Nou in die verlede: Slagtersnek, Bophuthatswana en wit oppermagtigheid

  • 3

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

9 en 11 Maart 2020

Hierdie week gedenk ons twee tragiese gebeure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, naamlik die teregstelling van lede van die Slagtersnekrebellie van 1815, en die teregstelling van drie lede van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) deur ’n polisieman van Bophuthatswana in 1994.

In 1815 is Frederik Bezuidenhout, ’n boer aan die oosgrens van die Kaapkolonie in die huidige distrik van Somerset-Oos, gedagvaar om voor die landdroshof te verskyn na herhaalde klagtes dat hy een van sy Khoe-werknemers, bekend as Booi, mishandel het. Sy versuim om voor die hof te verskyn het gelei tot sy inhegtenisneming, waarteen hy hom hewig verset het. Uiteindelik het hy na ’n grot op sy plaas gevlug, met Kaapse Maleiersoldate (later bekend as die Kaapse Korps) warm op sy spoor. Tydens ’n oor-en-weer-skietery, waartydens hy geweier het om hom oor te gee, is hy deur een van die soldate doodgeskiet. Op Frederik se begrafnis het sy broer Johannes (ook genoem Hans) wraak gesweer. Vakkundiges is van mening dat die hoofrede vir Johannes en baie ander in die omgewing se woede die feit was dat sy broer deur ’n niewit soldaat doodgeskiet is.

Johannes en ’n buurman, Hendrik Prinsloo, asook ’n handjievol ander boere, het hierop ’n opstand teen die koloniale regering begin beplan onder die voorwendsel dat die regering vyandig was teenoor die trekboere, soos gedemonstreer deur hulle wetgewing om die toestande en lewens van slawe te verbeter, en ook deur hulle liberale houding teenoor swartes, asook Khoe- en San-mense. Hulle plan was om die Britte sowel as die Khoe uit die oosgrensgebied te verdryf en hulle het, ironies genoeg, die Xhosa-hoofman, Ngqika, om hulp genader en hom as vergoeding die hele Zuurveld, ’n waardevolle stuk grond tussen die Sondags- en Visrivier, aangebied. Ngqika het egter geweier om betrokke te raak. Prinsloo is kort daarna deur 70 soldate in hegtenis geneem en die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset. Hulle was ook onsuksesvol in hul pogings om die steun van ’n beduidende aantal Boere in die omgewing te verkry. Op 18 November 1815 het die meerderheid van die rebelle hulle by Slagtersnek vasgeloop in ’n gewapende koloniale mag wat deur die landdros van Uitenhage, Jacob Cuyler, gestuur is. ’n Interessante feit is dat dit die plek was wat onder die plaaslike bevolking as ’n handelspos bekend gestaan het en waar die handelaars van Grahamstad slagvee van die plaaslike boere gekoop het; vandaar die naam.

Onderhandelings tussen die rebelle en koloniale magte was onsuksesvol en die rebelle het uiteindelik onttrek sonder dat ’n skoot gevuur is. Twintig van hulle het hulleself net daar oorgegee, gevolg deur verskeie ander gedurende die daaropvolgende dae. Ander het weer oos gevlug in Xhosa-gebied in. Sommige van die leiers, insluitende Johannes Bezuidenhout, het egter geweier om hulle oor te gee en op 29 November 1815 is hy en ander vlugtelinge deur koloniale soldate tydens hul ontvlugting aangeval. Almal behalwe Johannes het hierop hulself oorgegee en net soos sy broer het hy gesterf terwyl hy homself gewelddadig teen sy gevangeneming deur die koloniale magte verset het.  

Die rebelle is in Uitenhage verhoor op ’n aanklag van sedisie en 32 van hulle is uit die Oos-Kaapkolonie verban, maar ses is op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel, om deur middel van die galg tereggestel te word. Een van hulle, Willem Krugel, is late deur die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset, begenadig. Op 9 Maart 1816 is die oorblywende vyf, Abraham Carel Bothma, Stephanus Cornelis Bothma, Theunis Christiaan de Klerk, Cornelis Johannes Faber en Hendrik Frederik Prinsloo, te Van Aardtspos in die openbaar gehang. Vier van die galgtoue het egter gebreek, wat deur baie van die omstanders as ‘n Goddelike ingryping beskou is om hulle lewens te spaar.

Hoewel die breek van ’n galgtou (iets wat nogal kommerwekkend dikwels gedurende daardie tyd tydens teregstellings voorgekom het) nie vanselfsprekend die vonnis tersyde gestel het nie, het dit tog by die amptenaar in beheer berus om te besluit of hy die teregstelling gaan uitstel vir heroorweging of nie. Maar die omstanders se pleidooie ten spyt, het Cuyler beveel dat die oorlewende vier een vir een na mekaar onmiddellik tereggestel word. Sy weiering om die doodsvonnisse te versag kon beïnvloed gewees het deur Cuyler se agtergrond. Cuyler is in Amerika gebore, maar het lojaal gebly aan die Britse Ryk gedurende die Amerikaanse onafhanklikheidstryd. Hy het ervaar met hoeveel wreedheid die lojaliste deur rebelle behandel is in daardie stryd en was dus ongenaakbaar in sy optrede teen enigeen wat teen die Britse Kroon rebelleer.

Die Slagtersnekrebellie en die daaropvolgende teregstellings word deur hedendaagse Suid-Afrikaanse historici beskou as die werklike aanvang van die Afrikaner se stryd teen Britse koloniale heerskappy. Dit word inderdaad beskou as een van die hoofoorsake vir die Groot Trek en dis daarom van groot belang vir die uiteindelike koers wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis ingeslaan het.

Meer as 175 jaar later sou nog ’n opspraakwekkende gebeurtenis ‘n beduidende skuif in die sosiopolitieke situasie teweegbring, en wel in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994.

Die klug van ‘n “staat” of “tuisland” bekend as Bophuthatswana onder hoofman Lucas Mangope het ontstaan weens die afbakening van gebiede ingevolge die apartheidsbeleid van die Nasionale Party-regering. Hoewel Bophuthatswana nie deur enige ander staat as soewereine staat erken is behalwe deur Suid-Afrika en ander tuislande nie, het ongeveer twee miljoen Tswanas hulle Suid-Afrikaanse burgerskap verloor om burgers van hierdie “staat” te word tydens sy “onafhanklikheid”. Ingevolge ‘n grondwet wat in 1977 opgestel is, was Bophuthatswana ’n “selfregerende demokrasie” met ‘n jurisdiksiegebied wat strek oor sewe distrikte wat binne die “aangewese Tswana-gebied” deur swart mense bewoon is. Onder Mangope se bewind het politieke vryheid vinnig afgeneem en mense wat die staat geopponeer het, was onderhewig aan verbanning, arrestasie en intimidasie. Die African National Congress (ANC) is ook as ‘n onwettige organisasie beskou.

Met Nelson Mandela se vrylating uit die gevangenis in 1990 en FW de Klerk se oproep tot onderhandelings wat sou lei tot die beëindiging van apartheid, het die moontlikheid om die gefragmenteerde tuislande weer in ’n verenigde Suid-Afrika te inkorporeer, sterk na vore getree. Ten spyte van die feit dat alle tuislande onder Suid-Afrika se tussentydse grondwet van 1993 ophou bestaan het, was Mangope vasbeslote om Bophuthatswana se onafhanklikheid te behou. Hiermee was Bophuthatswana se inwoners nie gediend nie, want die meeste van hulle wou graag hul Suid-Afrikaanse burgerskap herwin. Hoewel verset teen Mangope se regering sterk opgelaai het, is dit telkens onderdruk. Daar was besware dat die inwoners van Bophuthatswana verhoed is om kieseropleidingsprogramme by te woon en dat slegs Mangope-ondersteuners toegelaat is om vergaderings te hou.   

Op 1 Januarie 1994 het De Klerk formeel die Suid-Afrikaanse burgerskap van alle inwoners van Bophuthatswana herstel, maar hy was nie bereid om Mangope en sy regering te ontsetel nie. Hoewel Mangope bereid was om met die Suid-Afrikaanse Verkiesingskommissie te vergader, was hy nie bereid om aan die komende algemene verkiesing in April 1994 deel te neem nie.

In Februarie 1994 het die hoofde van 52 departemente binne die Bophuthatswana-regering die Mmabatho/Mafikeng Crisis Committee gestig om hulle rol te bespreek gedurende die tydperk na die algemene verkiesing. Toe dit blyk dat Mangope sou voortgaan om die integrasie van Bophuthatswana in die nuwe Suid-Afrika teen te staan, het die komitee die inisiatief geneem om stakings te organiseer. Omdat die bestaan van Bophuthatswana alreeds geskeduleer was om deur die Suid-Afrikaanse regering ontken te word op 27 April 1994, wou die komitee hulle salarisse en pensioene reeds lank voor daardie datum aan hulle lede uitbetaal hê. Weens die feit dat die staatskas net eenvoudig nie die fondse beskikbaar gehad het nie, het Mangope hierdie eise bloot geïgnoreer. Dit het die Bophuthatswana Polisiemag tot so ’n mate bekommer dat hulle by die staking aangesluit het. Gevolglik het anargie uitgebreek en die Bophuthatswana Weermag (BDF) moes ontplooi word om die orde te herstel. Desnieteenstaande het daar wydverspreide plundering uitgebreek.

Op 8 Maart 1994, in ‘n desperate poging om die orde te herstel, het Mangope generaal Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en leier van die regse Afrikaner Volksfront, uitgenooi na ’n vergadering met sy senior ministers en hoofde van sy weermag, polisie en intelligensiedienste. By hierdie vergadering is ooreengekom dat Viljoen die Volksfront se milisie sou aanwend om sleutelposte te beskerm indien die toestand sou versleg. Mangope het dit egter duidelik gestel dat hy nie die Volksfront se meer ekstremistiese bondgenoot, die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) op sy grondgebied sou toelaat nie; hulle is as ongedissiplineerde, rassistiese boewe beskou. Mangope het gevrees dat daar ’n totale opstand onder die BDF sou uitbreek sou die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, en sy kornuite op die toneel verskyn. Viljoen daarenteen is beskou as ‘n meer gematigde wit leier wat respek afgedwing het weens sy vorige posisies as hoof van die Suid-Afrikaanse Leër (1976–1980), en later ook die Suid-Afrikaanse Weermag (1980–1985).

Mangope en Viljoen se bedenkinge ten spyt, het AWB- paramilitêre lede uit Ventersdorp, Witbank, Rustenburg en ander dele van die Wes-Transvaal ook na die Bophuthatswana-grens opgeruk. Daar was ’n geloof onder heelparty van hierdie verregse lede dat dit die geleentheid was om ’n ooreenkoms met ‘n swart leier soos Mangope te sluit wat hulle uiteindelik in die toekoms daartoe in staat sou stel om vir ‘n volkstaat te onderhandel.

Teen Woensdag 9 Maart 1994 het alle beheer en gesag in Bophuthatswana in duie gestort. Stakers het die Bophuthatswana Uitsaaikorporasie oorgeneem en Mangope se seun gyselaar geneem. Studente het klasse geboikot by die Mmabatho Universiteit en duisende (vermoedelik ANC-ondersteuners) het by stakende staatsamptenare aangesluit om herinsluiting by Suid-Afrika te eis.

Op 10 Maart is Mangope aangeraai om Bophuthatswana ter wille van sy eie veiligheid te verlaat. Hy het die middag om 14h00 per helikopter na Motswedi vertrek. Later daardie middag het ’n groep anti-Mangope-polisiemanne ’n petisie aan die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Tjaart van der Walt, oorhandig waarin hulle inkorporasie by Suid-Afrika vra. Teen laat die middag het bykans alle wetstoepassing ophou funksioneer en dit is aan die BDF oorgelaat om orde te handhaaf. Mangope het Viljoen versoek om onmiddellik in te gryp om die vrede te herstel. Die Volksfront is inderhaas onder kolonel Jan Breytenbach gemobiliseer. Hulle was egter ongewapen. Die idee was dat hulle van BDF-wapens en -ammunisie voorsien sou word sodra hulle in Bophuthatswana aankom. Een van Breytenbach se mede-offisiere, kommandant Douw Steyn, het ’n mag van ongeveer 4 500 Suid-Afrikaanse Weermag-reserviste gelei, wat by die Mmabatho Lugmagbasis saamgetrek het en ontplooi is. Intussen het die Suid-Afrikaanse Weermag ook probeer ingryp, hoofsaaklik om sy ambassade en Suid-Afrikaanse burgers wat in Bophuthatswana vasgevang was te beskerm.

Op dieselfde tydstip het ‘n groep van ongeveer 600 AWB-lede ook Bophuthatswana binnegevaar in konvooie van private voertuie. Gewapen met ligte vuurwapens en jaggewere het hulle wild op die plaaslike swart bevolking begin skiet en in die proses verskeie mense gewond in hulle tog deur Mmabatho. Daardie aand was kolonel Antonie Botse van die BDF erg omgekrap om Eugène Terre’Blanche en Douw Steyn saam by die lugmagbasis aan te tref. Botse het daarop aangedring dat Terre’Blanche en sy meelopers Bophuthatswana onmiddellik verlaat. Generaal Jack Turner, bevelvoerder van die BDF, het Botse se opdrag herhaal, maar Terre’Blanche het volgehou dat Mangope sy teenwoordigheid daar versoek het. Turner was bekommerd dat sy troepe en ook die swart bevolking paniekerig sou raak as hulle die AWB-lede sou sien rondbeweeg in die strate van Mmabatho en Mafikeng. Uiteindelik het Terre’Blanche ingestem om Bophuthatswana te verlaat en sy manskappe is beveel om alle AWB-kentekens van hulle klere te verwyder. Maar tydens die onderhandelinge tussen Turner, Steyn en Terre’Blanche by die lugmagbasis het AWB-lede voortgegaan om wild op burgerlikes te skiet. Greg Marinovich, ’n fotojoernalis (en lid van die sogenaamde Bang-Bang Club), het gehoor hoe ’n AWB-lid tydens hierdie optrede opmerk: “Ons is op ‘n kafferskietpiekniek.” Swart BDF-soldate, wat hoogs ontsteld was deur hierdie optrede en ook met hulle bevelvoerders se oënskynlike onvermoë om die AWB-lede te beheer, het begin dreig om hierdie Afrikaner-burgersoldate aan te val.

Die oggend van 11 Maart 1994 het die AWB in ’n lang konvooi bestaande uit burgerlike voertuie uit die lugmagbasis vertrek, terwyl die lede van die Volksfront agtergebly het. Baie manne het geweier om hul AWB-kentekens te verwyder. Terwyl hulle roekeloos deur die strate van Mafikeng en Mmabatho gejaag het, het sommige lede steeds wild op die swart burgerlike bevolking losgebrand en in die proses minstens twee doodgeskiet. ’n Skare verwoede Bophuthatswana-burgerlikes, onder wie ook wittes was, het hierop die pad waarop die konvooi die dorp sou verlaat, geblokkeer. Een van die AWB-lede het oor die skare se koppe geskiet om hulle uiteen te dryf. Aan die einde van die konvooi was daar ’n blou Mercedes Benz W108 wat na bewering deur Nicolaas Fourie bestuur is, met Alwyn Wolfaardt en Jacobus Stephanus Uys as sy passasiers. Volgens ooggetuies het hulle na die huise langs die pad geskiet, waarop lede van die BDF teruggeskiet en Fourie in die nek, Wolfaardt in die arm en Uys in die been gewond het. Wolfaardt het uit die motor gestrompel met ’n vuurwapen in sy hand, maar dit is later deur ‘n Bophuthatswana-polisiebeampte by hom afgeneem. Nog ’n polisieman, konstabel Ontlametse Bernstein Menyatsoe, het Wolfaardt genader en gevra of hulle lede van die AWB is. Wolfaardt het dit bevestig en genoem dat hulle vanaf Naboomspruit afgevaardig is. Hy en Uys het hierop gesmeek vir hulp terwyl Fourie sterwend gelê het.

Intussen het ’n groot skare rondom die voertuig byeengekom, meestal bestaande uit joernaliste. Vir omtrent 20 minute het joernaliste onderhoude gevoer met Uys en Wolfaardt. Wolfaardt kon duidelik gehoor word waar hy smeek: “Asseblief Here, help my!”, terwyl Uys mompel dat hulle “gestuur was deur die baas”, toe Menyatsoe skielik na Wolfaardt en Uys toe stap waar hulle op die grond sit en hulle met ’n R4-aanvalsgeweer doodskiet terwyl hy ergerlik uitroep: “Wie dink julle is julle? Wat doen julle in my land?” Die moord is deur joernaliste op hul kameras vasgevang en wêreldwyd uitgesaai. Een van die joernaliste in die skare was die Pulitzer-pryswenner Kevin Carter, nog ’n lid van die Bang Bang Club. Hy het deurgaans foto’s geneem van die gebeure soos hulle ontvou, en hy was na wat verneem word hewig ontstel deur wat hy waargeneem het. Carter sou vier maande later selfmoord pleeg en sy kollegas spekuleer dat die trauma wat hy ervaar het tydens die moorde, byna sekerlik tot sy selfmoord bygedra het.

Menyatsoe sou later om amnestie aansoek doen by die Waarheid-en-versoeningskommissie en aanvoer dat die moorde nie polities gemotiveerd was nie. Hy het beweer dat hy baie emosioneel geword het toe hy ’n gewonde moeder wat vermoedelik geskiet was toe die AWB uit hulle voertuie op die skare geskiet het, in die skare opgemerk het. Hy het verder aangevoer dat hy op sy eie inisiatief opgetree het in die afwesigheid van ‘n bevelvoerder. Hy is dan ook uiteindelik amnestie toegestaan en het nooit vir hierdie moorde tereggestaan nie. 

Daardie selfde middag het die Volksfront, aan wie nog steeds geen wapens uitgereik was nie, op ’n meer ordelike wyse onttrek, met militêre begeleiding ten einde botsings met die publiek te vermy. Teen hierdie tyd het Mangope onder druk geswig en ingestem om aan die komende verkiesing deel te neem . Kort daarna het hy egter weer sy besluit herroep, wat De Klerk genoop het om op 12 Maart 1994 die Suid-Afrikaanse Weermag in Bophuthatswana in te stuur, Mangope af te sit en die orde te herstel. Bophuthatswana is kort hierna by die res van Suid-Afrika ingelyf en Suid-Afrika het sy eerste volkome demokratiese verkiesing op 27 April 1994 gehou soos beplan, maar Mangope het nie daaraan deelgeneem nie.

Tydens die gebeure van 8 tot 12 Maart 1994 het ongeveer 60 mense gesterf en honderde is gewond. Nogtans word dit hoofsaaklik onthou vir wat in ‘n straat van Mmabatho op 11 Maart 1994 gebeur het. Dit het op ’n demoraliserende ramp vir die AWB uitgeloop, met heelwat lede wat aan die organisasie begin twyfel het. Maar, meer belangrik en sonder om die afskuwelike gebeure te regverdig, het dit die beeld van wit oppermagtigheid in Suid-Afrika simbolies aan skerwe laat spat. Die beeld van ’n gewapende swart polisieman wat oor drie ongewapende, hulpelose en patetiese wit mans staan en hulle sonder meer koelbloedig doodskiet, het die persepsie dat wit mense in Suid-Afrika magtiger as swart mense is, ‘n erge knou toegedien. Vir ’n baie lang tyd het wit Suid-Afrikaners grootgeword met die aanmatiging wat subtiel van geboorte af by hulle aangekweek is, dat hulle meerderwaardig teenoor ander rassegroepe is. Erger nog, swart en ander “nieblanke” rasse was onder die indruk gebring dat hulle minderwaardig is. Hierdie beeld het daardie indruk vernietig. Dit het die boodskap uitgestuur dat niemand onaantasbaar is nie. Wit oppermagtigheid het ’n argaïese ideologie geword.   

Die raakpunte tussen die gebeure wat aanleiding gegee het tot die teregstellings by Slagtersnek en Mmabatho is opvallend. Die ontevredenheid met die bestaande regering aan die kant van die wit burgers, die (futiele) pogings van die wit opstandelinge om die guns van ‘n swart leier te wen in hul stryd teen hul regerings, die skietdood van wit ontevredenes deur swart wetstoepassers en die uiteindelike sinloosheid van beide oefeninge roep die woorde van die wyse Salomo weer in die geheue op: “Daar is niks nuuts onder die son nie.”

Net soos Frederik Bezuidenhout en die latere leiers van die Slagtersnekrebellie het die AWB ’n duur les geleer betreffende die beperkings op hulle “oppermagtigheid”. Hulle rasgedrewe bloeddorstigheid en verkrampte arrogansie eerder as hulle strewe na ’n onafhanklikheid staat was die kiem van hulle mislukking. Aan die Kaapse oosgrens was die meeste Boere dit nie eens met Johannes Bezuidenhout en Hendrik Prinsloo oor hoe hulle hul weersin in die koloniale regering wou uitdruk nie. Hoewel hulle ook ontevrede was met die situasie, was hulle nie bereid om openlik teen die koloniale regering te rebelleer nie. Dit het nie beteken dat baie boere aan die oosgrens nie ook gedroom het van onafhanklikheid nie. Hierdie droom het die heeltyd lewend gebly en hulle uiteindelik 20 jaar later geïnspireer om die Kolonie as deel van die Groot Trek te verlaat.

Insgelyks het die meeste Afrikaners in wie die droom van ’n onafhanklike staat nog lewe, hulle nie vereenselwig met die houding van ’n klein verregse groepie wat nie bereid was om saam te help bou aan ’n nuwe, nierassige Suid-Afrika nie. Hierdie klein verregse groepie het die krisis in Bophuthatswana gesien as ’n geleentheid om op ’n avontuur van bloedvergieting en geweld te gaan teen swart mense, onder die voorwendsel dat hulle dit as ’n moontlike hefboom wil gebruik om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen ten einde daardie selfde droom van onafhanklikheid waarvoor hul voorouers die Groot Trek aangedurf het, na te jaag. Daardie droom lê egter saam met hul ego’s en wit oppermagtigheid verpletter in die stof en bloed langs ‘n straat in Mmabatho.             

Bronne

Burgess, M. 2017. The unlikely story of the Slagtersnek gallows beam. Farmer’s Weekly, 17018, Mei, ble 64–5.

Carlin, J. 1994. De Klerk ousts rebel gunmen: White extremists expelled by South African troops in Bophuthatswana crisis. Independent, 12 Maart 1994.

https://www.google.com/amp/s/www.independent.co.uk/news/de-klerk-ousts-rebel-gunment-white-extremists-expelled-by-south-african-troops-in-bophuthatswana-1428474.html%3famp.

Freeman, J. Slagtersnek Rebellion: Don’t mention the war. The Citizen.

https://www.google.com/amp/s/citizen.co.za/lifestyle-travel/2037582/slagtersnek-rebellion-dont-mention-the-war/amp.          

Gold, M. 1995. Dokumentêr. Death of apartheid: The whites’ last stand. 4 Junie. BBC.

https://m.youtube.com/watch?v=PPvuAVO2-NI&t=116s.

Heese, JA. 1973. Slagtersnek en sy mense. Kaapstad: Tafelberg.

Onbekende skrywer. 2015. Conflict in Bophuthatswana (1994), Volkstaat.net 11 Maart.

http://www.volkstaat.net/index.php?option%3Dcom_content%26view%3Darticle%26id%3D1075:conflict-in-bophuthatswana-1994%3D57:awbeng%26ltemid%3D101.

Onbekende skrywer. 1998. Witness to Bophuthatswana uprising weeps before the TRC.  SAPA, 22 September.

https://www.justice.gov.za/trc/media/1998/980922a.htm.

Onbekende skrywer. Onbekende jaar. The Slachter’s Nek Rebellion, Somerset East.

https://www.somerset-east.co.za/page/slachters_nek_rebellion.

Onbekende skrywer. Onbekende jaar. Slagtersnek Rebellie / Rebellion, 15 Desember 1815. Geni.com.

https://www.geni.com/projects/Slagtersnek-Rebellie-Rebellion-15-Dec-1815/14935.

Stiff, P. 1999. The Silent War: South African recce operations 1969–1994. Alberton: Galago.

  • 3

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Jako, dankie, ek geniet altyd jou bydrae.

    Ek verwys graag na paragraaf een tot sewe van jou meningstuk. ʼn Foto van die gebeure op 11 Maart 1994 sal seker vir ewig by my spook …

    In Hermann Giliomee se ‘die Afrikaners’ (1919, verkort en aangevul), word die gebeure soos volg beskryf: “In 1813 is die jong Andries Stockenström op 21-jarige ouderdom as Cradock se adjunk-landdros aangestel. Sy pa, Anders, was Graaff-Reinet se landdros. In teenstelling met al die ander goed opgevoede Kaapse amptenare het Andries homself ʼn ‘Afrikaner’ en ‘Boer’ genoem. Hy was ʼn eerlike man met ʼn vurige, onafhanklike gees wat oneerlikheid en skynheiligheid nie kon verdra nie. Sy ferme verbintenis tot orde, reg en geregtigheid vir almal, ongeag kleur, het uitgestaan. Terselfdertyd het hy geglo dat Afrikaners eerder vir die saak van hervorming gewen moes word as dat dit aan hulle opgedwing moet word.
    Stockenström se eerste vuurproef was wat later as die Slagtersnekrebellie bekend geword het. Die rebellie het vroeg in 1813 begin toe Freek Bezuidenhout ʼn werker se lone terughou en hom aanrand. Hy het ʼn dagvaarding van Stockenström om voor die hof te verskyn geïgnoreer. Op Stockenström se versoek het twee Britse offisiere en 12 Khoi-Khoi-soldate uitgegaan om Bezuidenhout in hegtenis te neem. Hy het hom verset en is doodgeskiet.
    Freek se broer Johannes het wraak gesweer en saam met Hendrik Prinsloo manne vir ʼn opstand gewerf.
    Vir Stockenström was die rebellie ʼn kritieke keuse tussen orde en anargie. Hy het alleen en ongewapen by ʼn groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hul plan af te sien. Dié optrede het welgestelde boere laat besluit om die regering te steun.
    Die rebellie is afgeweer sonder dat enige skote gevuur is. In die hofsaak daarna is die doodstraf aan vyf van die leiers opgelê en hulle is gehang. In vier gevalle het die galgtou gebreek en moes die veroordeeldes weer gehang word.”

    Op p.47 verskaf die skrywer drie redes waarom trek al oplossing was vir wat hulle as ʼn bestaanskrisis ervaar het.

    Hoewel Giliomee bondig met die feite omgaan, lees die gebeure met die klem op Stockenström van Cradock versus Jacob Cuyler van Uitenhage en hulle onderskeie rolle as hooffiguur by die rebellie anomalies van aard. 1813 of 1815? Hierdie insident as ʼn bydraende rede vir die Groot Trek word ook nie deur Giliomee vermeld nie.

    Handel geskiedenis se waarheid oor die invalshoek?

  • Henning. Baie dankie vir jou kommentaar. Eerstens, soos enige historiese gebeurtenisse moet mens altyd bewus wees van die ingewikkelde sosio-politieke omstandighede van die betrokke tydperk. Frederik Bezuidenhout, al word hy gesien as ñ helde-figuur in sommige Afrikaner Nasionalistiese groepe, was hy eintlik maar 'n arrogante, agterlike figuur wat roem verkry het as gevolg van die aksies van sy broer en dié se kamerade. Die rebellie self was van korte duur omdat die ander boere in die streek huiwerig was om deel te neem in ñ rebellie wat moontlik die ondersteuning van ñ Xhosa-hoofman sou kry. Andries Stockenström se bydrae as jong landdros was groot, juis omdat hy een van die boere was. Moontlik kon die ondersteuning wat hy ontvang het van die ander boere tiegeskryf word aan hoe sy pa, Anders, wreed vermoor is deur Xhosa krygers tydens die 1811-12 grensoorlog. Ek wou net nie te veel "detail" oor die Uitenhage v Cradock saga gee nie uit vrees dat die gans te lank sou wees. Maar dit is ñ fassinerende episode van die oosgrens opsigself! Ek sien jy het klaar Giliomee se Afikaners gelees. Ek verwys jou ook graag na Prof. JA Heese se omvattende geskiedenis van Slagtersnek in "Slagternek en sy mense" (ingesluit in my bronnelys).

    Met betrekking tot die datums is 1813 die datum van die beweerde mishandeling en weerhouin van vetaling van Booi, een van Bezuidenhout se werknemers. Bezuidenhout het vir amper twee jaar dwarsboming van die gereg gepleeg. Dit was maklik in daardie dae omdat die naaste gesag ñ hele entjie was van Bez se plaas.

    Met betrekking tot Slagtersnek as bydraende rede vir die Groot Trek verwys ek weer na Prof. Heese se werk asook CFJ Müller se hoofstuk oor die oorsake van die Groot Trek. Al het baie van die toekomstige Voortrekkers nie saamgestem het met die wyse waarop die rebellie geloods is nie, was hulle simpatiek teenoor die feit dat die Britse-owerheid en filantrope so negatiewe invloed gehad het op veral die oosgrens se boere. Hulle was ook ongelukkig met die owerheid se benadering teenoor swartmense oos en wes van die Visrivier. Die oorlog van 1834-35 was vir baie oosgrensboere die laaste strooi. Dus kan daar gesien word dat al hierdie faktore saamgevleg het om uiteindelik ñ emigrasie te ontketen.

    Ek hoop hierdie gee bietjie meer insig oor my inslag?

    Dankie weereens vir jou kommentaar.

  • Henning Janse van Vuuren

    Plesier en dankie. Ja, nogal bloot uit die bloute kielie die geskiedenis my ‒ asof als werklik gebeur het. Ek is dikwels vas onder die indruk die ou lewe is soos die argaïese rekenaarspeletjie ‘Dangerous Dave’. Ek is Dawid op Aarde en dinosourusse, mammoete, ystydperke ens bestaan wel, maar slegs insover dit as deel van my dekor dien. Tensy ek tóé getrek was, onthou ek James T Kirk op die USS Enterprise waar hy vir hom ʼn simulasie-ervaring programmeer: Een oomblik op ʼn skip in die ruimte en binne ʼn oogknip vlug hy op die rug van ʼn perd voor koppesnellers oor die Prairie. (Onverwant, maar tog: “The Truman Show is a 1998 American science fiction comedy-drama.” – Wikipedia)

    Frederik en Hans klink na twee wildewragtigs ‒ die tipe Buys-bullebak (ʼn Grensroman) wat nie sal skroom om die snoet van ʼn koei te misbruik nie. (Familie? 😉 ) Soos jy sê, gegewe die sosio-politieke situasie en tydvak kan ʼn mens seker begrip hê vir die woestaards se gedrag. Die invalshoek van gebeure bly egter interessant: Castro het bv. ʼn ander storie as Botha oor Angola te vertel. En dan is daar die waarheid.

    Ek is in die pylvak met “die Afrikaner”, kort duskant apartheid. Tog jammer hierdie tameletjie is nie anders bygelê nie

    Ek glo die Franzen Hotel se span kan ʼn ligte oomblik optower uit hierdie gedeelte van die geskiedenis. “Hotel” in 1815. (https://www.youtube.com/watch?v=vfoYG8lfU1c) Wat Quentin Tarantino (Django) nie als met die mislukte teregstelling sou aanvang nie ...

    Dink jy die Afrikaner (die a-woord) moet oorweeg om homself te herdoop?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top