
Hierdie boek dien as ’n hulpbron of roetekaart vir enige student, opvoeder, onderwysdistrikspersoneellid of enige ander persoon wat by die onderrig en opvoeding van mense betrokke is en na verbeterde leeruitkomstes streef. Leer- en onderrigprosesse vind binne bepaalde leerruimtes of leeromgewings plaas, en elk van hierdie ruimtes het ’n unieke karakter asook potensiaal wat wag om ontsluit te word. Onderrig of die oordrag van kennis kan in byna enige ruimte, soos ’n klaskamer, laboratorium, tuin of onder ’n boom, plaasvind. Ongeag op watter ruimte daar vir leer en onderrig besluit word, moet daar deurgaans fyn besin word oor hoe om die potensiaal wat in die verskillende leerruimtes opgesluit lê in die beste belang van die leerders of studente te ontsluit, aangesien dit ’n direkte invloed op leeruitkomstes en akademiese prestasies kan uitoefen.

