tog, wat het hy gedoen dat iemand sou betaal om hom te laat doodmaak?

Terwyl Menck nog antwoorde soek, word ’n tweede man in sy woonstel tereggestel. Weer is daar sewe letters in bloed teen die muur. Nou is daar baie meer vrae, want daar is geen tekens dat hierdie twee slagoffers enige verbintenis met mekaar gehad het nie. Die enigste raakpunt is nog ’n ongelukkige vrou, ’n eks hierdie keer, en hulle seuntjie wat ’n twispunt was.

Om sake te bemoeilik, het Menck en sy nuwe jong kollega mekaar nog nie regtig gevind nie en daar is wrywing met hulle nuwe, ambisieuse groepleier.

Hoeveel name is op hierdie moordenaar se lys? Die groepleier soek arrestasies, Menck soek antwoorde en sy dogtertjie soek ’n pappa wat nog lank lewendig sal wees. Hoe versoen Menck al hierdie goed as die gesiglose moordenaar skielik baie duidelik vir hom vertel sy gesin is in gevaar?

Dan word ’n derde man gedood ... Hoeveel mans gaan nog SKULDIG in hulle eie bloed skryf voor hulle ook sterf?


Gelyke kans
Santie van der Merwe
ISBN: 978079937361

Nadat haar kinders uit die huis is, stort Jessica de Lange haar hart en siel in haar nuwe oudhedebesigheid. Haar lewe het weer rigting en betekenis. Die toekoms saam met Anton, haar man van baie jare, lyk rooskleurig, maar toe ruk Anton die mat onder haar voete uit: Daar is iemand anders in sy lewe, en Jessica moet opsy staan.

Verward, gekrenk en verneder vlug sy na hulle strandhuis om haar wonde te gaan lek en haar toekoms, alleen, in oënskou te neem. ’n Onverwagse ontmoeting met ’n jeugliefde ontspoor haar egter weer. Tussen haar en Joe vat ’n passie vlam wat al die jare smeulend bly lê het. Jessica weet egter sy moet eers die vorige hoofstuk in haar lewe afsluit, dat sy eers ’n egskeiding moet kry voordat sy en Joe enige kans op geluk kan hê.

Intussen begin Anton se verhouding met die jonge Esmie krakies wys. Anton besef hy het die grootste fout van sy lewe gemaak en hy pleit dat Jessica hom ’n kans moet te gee. Staan hy ’n gelyke kans teen Joe?

Jessica stem huiwerig in om Anton ’n kans te gee, maar sy val nie bloot vir enige een van die twee nie. Sal sy ooit weer vir Anton kan vertrou? En Joe? Waarom moet sy hóm nou vertrou ná al die jare?

Gelyke kans is ’n eerlike boek oor ’n vrou wat eers met haarself moet vrede maak voor sy haarself weer aan ’n man wil gee, maar wat ook eerlik genoeg is om te weet dat sy nie haarself die waarde van ’n maat moet ontneem bloot om sterk te wil voorkom nie. Boonop is dit die mans wat moet verander in hierdie teks; iets wat elke man saam met sy vrou moet lees!


’n Hart vol sand
Anzil Kulsen
ISBN: 9780799366747

Die gramadoelas. Die gatkant van die wêreld. Kepeke.

Jenna het geen idee waar dié Kalahari-dorpie sy naam vandaan kry nie, want die woord kepeke beteken glo baie, maar hier is nie baie van enigiets nie; behalwe sand en klipperige grondpaaie. Hoe op aarde kon haar pa haar dwing om hierheen te trek? Selfs die ouens is vreemd.

Kort voor lank kom Jenna egter agter dat daar baie meer in Kepeke se stil stofstrate aangaan as wat sy aanvanklik vermoed het. Watter onheilighede broei by Abdoel se kafee – en wat beteken die geheimsinnige boodskap wat hy vir haar op ’n stukkie papier skryf? Sal Freek se droom om die dorp se erfenis te bewaar, ooit bewaarheid word? Hoekom wil niemand ’n woord rep oor die dorp se jong meisies wat soms vir lang tye verdwyn nie?

Dan is daar boonop die aantreklike Richard wat haar knieë lam maak – maar kan sy hom regtig vertrou?

’n Hart vol sand is ’n boeiende jeugroman wat enersyds ’n blik bied op die realiteite wat jong mense op ’n klein, plattelandse gemeenskap in die gesig staar, maar terselfdertyd ook ’n vermaaklike verslag is van ’n jong, bedorwe stadsmeisie se ervaring van eerste liefde en haar ontdekking van haar kulturele erfenis.


Alles oor hekel 2
Karen Adendorff
ISBN: 9780799374155

Karen Adendorff se wegholsukses kry ’n waardige nommer 2!

In Maart verlede jaar is Karen Adendorff se Alles oor hekel bekendgestel. Dit was ’n wegholsukses met die eerste oplaag wat uitverkoop was voor die tweede drukoplaag kon land. Sedertdien was hierdie boek 41 keer op Nielsen se weeklikse topverkkoperlyste, waarvan 27 keer in die top 40.

Die Engelse weergawe, Crochet know how, is aan die begin van hierdie jaar bekendgestel en was reeds 8 keer op die topverkoperlys, waarvan 5 in die top 40 was.

Karen Adendorff volg nou haar eersteling se sukses op met ’n waardige nommer 2, wat bekend staan as Alles oor hekel 2. Hierdie keer het die Engelse weergawe, Crochet know how 2, op dieselfde dag verskyn as die Afrikaans.

Hierdie gidse kan mense leer hekel. Dit is in die mark getoets en bewys. Alles oor hekel 2 is steeds ’n beginnersgids en dit bou voort op die gebruiker se algemene hekelkennis en sluit ook ’n spektrum van basiese patrone en nuwe steke in.

Hierdie nuwe boek sluit die volgende in:
•          Nuwe basiese steke soos die roos- of worssteek (bullion stitch), die Solomonknoop (Solomon’s knot), die verlengde kortbeen (extended single crochet) en nog vele meer
•          Meer as 100 patroonsteke
•          Spirale en spiraalskulpe
•          Riglyne vir die ontwerp van ’n basiese hekelpatroon en ’n mus
•          Hoe om ’n vierkant, driehoek en seshoek uit ’n sirkel te vorm
•          Hoe om lae te hekel
•          Hoe om jou eie knope te hekel
•          Hoe om ’n ritssluiter in te sit
•          Hoe om motiewe aanmekaar te hekel
•          ’n Volledige indeks met Engelse name


Koskaskos
Francois Ferreira
ISBN: 9780799368420

’n Koskas wat deeglik beplan is, word die lewensbloed van enige kombuis en verteenwoordig die noodsaaklik boustene van voedsame en watertandlekker maaltye. ’n Verdere voordeel is dat ’n ordentlike koskas jou die moeite spaar om na die naaste winkel te jaag vir daardie een bestanddeel wat nodig is om ’n heerlike maaltyd voor te berei – dit maak nie saak of daardie maaltyd vir die gesin of vir onverwagte gaste voorgesit word nie.

Koskaskos gee nie net raad oor die noodsaaklike kruie, speserye en kositems wat in jou koskas hoort nie, die resepte gebruik ook gewone bestanddele uit jou koskas en help jou om hulle op vindingryke maniere voorberei, sodat alledaagse bestanddele en disse in buitengewone geregte omskep word.

Daar is ook wenke om die regte geure te kombineer sodat gewone bestanddele in uithalergeregte transformeer kan word wat die gesin én gaste sal laat vra vir ’n tweede skeppie.

Die hoofstukke sluit in:

  • Dit en dat (koskasnoodsaaklikhede en -wenke)
  • Ons daaglikse brood
  • Vars!
  • Rys, grane en ander sade
  • Pakkies, sakkies en blikkies
  • Pasta, aartappels en peulgroente
  • Soppe en allerlei souse
  • Deli
  • Soete verleiding
  • Partytjies is plesierig

Die boek bevat meer as 180 resepte met verskeie variasies.

François Ferreira is ’n bekende en beminde sjef. Hy is ook ’n kampvegter vir goeie kos. Sy moderne, en soms aweregse, benadering tot Suid-Afrika se ryk en uiteenlopende kostradisies het hom reeds ’n welkome gas in Suid-Afrikaanse huishoudings gemaak.

Behalwe vir sy werk as hoof van die Eden School of Culinary Art, resepontwikkelaar en kookboekskrywer, skryf François ook gereelde koerantrubrieke en is ook ’n gewilde radio- en tv-persoonlikheid.


Cupboard cuisine
Francois Ferreira
ISBN: 9780799368437

A well-stocked food cupboard or pantry is the nerve centre of any kitchen and it represents the essential building blocks for nutritious and mouth-watering meals. As a further benefit, it means that you don’t have to dash off to the nearest shop for that one elusive ingredient needed to complete a delicious meal – whether the meal is meant for your family or unexpected guests.

Cupboard Cuisine not only dispenses invaluable advice about vital herbs, spices and food items that need to be in your food cupboard, but the recipes use these in innovative ways, allowing everyday ingredients and dishes to be transformed into extra-ordinary cuisine.

The book also includes fundamentals and tips about combining flavours so that ordinary ingredients are turned into winning fare guaranteed to have family and guests asking for a second helping.

Chapters:

  • This and that (food-cupboard necessities, fundamentals and tips)
  • Give us our daily bread
  • Fresh!
  • Rice, grains and other seeds
  • Packets, bags and tins
  • Pasta, potatoes and pods
  • Soups and sauces for everyone
  • Deli delights
  • Sweets for my sweet
  • Party time

The book includes more than 180 recipes, which feature a number of hints and variations.

François Ferreira, the famous and well-loved chef and this foody’s modern, often unconventional, take on South Africa’s colourful and varied food culture has made him a welcome guest in South African households.

Apart from his work as principal of the Eden School of Culinary Art, recipe developer and cookbook author, François also has a regular newspaper column and he is a much-loved radio and television personality.


Hoezit 3: Die wonderwêreld van reptiele en amfibieë
Jaco Jaobs & Fanie Viljoen

ISBN: 9780799372854

Wat is die grootste en gevaarlikste reptiele op aarde? Watter soort slang is die giftigste? Hoe kry verkleurmannetjies dit reg om van kleur te verander? Dít en vele meer in dié fantastiese feitegids.


50 Blaaskansblokraaie 1
ISBN: 9780799370249

LAPA uitgewers span saam met drie van Suid-Afrika se bekendste blokraaiverskaffers om in een maand 100 blokraaie bekend te stel teen ongeveer R1,00 per A4-blokraai.

Dugeot, Penpret en Xword verskaf al vir jare woordpret aan populêre gesinstydskrifte soos Taalgenoot, rooi rose en Vrouekeur. Nou bundel LAPA hulle nuwe werk saam om taalliefhebbers te vermaak, want elkeen van die verskaffers het ’n unieke stempel en só verseker die uitgewers dat woordvrate bladsy vir bladsy uitgedaag word. Elke bundel bestaan uit 50 woordraaisels wat taalliefhebbers sal uitdaag, laat kopkrap en hulle tone sal laat krul van lekkerkry.

Dit alles op ’n A4-blad teen ongeveer R1,00 per blokraai.


50 Blaaskansblokraaie 2
ISBN: 97800799374452

Die eerste twee bundels is pas bekendgestel. Nommers 3, 4 en 5 van 50 Blaaskansblokraaie word beplan vir Junie, September en Desember 2015.

Die blokraaie word verskaf in ’n maklik-hanteerbare A4-formaat, gekrambind met ’n sagtebandomslag om vashou, skryf en uitvee te vergemaklik. Die oplossings word agter in die boek gepubliseer.

50 Blaaskansblokraaie bied aan woordraaiselliefhebbers die geleentheid om hulle skoene uit te skop, ’n koppie koffie te maak, ’n potlood op te tel en hulle gunstelingtydverdryf te beoefen.

In vandag se gejaagde samelewing is ’n blaaskans ’n noodsaaklikheid wat baie vir die produktiwiteit en die gesondheid beteken.


Sy Hart Se Punt
Ida Bester
ISBN: 9780799372496

Suné en haar swaer is mede-erfgename van haar skoonouers se plaas buite Dullstroom. Hy was haar jeugliefde, maar is onverwags met iemand anders getroud. Daarom wil sy die plaas vinnig verkoop hê. Maar Armand het ander planne ...


Siembamba: Immergroen rympies vir kinders
Wendy Maartens
ISBN: 9780799370577

Hierdie omvangryke, pragtig geïllustreerde versameling klassieke Afrikaanse rympies beloof ure se pret vir jonk en oud. Daar is bekende versies en minder bekendes, tergrympies en raaiselrympies, volksliedjies en lawwe sêgoed, aksierympies en tongknopers, gebedjies en slaaptydrympies. Siembamba: Immergroen rympies vir kinders is ’n moet-hê-boek vir elke Afrikaanse gesin se boekrak.


Prettige plaas
ISBN: 9780799372700

Die son lig sy kop, dit is oggend op die plaas. Daar’s geen diere wat blêr of blaf of raas. Haan maak almal wakker met ’n harde lawaai. “Koekeloe-koeee!” hoor die diere hom kraai.

Kom speel saam op die plaas en ontdek al die vriendelike dieremaats in hierdie opwindende opwip-storieboek. Verken die plaas en vind uit watter dier maak almal soggens wakker, kyk hoe die varke speel en mors en hoe die perde in die kampie galop.


Hibiskusvrou
Rykie Roux
ISBN: 9780799373561

Theuns slaan die onafhanklike en selfstandige Nerita se voete onder haar uit, maar toe breek haar een en twintigjarige seun Theuns se lieflingdogter se hart. Nerita weet Theuns sal haar nooit bo sy meisiekind kies nie.


Liefde vir ’n vuurvreter
Didi Potgieter
ISBN: 9780799373578

Imke trou halsoorkop met Mark Parker en kom tot haar skok agter dis eintlik Robert, sy broer, wie se naam op die huweliksertifikaat staan. Die Parker-naam moet ten alle koste beskerm word, en Imke en Robert besluit om die charade te leef tot sy haar groenkaart en hy sy wynplaas in Frankryk gekry het. Dan sal hulle paaie skei.


Haar eie sprokie
Cheryl Rogers
ISBN: 9780799373585

Die blonde Jandre Human is nie regtig Erika se tipe nie, tog voel sy aangetrokke tot hom. Wat is daardie magiese "iets" wat maak dat iemand vir jou uitstaan, en voel hy dieselfde oor haar?

Besoek LAPA se webtuiste om die boeke te koop.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top