
Eksieperfeksie-Afrikaans is opnames wat nuwe sprekers met die uitspraak van Afrikaans begelei.
Vanaf die eerste kennismaking met ’n nuwe taal, moet die voornemende spreker probeer om nuwe klanke en woorde so vinnig moontlik met selfvertroue te hanteer. Die uitdaging is om dié taak met so veel spoed en genot as moontlik aan te pak – ’n ideaal wat ons rekenaarprogram, Eksieperfeksie-Afrikaans, hopelik sal ondersteun. Die opnames illustreer die unieke intonasie of “wysie” van die Afrikaanse manier van praat. Sorg is gedra om óf sosiale gesprekvoering in verskillende situasies te skep, óf bloot taalkundige paradigma te illustreer. Luister-, lees- en skryfoefeninge word dus gekombineer om woordeskat en taalsoepelheid in alledaagse situasies uit te bou.
Leon van Nierop en sy span het die dialoë in die Maroela Ateljees in Pretoria opgeneem en geredigeer. Die karakters is vertolk deur professionele akteurs uit die verskillende Afrikaanse taallandskappe. Die stemopnames van meer grammatikale temas is gedoen deur Rina Loader en Reina-Marie Loader (Faculty of Media and Communication, Bournemouth University, England).
Marieke Goedegebure (Nederlandse taaldosent) wys tereg daarop dat ’n sterk aksent die aandag van die luisteraar aflei, maar aan die anderkant verdien ’n goeie uitspraak gewoonlik baie bewondering. Die einddoel van Eksieperfeksie-Afrikaans is dan ook om by te dra tot bewondering van nuwe sprekers se verworwe taalvaardighede.

