
’n Bont paneelwa storm een Woensdagmiddag in Mei in ’n Kareeburgse stofpad af. ’n Rondloperhond, aangedra deur Herklaas se stiefma omdat daar nie plek is vir hom by die DBV waar sy werk nie, spring oor hulle plot se hek en sit die paneelwa agterna. Dít kondig ’n raaisel aan wat Herklaas en sy vriende Johnny en Stef spoedig konfrontreer. ’n Speurder daag by Herklaas-hulle op, identifiseer die hond as Butch, en sê die hond is ’n sindikaatbaas s’n. Meer as dít wil hy nie uitlap nie.
Die raaisel verdiep toe ’n vreemde kennisgewing in die plaaslike koerant verskyn en ’n ou Sjinese operateur van markstalletjies kapokkies by Herklaas se suster wil koop. Kort daarna daag twee Sjinese by Johnny-hulle se tydrenoefening op. Herklaas se suster berig dat Sjinese by hulle toutrekoefening ook was. Die koerantredakteur vertel dat nóg vreemde kennisgewings in die koerant gaan verskyn. Omdat Stef die eerste kennisgewing ontsyfer het, span hulle en die redakteur saam om die boodskappe in dié nuwe kennisgewings te ontsyfer. So ontdek hulle die vreemdste sindikaatbedrywighede op die dorp. Misdaad, vind hulle uit, het vele gesigte. Die uiteindelike ontmaskering van die sindikaatbaas is verrassend.
Beide ouer tieners en volwassenes sal hierdie lekker vinnigbewegende misdaadjeugroman geniet. Dit is propvol interessante karakters , borrelende humor en bruisende dialoog. ’n Moetleesboek.


Kommentaar
Baie geluk, Rudi!