
Ek het ’n engel gesien is stories wat skrywer en raakprater Amore Bekker ontvang het as voormalige RSG-aanbieder nadat sy luisteraars gevra het om hul ontmoetings met engele te deel. “Die terugvoering was oorweldigend,” sê sy. “En met elke storie was die versoek, ‘Sit dit vir ons in ’n boek, asseblief’.”
Dié boek is gevul met diep menslike ervarings van hoogs geestelike wesens vanuit elke uithoek van ons land … Van gevaarlike paaie en traumatiese ongelukstonele tot pediatriese sale en intensiewesorg eenhede … Van die verpletterde ma wat langs haar dogter se ongelukstoneel gehelp is deur drie onsigbare vroue in hoëhakskoene en die wanhopige pasiënt wie se oorlede ouma ’n leërskare engele na haar bed toe gelei het tot die geheimsinnige vertroosting van ’n wit veer op ’n tafel in ’n industriële gebied sonder bome of voëls.
Rakende hierdie sonderlinge versameling, haal Amore ’n wyse man aan: “Dit wat ons kan tel, tel glad nie; dit wat ons nie kan tel nie, is al wat tel.”
Die verhale in Ek het ’n engel gesien gaan inderdaad oor die onsigbare en ontelbare wat elke leser sal verstom en inspireer.
Die illustreerder is die Durbanse kunstenaar Deirdre Schoultz. Haar eteriese tekeninge voeg ’n dimensie van intrige en misterie by die roerende verhale.


Kommentaar
Ons lees in die Bybel dat die engele dienende geeste is wat deur God geskep is. Ons behoort veel meer aangeraak te word deur wat die Here deur hierdie dienende geeste doen, as wat ons geraak word deur die engele wat deur God in al hierdie situasies gebruik word.
In al hierdie wonderverhale in die boek, moet God die eer kry en nie die engele nie. As 'n skrynwerker 'n kunswerk gemaak het, gaan hy immers die krediet kry en nie die houtwerkgereedskap (dienende instrumente) wat hy in die proses gebruik het nie.