Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.
Woensdag, 22 Januarie 2020
Op 22 Januarie 1879 is die magtige Britse leër een van sy swaarste nederlae deur die Zoeloe-krygers by Isandlwana toegedien. Van die 1 800 Britse en koloniale troepe, is meer as 1 300 uitgewis en daarmee het die hoogs onderskatte Zoeloe-krygers ’n skrikwekkende waarskuwing aan die verwaande, egoïstiese Britse koloniale owerheid gestuur. Dit is terloops hierdie slagting wat die gewilde wyle Johnny Clegg geïnspireer het om “Impi” te skep. Toe dit in 1981 geskryf is, is dit om apartheidsredes deur die destydse Suid-Afrikaanse Radiodiens verbied weens die bedoelde politieke ondertone in die lirieke. Vandag word hierdie lied, ironies genoeg, met die Springbok-rugbyspan vereenselwig (’n assosiasie wat die Engelse rugbyondersteuners steeds sonder twyfel warm onder die kraag sal maak).
Gedurende die laat 1870’s was die hele suidelike punt van Afrika gekenmerk deur politieke onrus, hoofsaaklik gedryf deur die Britse imperialistiese beleid. Die Kaapse koloniale magte het op daardie stadium die amaXhosa verder oos en noord verdryf, en hulle daarmee as ’n politieke rolspeler vernietig; die Transvaal was in die proses om in ooreenstemming met Lord Carnarvon se federale beleid geannekseer te word; en die Britse politici het voorberei om Zoeloeland onder Koning Cetshwayo kaMpande binne te val.
Gedurende hierdie tyd het twee Britse leëreenhede, die Eerste en Tweede Bataljonne van die 24th Regiment of Foot, by die Kaap voet aan wal gesit. Onder hulle was die 36-jarige Eerste Bataljon-adjudant, luitenant Teignmouth Melvill, en die 26-jarige luitenant Nevill Coghill van dieselfde bataljon. Beide manne het, reg of verkeerd, ’n onwrikbare lojaliteit teenoor hulle regiment, koningin en Ryk gehad. Elke bataljon het ’n banier gehad, bekend as die Koningin se Vaandel, as simbool van eenheid en trots van die regiment. Dit het vir die manne alles wat goed en waar is verteenwoordig. Die beslaglegging of verlies van die Vaandel tydens ’n veldslag was vir hulle, soos JA Verbeek dit noem, “… ’n disintegrasie van die regiment”, of die totale vernietiging van die regiment. Dit moes ten alle koste verhoed word.
Dit was Melvill as adjudant se plig om tydens die slag van Isandlwana toe te sien dat sy bevelvoerder, kolonel Pulleine, se opdragte behoorlik uitgevoer word. Coghill se beweging was egter beperk tot sy tent weens ’n beseerde knie. Om 12:30 het dit tot die Britte deurgedring dat hulle aangeval word. Teen 15:00 het hulle teëstand alreeds totaal verkrummel. Volgens oorlewering het Pulleine voor hy gesneuwel het vir Melvill met die verantwoordelikheid opgesaal om met die Vaandel na Natal te ontsnap.
Die ontsnappingsroete is egter deur die Zoeloes afgesny. Een oorlewende het die situasie beskryf as ’n “toneel van totale verwarring … berede en voetsoldate, swart en wit, Engelsman en Zoeloe, almal in ’n wriemelende massa, bewegend deur die kamp na die pad, waar die Zoeloes alreeds die weg na ontsnapping afgesny het”. Die terrein rondom die Buffelsrivier was blykbaar so ongelyk dat “… die Zoeloes net so vining soos die perde kon beweeg, terwyl hulle voor die voet doodmaak”.
Melvill en Coghill het darem daarin geslaag om die rivier te bereik, en Coghill het daarin geslaag om dit te kruis. Maar Melvill het van sy perd afgeval en is deur die sterk stroom meegesleur. In plaas daarvan om weg te ry en so sy eie lewe te red, het Coghill omgedraai en weer by die rivier ingery om Melvill (en die Vaandel) te red. ’n Groep Zoeloes wat met vuurwapens gewapen was, het egter op hulle losgebrand en in die proses Coghill se perd doodgeskiet. Hoewel die twee mans hard teen die stroom moes veg, het hulle tog uiteindelik met die hulp van ander voortvlugtendes die oewer van die rivier bereik. Na ’n klompie meter het Melvill van uitputting inmekaargesak maar die ander beveel om sonder hom voort te gaan. Coghill het egter geweier. Hy het die ander beveel om voort te gaan maar self by Melvill agtergebly.
Intussen het ’n gedeelte van die Zoeloe-mag ’n aanval op die Britse buitepos by Rorkesdrif geloods. Maar hierdie keer was die Britte daartoe in staat om hulle posisies suksesvol te verdedig, al was hulle weer deur ’n geweldige oormag gekonfronteer. Na hierdie veldslag was die lot van Melvill, Coghill en die Koningin se Vaandel steeds onseker. Die Britte het langer as twee weke geneem voor hulle patrollies uitgestuur het om vir oorlewendes te gaan soek. Die “reddingspatrollie”, gelei deur majoor Black, het die pad gevolg totdat hulle die liggame van Melvill en Coghill gekry het waar hulle mekaar tot die dood toe verdedig het.
Desnieteenstaande was die Koningin se Vaandel steeds vermis. Na ’n lang soektog het Black se manne dit uiteindelik die volgende dag ongeveer 450 meter stroomaf gevind. Dit was ’n baie emosionele oomblik. Die 24th Regiment of Foot was bykans in sy geheel uitgewis, maar sy Vaandel het teen alle verwagting in behoue gebly.
Vir hulle dade is aan beide Melvill en Coghill die Britse Ryk se hoogste toekenning vir dapperheid, die Victoriakruis, postuum toegeken. Hulle families moes egter byna dertig jaar daarvoor wag. Vreemd genoeg, volgens die Britse Weermaghoofkantoor, sou hulle veel vroeër vir die toekenning genomineer gewees het as hulle nog geleef het. Hierna het koningin Victoria die neem van die Vaandel na toekomstige veldslae verbied omdat sy geglo het die verdediging van die Vaandel “stel voortvarende jong offisiere onnodig aan gevaar bloot”.
Die Vaandel is uiteindelik na Engeland teruggeneem om in die Brecon Katedraal bewaar te word, waar dit vandag nog gesien kan word.
In ’n tyd waartydens jong mense rigtingloos voel en die gemeenskap deurtrek is met narcisme, is hierdie storie ’n rigtinggewende baken van hoop. Sonder om die tallose wreedhede deur manne in dieselfde uniform as Melvill en Coghill te ontken, moet hulle verhaal vandag dien as ’n universele voorbeeld vir dié wat voel dat die dice vir hulle verkeerd geval het, dat die lewensoormag, die onewewigtigheid van die lewe net te swaar teen hulle gelaai is. En dit sluit die meeste mense in hierdie land in. Daar is oorweldigende beloftes en retoriek waarvan niks kom nie; waardes, ideale en drome is deurlopend onder beleg, soms van onverwagte bronne. Maar wanneer dit vandag gebeur, wys die verlede die pad aan; wink die moed en trou van Melvill en Coghill soos ’n baken om die rigting aan te dui: om in ’n saak te glo en dit te verdedig ongeag die prys; om nooit integriteit prys te gee nie, ongeag hoe hopeloos die situasie lyk; en om die Vaandel aan te gee sodat hoop altyd sal bly voortleef. Al was Melvill en Coghill kolonialiste of selfs imperialiste, was hulle ook ware universele helde, omdat hulle, tot die dood toe, soos NP van Wyk Louw dit stel, “getrou was aan iets”.
En daarin lê hulle waarde vandag: dat hulle die vaandel van hoop effektief aangegee het sodat dit vir ewig kan voortleef.
- Jako Bezuidenhout het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by die Rhodes Universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.



Kommentaar
Deeglik nagevors. Uitstekend aangebied. Inspirerend.