Titel: die helfte is jou nie vertel nie
Skrywer: Thérèse Bartman
Uitgewer: Naledi (Augustus 2025)
ISBN: 9781067234669
In die helfte is jou nie vertel nie verken Thérèse beide die noodsaaklikheid én beperkings van die geskrewe woord. Sy keer terug na die orale, klankryke tradisie van poësie – veral as dit gaan oor die ervarings van mense wat nie kon lees of skryf nie, of wat deur die gemeenskap stemloos gelaat is. Daarom het Thérèse met Jitsvinger saamgewerk om “klankbane” te skep vir elf van haar gedigte. Elkeen van dié gedigte het hul eie QR-kode in die bundel.
In die helfte is jou nie vertel nie gaan Thérèse die onvertelde Suid-Afrikaanse geskiedenis in. Sy besin oor die ervarings van vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse oorlog, asook die van haar eie voorouers. “Hoekom?” word die eerste kletsrym in Afrikaans oor wit en swart kindersterftes tydens die Suid-Afrikaanse oorlog. Sy wil deur haar poësie ook die huidige traumas wat jong mense raak, sigbaar maak, en van haar persoonlike verliese merk.

