
Vertaal deur Rina Cascione
Kliniek van verlatenheid is Rina Cascione se vertaling van die befaamde Italiaanse digter Alda Merini se laaste versameling gedigte. Merini het onder andere die Guggenheimprys ontvang en is twee keer vir die Nobelprys vir Letterkunde aanbeveel, onderskeidelik deur die Franse Akademie en die Italiaanse PEN.
Rina Cascione het haar professionele loopbaan en die jare daarna aan die kunste gewy. Sy het musiek op Stellenbosch studeer, met ’n verdere drie jaar oorsee, in Strasbourg en Genève. Daarna het sy ’n BA-graad, met onder andere kunsgeskiedenis, Frans en Duits as vakke by Unisa behaal. Haar debuutbundel, Meer as woorde (Naledi 2021), word deur die digter en Hertzogpryswenner Johan Myburg as sprekend van ’n “deurleefde ervaring met fyn aanvoeling” geprys. Dié bundel het ’n aantal vertalings ingesluit.
Cascione se derde taal is Italiaans, en saam met haar oorlede Italiaanse eggenoot, Paolo, het sy jaarliks lang tye in Italië, haar tweede tuiste, deurgebring. Daar het sy vertroud geraak met die Italiaanse digkuns.

