Nuut by Naledi: Miniatuur deur Johann de Lange

  • 0

Johann de Lange doen dit weer in 2024!

In Miniatuur vind ons ’n behendige hantering van die kwatryn soos die digter ook in sy vorige twee bundels, Weerlig van die ongeloof en Duimnaelsketse, gedoen het. Die gedrongenheid en dissipline maak die kwatryn ’n uitdaging, en dié digvorm is duidelik ’n vorm wat die digter aanstaan.

Die 102 kwatryne is in vyf afdelings opgeneem, en open met “Skryf as bonsaikuns”:

Skryf as bonsaikuns

Die aandag van die oog se lens
& die gawe van die verdig(sel)kuns
(die tydsaam verbuig & wegflens):
openbaar die kwatryn as bonsaikuns.

Die langsame buig en wegsnoei om die bonsai tot stand te bring word vergelyk met die skryf van die kwatryn, waar soortgelyke arbeid nodig is om aan die eise van die kwatrynvorm te voldoen.

Die eerste afdeling, “I Voëls”, bevat kwatryne oor die natuurlike lewe en die seisoene; “II Middernagtrein” bevat kwatryne oor liefde, erotiek en die seksuele; “III Kom herfs, kom winter” bevat verse wat handel oor oudword, verval en ontluistering; en laastens bevat “IV Afsien” kwatryne wat oor die dood handel, oor afskeid en verlies. Die kwatryne in hierdie verskillende afdelings praat met mekaar, antwoord mekaar, en vir die belese leser is daar ’n volgehoue gesprek met die Afrikaanse digtradisie.

Die bundel sluit af met V Rust-mijn-ziel, sestal kwatryne wat Hennie Aucamp gedenk.

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top