
Dit is 1899. Oorlog tussen Brittanje en die Boererepubliek lyk onafwendbaar. Magdalena se familie verlaat die Kaapkolonie vir die Oos-Vrystaat sodat haar pa vir die Republiek kan baklei. Jacobus se familie, en sy vriend Henog, is weer op pad Kolonie toe, juis om die oorlog te probeer ontglip. Die twee trekke se paaie kruis by die Leeurivier; ’n ontmoeting wat ’n onherroeplike invloed op die res van Magdalena, Jacobus en Henog se lewens sal hê. Van hulle vestiging op Nooitgedacht tot die eerste skote by die Slag van Stormberg, van guerrillaoorlogvoering met die Boerekommando’s tot die Britse verskroeideaardebeleid, van die konsentrasiekampe tot die poging om te hervestig na die oorlog; deur alles en meer sal hulle ’n pad moet oopkap om hul plek in hierdie onstuimige land te vind. JJ Olivier is ’n debuutskrywer en het baie navorsing oor die Anglo-Boereoorlog gedoen.

