Nuut by Naledi: Kaiings deur Daniël Louw

  • 0

Kaiings wil sê: Waarheid en wysheid is twee karperde wat weet dat dit in die ritme van lewe nie altyd klopdisselboom gaan nie. Mens word ontnugter deur die feit dat waarheid dikwels verpak is in kaiings van twyfel, sinisme, valsheid en oppervlakkigheid. Selfs Pilatus het gesukkel terwyl die Sanhedrin hom woedend aangluur: Wat is waarheid?

Die media beweeg dikwels tussen feit en sensasie. Waarheid word omhul deur skyn en die teendeel van feitelikheid, naamlik bedrog en leuens. Die media laat mens twyfel.

So ook is wysheid meestal ’n masker vir dwaasheid en eie gewin. Veral in publieke kommunikasie en politieke debatte.

Ook die waarheid van die Christelike geloof word maklik verpak in kerspapier van kerklike formules en sinodeverslae oor hoe om geloof suiwer te hou en van dwaling te bevry.

Ongelukkig kan geloofsbelydenisse ook met behulp van die kulkuns van interpretasie en kultuurparadigmas, met hermeneutiese “spekskiet” verpak word.

Die titel wil sê: Die waarheid van kaiings braai uit en kierankies vorm harde kastaiings wat niemand weet hoe om uit die vuur te krap nie. Selfs die harde neut van hoe om oor God op outentieke wyse na te dink proe, na baie eeue van ortodoksie, effe galsterig.

Hierdie boek waag nie met definisies oor die wat van geloof en die sin van die lewe nie, maar karring voort oor die hoe van geloof: Om met blomkoolore te skrum (volharding), met derms te geniet (God se vrolike ruil) en empatie te luister (barmhartigheid).

Om weer sinvol te lees en te leef, in bliksemgedagtes met dood te moet worstel en te voorkom dat ek as pastor bloot as ‘n hoëpriester met aparte pyn gebrandmerk word, moet ek soms van Weskus bokkom-spraak, asook van tinktinkietaal en mossiegetjirp gebruikmaak!

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top