Nuut by Malan Media: AHI: Die Afrikaanse Handelsinstituut – Die kaalkop waarheid oor 75 jaar van hoogte- en laagtepunte deur Tom Moodie

  • 0

Die boek beskryf hoogte- en laagtepunte oor die 75 bestaansjaar van die Afrikaanse Handelsinstituut. Dit is die verhaal van die ekonomiese emansipasie van Afrikaner-besighede en die dinamiese rolspelers oor hierdie periode. Die boek beskryf die sakemodel wat vir 50 jaar suksesvol gewerk het en beskryf verder hoe dit ná demokratisering verander is, wat tot die ondergang van hierdie organisasie van aansien gelei het. Daar word ook gekyk na die debakel tydens die Spesiale Algemene Vergadering in September 2017, wat die laaste spyker in die doodskis van die AHI was.

Die boek behandel, benewens die impak wat die AHI oor die 75-jaar-periode op die landsekonomie uitgeoefen het, die rol en plek van die AHI binne ’n Afrikaner-kultuurkonteks, maar ook binne die politieke opset van die dag soos gemanifesteer oor die driekwart eeu van sy bestaan.

Buiten die verskoning wat die AHI voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie vra vir ongeregtighede van die verlede, beskryf die boek ook die bydrae en rol wat verskeie hoof-uitvoerende beamptes oor die tydperk gespeel het. Reg of verkeerd het hulle hul rol gespeel om die aansien en dinamiek van die AHI nie alleen in stand te hou nie, maar ook uit te bou of, aan die ander kant, by te dra tot sy ondergang. Dit is ook die verhaal oor tyd wat gelei het tot die stelselmatige verengelsing van die Afrikaanse Handelsinstituut. Die boek kyk voorts in ’n aparte hoofstuk na “wie is wie – gister en vandag” in Afrikaner-besighede en hulle invloed soos oor die periode gemanifesteer.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top