ABRAK'DaBRA
Reinet Nagtegaal
ISBN: 978-0-9584880-6-8
Prys: R159.00
Bladsye: 320
ABRAK'DaBRA is die nuutste roman uit die pen van Reinet Nagtegaal. Haar vorige boek Voorvaders kan vlieg, sê Delores is bekroon met die Insig en Sanlam debuutprys. In hierdie nuutste roman word die stroewe regstelsel teenoor die metafisiese wêreld geplaas. Dit handel oor drie vroue ('n regter, 'n skoonmaker en 'n advokaat) wat binne die strak parameters van 'n regspraktyk soos wafferse hekse met ou resepte van alchemiste en die geheime uit die boek van die skepping speel. Die verhaal ondersoek die skeppingskrag van woorde en hoe die karakters deur taalgebruik hul woorde laat transponeer in werklikheid en so verantwoordelik raak vir hul eie en ander se noodlot. Die verhaal is deurspek met surrealisme, galge humor en 'n blik op fragiele mense. Daar is liefde en verraad, die ontmaskering van alles wat hoog en verhewe lyk en die slotsom dat sinloosheid die hoofkarakters dryf om na wysheid te streef en dat wysheid hulle uiteindelik weer met sinloosheid konfronteer.
“ 'n Opwindende, uitdagende roman en 'n besondere vooruitgang in die skrywer se oeuvre."
Professor Joan Hambidge Universiteit van Kaapstad.
"Ek is beïndruk met die briljante verwisseling van karakters wat voor 'n mens leef; die prikkelende intertekstualiteit (so fassinerend soos wat ek laas in Leroux se Een vir Azazel beleef het); 'n ragfyn female sensibility; 'n wonderlike sin vir galge humor, en 'n pynlike ervaring van gemarginaliseerde mense.”
Professor Martin Botha Universiteit van Kaapstad.
“'n Meesleurende en boeiende teks. Byvoeglike naamwoorde ontbreek om die trefkrag van hierdie teks te omskryf. Vanaf die eerste bladsy is ek bewus van 'n meesterverteller.”
Doktor Marthinus Beukes Universiteit van Johannesburg.

