Nuut by Naledi: Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik – ’n huldiging, onder redaksie van Karen de Wet

  • 0

Die skerpgevylde oomblik is ’n huldigingsboek vir geliefde en bekroonde skrywer Petra Müller en bied nuwe perspektiewe en herwaarderings van haar bekendste werk. In agt hoofstukke deur gewaardeerde kenners word onderhoudend en insiggewend geskryf oor posthumanisme, totemisme, mens-dierverhoudings en ekokritiese aspekte in Müller se kortverhale, terwyl ook sin-beeld-verhoudings en die elegiese en erotiese in haar poësie bespreek word. In ’n oorsig oor haar skryfloopbaan word daar vir die eerste maal ’n inklusiewe beskouing gegee op die veelsydige produktiwiteit van hierdie skrywer. Sy was ’n joernalis wat reisartikels en essays geskryf het, en sy was ’n resensent. Vir haar populêre romans, tydskrifverhale en koerantrubrieke het sy ook skrywersname gebruik; en sy het kinderboeke vertaal en kinderboeke geskryf. Alles bykomend tot die literêre oeuvre van agt digbundels en vier bundels kortverhale.

Die skerpgevylde oomblik, onder redaksie van Karen de Wet, vorm deel van die SAAWK se huldigingsreeks oor Hertzogpryswenners. Die reeks bied akademiese perspektiewe (met dubbelblind ewekniebeoordeelde artikels) en lewer ’n wesenlike bydrae tot bestaande literêr-historiese navorsing. In vyftien nuwe gedigte wat oor Müller en haar werk handel, word daar telkens ’n heel eie lig gewerp op Müller en onderwerpe waaroor sy dikwels geskryf het, op hoe sy gekyk en verwoord het, en ook op die invloed wat sy as mens en digter gehad het.

Die digters is Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Marius Crous, Johann de Lange, Thomas Deacon, Tom Dreyer, Clinton V du Plessis, Heilna du Plooy, Melanie Grobler, Joan Hambidge, Marlise Joubert, Loftus Marais, Charl-Pierre Naudé en Carina Stander.

Die navorsingsbydraes is geskryf deur Riëtte Botma (US), Marius Crous (NMU), Karen de Wet (UJ), Sonja Loots (UK), Susan Meyer (NWU), Adéle Nel (NWU), Francois Smith (UV) en Louise Viljoen (US).

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top