
Die hoofkarakter, Marnus, is ’n ondersoekende joernalis, ’n libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen wit mens struggle credentials het nie. In sy jeug het hy ’n beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon. Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ’n paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke. Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrouheid en ware liefde, met humor en hart.

