NouNet: Brandstofpryse se vooruitsig lyk nie te goed

  • 1

Wisselvallige brandstofpryse gee menige Suid-Afrikaner ’n kopseer en dié maand is dit geensins anders nie, met brandstofpryse vir Maart wat weer skerp gestyg het. Petrol het hierdie week 74 sent per liter duurder geword en diesel tussen 91 en 93 sent.

Na afloop van skerp stygings verlede jaar, en brandstofpryse wat rekordhoogtes in Oktober bereik het, het Suid-Afrikaners tóg ’n sug van verligting geslaak toe pryse in Januarie gedaal het. Die geluk was egter van korte duur, met die Departement van Energie wat weer stygings vir Februarie en nou ook Maart aangekondig het. Bo en behalwe dit het die minister van finansies, Tito Mboweni, in sy begrotingsrede aangekondig dat die heffing vir petrol in April met 29 sent per liter gaan styg en vir diesel 30 sent.

Dawie Maree, ’n ekonoom en hoof van bemarking van landbou van Eerste Nasionale Bank, lewer kommentaar oor die impak van die stygende brandstofpryse op die verbruiker en landbousektor.

...............................................................................................

Suid-Afrikaners gaan reeds gebuk onder hoë lewenskostes en in die afgelope paar maande het die brandstofprys telkens gestyg, baie meer as wat dit gedaal het. Wat is die impak van die jongste brandstofprysverhogings op Suid-Afrikaners?

Die styging het ’n direkte en indirekte impak. Eerstens direk, omdat jy onmiddellik meer betaal by die pomp. Dit verminder natuurlik jou besteebare inkomste, aangesien brandstof ’n niediskresionêre uitgawe is (jy moet brandstof gebruik om te kan werk, ens). Die verbruiker is reeds onder druk en hierdie styging gaan die druk net groter maak. Indirek gaan dit natuurlik ander kostes laat styg, bv voedsel, wat afhanklik is van brandstof vir produksie en vervoer.

Wat is die impak van die stygende brandstofpryse op die landbousektor?

Net soos die verbruiker is landbouers prysnemers en dus kan die styging in koste nie deurgegee word aan iemand anders in die waardeketting nie. Produsente (veral graanboere) is groot gebruikers van diesel en gaan reeds gebuk onder druk agv die kosteknyptang (stygende insetkoste en lae produkpryse). Die styging van 91 sent beteken ’n addisionele jaarlikse koste van ongeveer R900 miljoen vir die landbousektor.

Na Januarie se daling in die brandstofpryse het Suid-Afrikaners ’n bietjie hoopvol geword oor die brandstofprys, maar met Mboweni se begrotingsrede, waar hy aangekondig het dat die brandstofheffings gaan styg, het die hoop weer gekwyn. Hoe lyk die vooruitsig vir brandstofprysevir later die jaar? Is daar hoop?

Ongelukkig is die vooruitsigte nie baie goed nie. Die wisselkoers gaan wisselvallig bly in aanloop tot die verkiesing, maar die ander probleem is die Brent-ruolieprys. Agv die beperking in produksie deur OPUL (OPEC) het die pryse toegeneem. Die invloed van die handelskwessies tussen die VSA en China het ook ’n invloed op ruoliepryse. Ek dink dus ons moet ons staal vir nog verhogings.

  • 1

Kommentaar

  • 'n Meer stabiele rand kon dalk die druk verlig het. Die rand het van ongeveer
    R3.45 in 1993 tot sy huidige vlak onder die ANC regering geval.
    'n Swak rand mag dalk goed vir uitvoere wees, maar met 'n stygende olieprys voorspel stygende petrolpryse niks goed vir ons as verbruikers nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top