
’n Afgelegde professor in Durban, KwaZulu-Natal, dink terug en probeer sin maak van sy verlede. Hy leef met ’n vrou in sy herinnering – Mied. Deur die oënskynlike diefstal van sy geel Volkswagen Kewer met sy hond Os-Moses agterin, ontmoet hy ’n Afrikaanssprekende Zoeloe-meisie, Mandie. Hy word Mandie, haar ma, Nxasana, en ’n gestremde kind na wie Ma Nxasana omsien, Gumanam, se vertroueling. Intussen word hy lastig geval met oproepe van ene John wat ’n MA wil doen oor ekoliteratuur en mineurskrywers. Is mos oos is ’n surrealistiese, byna absurde roman; ’n verhaal van verandering wat ontvou in die spel van name en die vervloeiing van uiterstes: hede/verlede, man/vrou, leuen/waarheid, lewe/dood.

