
Hertzogpryswenner Nicola Hanekom is bekend vir haar plekspesifieke produksies. In 2023 keer sy terug na die KKNK met hierdie nuwe omgewingspesifieke drama wat afspeel voor ’n vervalle huis buite Oudtshoorn. Jessie keer na baie jare terug na haar ouerhuis met magiese idees en konfrontasie in haar hart. Tydens haar besoek ontdek haar familie dinge wat hul hare laat rys.
Mirre en aalwyn was in 2020 ’n Woordveertjie-finalis onder die titel Verwyt.
“In elke Nicola Hanekom-teaterstuk is daar iemand wat snak na sy asem. ’n Snak wat meer is as net na lug; eerder na suurstof vir die siel. Asof jy lank in ’n kis toegesluit was en jy nou kan asem skep.” — Rozanne Els
“As teaterskepper het Hanekom werklik nie ’n gelyke nie. Jy soek nóg, want Hanekom bring nuwe teater wat dinge met jou kop en hart doen.” – Laetitia Pople
“Nicola het ’n verbeelding wat aan die absurde grens. Sy het ’n manier om jou onverhoeds te betrap, jou met elke ademteug te verstom en jou met elke nuwe toneel na plekke te naam waar die wonderbaarlike en die absurde op ’n sekere manier sin maak. Of ook nie sin maak nie, maar jou steeds betower.” – Mariana Malan
Hanekom se dramas is al met talle pryse bekroon en haar werk word as vernuwend en grensverskuiwend ervaar. Vir haar trilogie Betésda, Lot en Babbel ontvang sy altesaam elf Kanna- en vier Fiësta-toekennings. Sy wen ook twee ATKV-Woordveertjies vir beste dramateks vir Babbel en Trippie. Haar ruimtelike drama, Land van skedels, ontvang vier Fiësta-toekennings en sy word bekroon met Beeld se Aardvark-prys vir grensverskuiwende werk. In 2015 ontvang sy die Onbeperk-prys vir vernuwende denke, en in dieselfde jaar ook die Eugène Marais-prys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar verhoogstukke Hol en Trippie, gepubliseer as Die pad byster. In 2021 is die Hertzogprys vir drama aan haar toegeken vir haar toneelstuk In glas wat deur Protea Boekhuis uitgegee is (2018).

