Nuut by Naledi: Anne van Green Gables deur Lucy Maude Montgomery

  • 0

Vertaal deur Jackie Lätti

Toe Lucy Montgomery middae in die laatstrale van die son by haar venster gesit en skryf het aan haar storie oor die enigmatiese Anne, sou sy nooit as te nimmer kon droom dat dié verhaal, meer as honderd jaar later, steeds die harte van mense oor die aardbol heen sou steel nie. Anne of Green Gables is reeds in meer as 36 tale vertaal. Daar is al vollengte films, radiodramas, televisieflieks en -reekse, strokiesprente, musiekblyspele en teaterproduksies daarvan geskep … alles geïnspireer deur Montgomery se wonderskone verhaal oor die eksentrieke klein weeskind met die rooi hare, flinke brein, vinnige humeur, sagte hart en verbysterende woordeskat. Sy sou nooit kon voorsien dat Prince Edward Island, Kanada, waar sy lewe in haar karakters geblaas het, in die geheue van kinders en grootouers/volwassenes van talle tonge en tale sou woon nie. Daar is trouens jaarliks produksies van Anne of Green Gables in Europa en Japan. Lucy Montgomery het heelparty opvolgverhale geskryf en meer as 67 jaar ná haar dood is The Blythes are quoted gepubliseer. In 2008 is ’n voorspel, Before Green Gables, deur Budge Wilson geskryf om die 100ste jaar van die boekreeks te gedenk. Die oorspronklike boek word vandag nog aan studente oor die wêreld heen voorgeskryf.

Jackie Lätti is kleurryk en geheimsinnig; daarom sal mens nooit weet wat sy al alles gedoen het nie. Iewers in haar lewe was sy by die Universiteit Stellenbosch, waar sy drama studeer het. Sy kan met gemak die persona van ’n Namakwalandse ouma of ’n seuntjie van die Kaapse Vlakte aanneem. Sy het al radiodramas en teaterstukke geskryf en opgevoer. Meer onlangs het sy die teks van haar en Riku Lätti se musiekblyspel Pop aan ’n toutjie geskryf. Sy het The richest man in Babylon deur George Samuel Clason in Afrikaans vertaal. Jackie is ’n veelsydige stemkunstenaar wat onder andere Jaco Botha se Lulu Lerulu-kinder-oudioboek voorlees en talle karakters daarin vertolk. Sy is die matriarg, stem, vertaler en garderobemeesteres van Die Wasgoedlyn en die stem agter Churchil Naudé se albums.

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top