
Chris Vorster het onlangs 'n boek geskryf oor Marius Weyers. Chris se splinternuwe biografie handel oor ’n akteur wat diep spore in ons vermaaklikheidswêreld getrap het en met wie hy – en veral Katinka – al ’n lang pad loop. Marius wou nooit ja sê vir ’n biografie nie – sy verweer was altyd “die tyd is nie reg nie”. Maar Chris kon hom uiteindelik ompraat. Die eindproduk is ’n intieme blik op ’n omvangryke loopbaan en ’n lewe gelééf. Marius maak oop oor die uitdagings en sukses, maar ook tye van groot alleenheid en moedeloosheid. Hy vertel snaakse staaltjies van hoe erg dinge kon skeefloop, en onthou die mentors op sy pad. Deur al die stories heen loop daar egter ’n goue draad: die liefdesverhaal van Marius en sy vrou, die beeldhouer Evette, wat onlangs oorlede is.
Marius Weyers is die Paul Newman van ons generasie. – Pieter-Dirk Uys
Hy is vir my die verpersoonliking van gravitas. – Dawid Minnaar
Hy het die spilpunt geword vir ons álmal. – Jana Cilliers
Daar is ’n rotsvastheid in hom wat heerlik is om na te kyk. – Marthinus Basson
Hy kom uit ’n generasie – anders as vandag se akteurs wat alles oor hulself op sosiale media deel – wat nog steeds misterieus is. – Anna-Mart van der Merwe

