Nou in die verlede: Rhodesië, Zimbabwe en "die verkeerde kant van die geskiedenis"

  • 2

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

I don’t believe in majority rule ever in Rhodesia – not in 1 000 years … I repeat that I believe in blacks and whites working together. If one day it is white and the next day it is black, I believe we have failed and it will be a disaster for Rhodesia. (Ian Smith, 20 Maart 1976)

In hierdie week word twee geskiedkundige gebeurtenisse in Zimbabwe in herinnering geroep: die 50ste herdenking van Rhodesië wat haarself eensydig tot ’n republiek verklaar het, en die 40ste herdenking van die ZANU-PF van Robert Mugabe se oorwinning in die eerste inklusiewe algemene verkiesing in daardie land.

Gedurende die vroeë 1960’s was die Britse regering bereid om formeel aan Suid-Rhodesië (of bloot Rhodesië nadat Noord-Rhodesië in 1964 herbenoem is tot Zambië) onafhanklikheid te verleen. Die Britte se beleid was egter: “Geen onafhanklikheid sonder meerderheidsregering nie”. Hierdie beleid was spesifiek daarop gemik dat Britse kolonies met ’n beduidende wit bevolking wat in beheer van die regerings was, slegs onder swart meerderheidsregering onafhanklikheid sou verkry. Wit Rhodesiërs het aanvanklik hierdie idee verwerp, met sommige wat van oordeel was dat hulle, ten minste vir die onmiddellik voorsienbare toekoms, die reg op absolute politieke beheer het. Die Rhodesiese owerheid was ook baie bekommerd oor die chaos wat op die onafhanklikheid van ander sub-Sahara-Afrika-state gevolg het. Maar toe Rhodesië eers ’n onderwerp van bespreking deur internasionale instansies soos die Verenigde Nasies geword het, het dit al moeiliker geword om die status quo teenoor die res van die wêreld te regverdig en dit het met verdrag ’n al groter verleentheid vir Brittanje begin word.

Vlag: Actarux via Wikimedia Commons

In 1963 het die Britse eerste minister, sir Alec Douglas-Home, daarop aangedring dat enige gesprekke oor onafhanklikheid moet draai om wat hy die vyf beginsels genoem het: onbeperkte vordering na meerderheidsregering; versekering teen enige toekomstige wetgewing wat hoofsaaklik swart belange sal benadeel; verbetering in die politieke status van swart Afrikane; stappe om rassediskriminasie te beëindig; en ’n ooreenkoms op ’n skikking wat aanvaarbaar sal wees vir die hele bevolking. Toe Harold Wilson en sy Arbeidersregering aan bewind kom, het hulle ’n selfs sterker standpunt ingeneem en geëis dat hierdie vyf aspekte eers behoorlik aangespreek moet word selfs voor daar enige sprake van ’n agenda gerig op die verkryging van onafhanklikheid sou wees.

Intussen is Ian Smith, ondervoorsitter van die ultrakonserwatiewe Rhodesian Front-party, in 1964 tot Rhodesiese eerste minister verkies. Smith was die kolonie se eerste premier wat ’n Rhodesiër van geboorte was en het gou die personifikasie van verset teen die liberalisme in die Britse regering sowel as teen meerderheidsregering geword.

Smith het onomwonde al vyf die beginsels wat moes nagekom word en onafhanklikheid moes voorafgaan, verwerp, en aangevoer dat Rhodesië alreeds geregtig was op sy onafhanklikheid. Hierdie aanspraak is oorweldigend bevestig deur die geregistreerde (wit) kiesers tydens ’n referendum in November 1964, en Rhodesië het gedreig om hul soewereiniteit te verklaar sonder Britse toestemming. Wilson het hierop gereageer deur te waarsku dat dit sou neerkom op verraad. Wilson se bewese onwilligheid om militêre mag teen Engelse “familie en kennisse” te gebruik het Smith egter aangespoor om voort te gaan met ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring, later in die volksmond bekend as UDI (Unilateral Declaration of Independence). Op 11 November 1965 het die Rhodesiese leierskap sy eensydige onafhanklikheidsverklaring uitgereik, maar dit is onmiddellik in Brittanje veroordeel as “’n daad van rebellie teen die Kroon”.

Die Verenigde Nasies het die Smith-regering onmiddellik as ’n onwettige rassistiese minderheidsregime gebrandmerk en het lidstate versoek om alle ekonomiese bande met Rhodesië te verbreek en aanbeveel dat sanksies ten opsigte van petroleumprodukte en krygstuig ingestel word en dat Rhodesiese uitvoere afgesny word. Hierdie reëlings van Brittanje en die Verenigde Nasies het egter min daartoe bygedra om ander nasies te verhoed om handelsbande met Rhodesië te behou. Nie-Verenigde Nasies-lande soos Switserland en Wes-Duitsland het voortgegaan om wettiglik met Rhodesië handel te dryf, met Wes-Duitsland Rhodesië se grootste handelsvennoot tot 1973, toe dit ook by die Verenigde Nasies aangesluit het. Iran het olie verskaf en Japan het meer Rhodesiese goedere ingevoer as enige ander land. Suid-Afrika het openlik geweier om gehoor te gee aan die Verenigde Nasies se sanksies, hoewel dit toe nog ’n lidland was, terwyl Portugal heimlik meegehelp het om Rhodesiese goedere deur Mosambiek uit te voer deur dit as hulle eie te bemark en vals sertifikate van oorsprong daarvoor uit te reik. Maar ten spyte van die oneffektiwiteit van die sanksies het die Rhodesiese regering dit steeds bykans onmoontlik gevind om diplomatieke erkenning in die buiteland te kry. Selfs die Suid-Afrikaanse en Portugese regerings het Rhodesië nie as ’n onafhanklike staat erken nie. Desnieteenstaande het hulle darem ’n geakkrediteerde diplomatieke verteenwoordiger wat as ambassadeur sou optree, in Rhodesië ontplooi, wat beide Pretoria en Lissabon in staat gestel het om Brittanje se soewereiniteit oor Rhodesië te erken, maar terselfdertyd ook erkenning te gee aan die de facto-situasie van die Smith-regering wat die land regeer.

Aanvanklik wou die Rhodesiese regering sy trou en lojaliteit aan die Britse monarg, koningin Elizabeth II, handhaaf deur haar as koningin van Rhodesië te erken. Die Britse goewerneur, sir Humphry Gibbs, het UDI egter verwerp as ’n daad van verraad. Nadat UDI oor die radio afgekondig is, het Gibbs die mag van sy amp gebruik om Smith en sy kabinet af te dank. Die Rhodesiese ministers het egter sy kennisgewing van hulle afdanking geïgnoreer en aangevoer dat UDI Gibbs se amp as goewerneur afgeskaf en die magte wat daarmee saamgaan, opgehef het.

Vlag: Pixabay.com

In 1968 het die Appèlafdeling van die Rhodesiese Hooggeregshof beslis dat die Smith-regering nie net die de facto-regering van Rhodesië is nie, maar ook die de iure-regering. Daarom kon dit regtens enigiets wat sy voorgangers in titel soos Gibbs kon doen, ook self doen. Dit het die weg gebaan vir Rhodesië om ’n republiek te word. Tydens ’n referendum wat in 1969 onder die geregistreerde (wit) kiesers gehou is, is die voorstel dat alle bande met die Britse Kroon verbreek word, met ’n meerderheid van 61 130 stemme teenoor 14 327 aanvaar. En so het dit toe gekom dat Rhodesië sigself op 2 Maart 1970 tot ’n republiek verklaar het.

Ingevolge die nuwe grondwet het ’n president as seremoniële staatshoof gedien in plaas van die Koningin, met die eerste minister wat aan die president rapporteer. Binne die Rhodesiese regering was daar sommige wat gehoop het dat die verklaring tot ’n republiek ander lande sou aanmoedig om Rhodesië as wettige, onafhanklike staat te aanvaar. Dit het egter nie gebeur nie. Die meeste kenners stem daaroor saam dat UDI en die daaropvolgende verklaring tot ’n republiek bloot daarop gerig was om die belange en voorregte van ’n koloniale wit minderheid te beskerm ten koste van die verarmde swart meerderheid. Daarbenewens het dit gelei tot ’n vakuum van onderdrukking wat uiteindelik gevul is deur Robert Mugabe se diktatorskap.

In die algemeen het daar ’n gespanne houding onder die wit bevolking geheers ten opsigte van UDI, al was die uitslag van die referendum naby aan eenparig. Baie wit Rhodesiërs het hulleself ten spyte van alles nog steeds beskou as lojale lede van die Britse Ryk. Maar hierdie houding is ’n ernstige knou toegedien deur die Britse regering se weiering om onafhanklikheid op hulle voorwaardes aan hulle toe te staan. Wit Rhodesiërs het egter volgehou dat dit hulle is wat die Britse “beginsel” in stand hou en dit verdedig teen die aanslae van kommunisme, militante swart nasionalisme en, ironies genoeg, Britse inmenging.

Tussen 1968 en 1970 was daar byna geen verdere dialoog tussen Rhodesië en Brittanje nie. Met die verkiesing van ’n Konserwatiewe Party-regering onder Edward Heath, is onderhandelinge egter heropen. Smith het geglo dat Heath sal probeer om Anglo-Rhodesiese verhoudings te herstel.

In November 1971 het die voormalige eerste minister van Brittanje, sir Alec Douglas-Home, nou in sy hoedanigheid as minister van buitelandse sake, ’n ooreenkoms voorgestel wat hy geglo het bevredigend vir beide partye sou wees. Brittanje sou Rhodesië se republikeinse grondwet van 1969 erken as die wettige basis van die regering, tesame met instemming dat geleidelike swart verteenwoordiging in die wetgewer die formule sou wees tot uiteindelike meerderheidsregering. Daarbenewens is voorgestel dat swartes se politieke status onmiddellik verbeter word, dat daar ’n manier gevind moet word om rassediskriminasie in geheel te beëindig, en dat daar ’n onomstootlike waarborg gegee moet word dat die grondwet nie gewysig sal word om die bepalings van die ooreenkoms te ondermyn nie.

Die Smith-regering het egter geweier om hierdie voorstelle aan ’n referendum (wat swartes se stemme sou insluit) te onderwerp. In 1972 is daar ’n kommissie aangestel om die openbare houding teenoor hierdie nuwe voorgestelde ooreenkoms vas te stel, en volgens die kommissie was wittes in die algemeen ten gunste daarvan, terwyl die swartes oorweldigend daarteen was. Dit het daartoe gelei dat die Britse regering die voorstel onttrek het.

Teen 1975 was Rhodesië se dae egter alreeds getel. Na die ineenstorting van Portugese beheer oor Mosambiek was Rhodesië bykans omring deur vyandige state, wat die situasie onhoudbaar gemaak het. Selfs die Suid-Afrikaanse eerste minister, BJ Vorster, het ook die skrif aan die muur gesien, en hoewel hy nie bereid was om toegewings teenoor sy eie land se swart bevolking te maak nie, het hy tot die slotsom gekom dat wit minderheidsregering onvolhoubaar is in ’n land waar die verhouding tussen swartes en wittes 22:1 is.

ZANU, die swart Afrika-nasionalistiese beweging onder Mugabe, het alreeds met ’n militêre veldtog vir “die bevryding van Zimbabwe” begin na die aankondiging van UDI. Die veldtog het ingesluit aanvalle op wit boere, vernietiging van oeste, ontwrigting van elektrisiteitstoevoer in stedelike gebiede en petrolbomaanvalle. Die verskaffing van fondse en wapens deur ondersteuners, meer spesifiek private ondernemings en Sowjetbloklande, het die guerrillastryders van beide ZANU en Joshua Nkomo se ZAPU daartoe in staat gestel om gesofistikeerde krygstuig te verkry, waardeur die militêre druk op Rhodesië verhoog is. Die brutaliteit en intensiteit van die oorlog het met verdrag tussen al drie partye toegeneem, met die burgerlike bevolking wat uiteindelik die spit moes afbyt.

ZANU en ZAPU was terdeë daarvan bewus dat die Rhodesiese staat se grootste probleem tydens die oorlog sy gebrek aan mannekrag was. Van die ongeveer 3 000 manskappe wat in 1973 opgeroep is vir diensplig, het net ongeveer 1 000 opgedaag. In Februarie 1978 het die Rhodesiese weermag aangekondig dat hy ’n minimum van 1 041 mansskappe nodig het ten einde militêre operasies voort te sit. Slegs 570 hiervan het egter vir diens aangemeld; die res het eerder na Suid-Afrika uitgewyk. Desnieteenstaande het die Rhodesiese weermag, die geweldige tekorte ten spyt, deurgaans die guerrillastryders die loef afgesteek in militêre operasies. Derhalwe het die guerrillas, in ’n poging om wit emigrasie aan te moedig, enigiets wat van ekonomiese waarde kon wees, aangeval ten einde die staat te dwing om meer en meer ekonomies aktiewe manskappe op te roep om so die ekonomie tot stilstand te laat knars. Hulle het ook doelbewus hul teikens ingestel op enige wit persoon, omdat dit tot ’n “eggo-effek” sou lei, wat beteken het dat na aanleiding van elke enkele wit persoon wat vermoor word, twintig Rhodesië sou verlaat. 

Die situasie het selfs meer onhoudbaar vir Rhodesië geword toe dit die ekonomiese en militêre ondersteuning van Suid-Afrika ook verloor het. Pretoria het begin om beperkings te plaas op die hoeveelheid brandstof en ammunisie wat dit aan die Rhodesiese weermag verskaf het. Personeel en toerusting wat voorheen verskaf is om in die stryd te help, is ook onttrek. Smith het in ’n skrywe genoem dat hoewel baie wit Suid-Afrikaners Rhodesië ondersteun het, Vorster se beleid van détente met swart Afrikastate daartoe gelei het dat Rhodesië as die offerlam aangebied is om meer tyd vir Suid-Afrika te koop.

Smith se droom vir Rhodesië was verby.

In ’n desperate poging om nog tot ’n mate aan die mag vas te klou, het Smith met gematigde swart-nasionalistiese partye onderhandel en ingestem tot verkiesings waaraan hierdie partye ook kon deelneem. Die ooreenkoms het basies neergekom op magsdeling tussen wit en swart wat aan wittes ’n derde van die parlementêre setels gewaarborg het. Dit was natuurlik steeds hopeloos disproporsioneel tot die bevolkingsamestelling. Daarbenewens sou die land se polisie, weermag, staatsdiens en regbank steeds onder wit beheer bly. Smith sou as eerste minister vervang word deur die swart gematigde biskop Abel Muzorewa en die land sou Zimbabwe Rhodesië genoem word. Beide ZANU en ZAPU het egter die ooreenkoms verwerp en die oorlog het voortgeduur.

In 1979 het die Britse regering onder Margaret Thatcher al die partye genooi om ’n vredeskonferensie by Lancaster House by te woon. Hierdie onderhandelings het ná drie maande gelei tot die Lancaster House-ooreenkoms. Hierdie ooreenkoms was veronderstel om alle vyandelikhede te staak, maar geweld het bly voortduur in die aanloop tot die algemene verkiesing en het daartydens voortgeduur tot selfs daarna. ’n Algemene verkiesing is egter desnieteenstaande in Februarie 1980 gehou en Mugabe se ZANU het as wenners uit die stryd getree. Die ironie is dat Mugabe op 4 Maart 1980, presies ’n dekade en twee dae na Smith Rhodesië ’n republiek verklaar het, ingehuldig is as die eerste eerste minister van ’n internasionaal-erkende onafhanklike republiek van Zimbabwe.

Smith het leier van die amptelike opposisie geword ten spyte daarvan dat hy deur vele, in besonder die regerende ZANU-PF, beskou is as ’n rassis sonder berou wie se beleidsrigtings en optrede daartoe gelei het dat duisende mense gesterf het. Sy regering sou ook later aanspreeklik gehou word vir die vele krisisse wat hulle greep op Zimbabwe uitgeoefen het. Smith het egter ’n heftige kritikus van Mugabe se regering gebly voordat, en ook nadat, hy in 1987 uit die politiek getree het. Toe Mugabe se reputasie begin verkrummel tydens die ekonomiese chaos wat Zimbabwe tydens die draai van die 20ste eeu getref het, het sommige mense Smith se nalatenskap begin eer en sy waarskuwings as profeties begin beskou. Aan die einde van sy lewe is Smith deur die Zimbabwiese opposisie-ondersteuners geprys as ’n “onkreukbare mag van verset”. Ian Douglas Smith het in 2007 in Kaapstad gesterf. 

Mugabe se nalatenskap, daarenteen, is net so kontroversieel. Hy was aanvanklik voorgehou as die heldhaftige leier van die guerrillamagte wat uiteindelik sy mense tot bevryding van wit oorheersing gelei het. Na sy verkiesing is hy deur Westerse waarnemers geprys vir sy pogings om die onderskeie rasse met mekaar te versoen. Sy verhouding met Nkomo en ZAPU het egter mettertyd versuur en uiteindelik het dit gelei tot die Gukurahundi van 1982 tot 1987, waartydens Mugabe se militêre magte ZAPU-opposisie in Matabeleland uitgemoor het. Dit het gelei tot die dood van meer as 20 000 mense, van wie die oorgrote meerderheid burgerlikes was. Verder het Mugabe gedurende 2000, in najaging van sy idee van dekolonialisasie, swart mense aangemoedig om op gewelddadige wyse plase in wit besit te beset. Dit het ’n geweldige impak op voedselproduksie gehad en uiteindelik gelei tot hongersnood, ekonomiese verval en sanksies deur dieselfde lande wat Mugabe twintig jaar tevore so hoog aangeprys het.

Hoewel binnelandse verset teen Mugabe toegeneem het, is hy nogtans verskeie kere daarna tot president van Zimbabwe herkies ná verkiesingsveldtogte wat gekenmerk was deur staatgefundeerde geweld en verkiesingsbedrog. Tydens sy bewind is hy en sy regering beskuldig van korrupsie, verskeie menseregtevergrype, en staatsgeïnisieerde terreur teen sy eie mense. In 2017 is hy uiteindelik uit die kussings gelig tydens ’n geweldlose staatsgreep deur lede van die ZANU-PF sowel as sy weermag. Robert Gabriel Mugabe sterf uiteindelik in 2019 en laat sy land in sosio-ekonomiese en sosiopolitieke puin.

Dit kan nie ontken word nie dat beide leiers, Smith en Mugabe, bygedra het tot die gemors waarin Zimbabwe hom nou bevind. Kenners argumenteer dat indien die Rhodesiese regering vroeër sou ingestem het tot die Britse aandrang op meerderheidsregering, dit Zimbabwe waarskynlik sou gevrywaar het van ’n bloedige oorlog wat tot die voortsetting van rassehaat en die radikalisering van baie swart-nasionalistiese bewegings bygedra het. Dit sou weer tot gevolg kon gehad het dat, weens die feit dat radikalisme minder algemeen onder die swart bevolking sou voorgekom het, die minder radikale swart leiers na vore sou getree het om deur die meerderheid verkies te word.

Hoe dit ook al sy, Mugabe se rol in die sistematiese onderdrukking van sy mense en die vernietiging van sy land se ekonomie kan nie oorbeklemtoon word nie. Hoewel Smith se hardkoppigheid waarskynlik die fondasie gelê het vir die puin waarin Zimbabwe hom nou bevind, was Mugabe en sy kornuite sonder twyfel die argitekte daarvan. Desnieteenstaande word Mugabe steeds deur baie Afrika-leiers, insluitende dié van Suid-Afrika, as ’n bevrydingsheld geprys. Volgens die joernaal The Black Scholar is Mugabe, “afhangende van na wie jy luister (...) óf een van die wêreld se groot tiranne óf ’n vreeslose nasionalis wat hom die argwaan van die Weste op die hals gehaal het”.

Insgelyks het Smith en sy regime ook ’n onlangse toename in hulle ondersteuning gekry, veral van wit-heerskappy-groepe, soos waargeneem in ’n 2018-New York Times-artikel. Hierin skryf die joernalis John Ismay (my vertaling):

Foto’s (op Instagram) van soldate wat deur grasvelde en riviere marsjeer, spesmag-eenhede wat uit helikopters spring en burgerlikes wat met vuurwapens voor hulle huise poseer, het honderde, soms duisende “likes” ontlok op plasings wat oënskynlik hulde bring aan ’n geharde en vergete lid van Koue Oorlog-era-bosvegters. 

Nostalgie oor Rhodesië het sedertdien gegroei tot ’n subtiele en lonende (daar is verskeie goedere met die Rhodesië-tema aanlyn te koop) rassistiese seinnetwerk met sy eie terminologie en kodes. Sosiale-media-persone en instansies wat Rhodesië-tema-goedere verkoop, ontken dat hulle wit-heerskappy-boodskappe onderskryf. Ander sê weer dat hierdie nuutgevonde belangstelling lê in die ou Rhodesiese regering se “antikommunistiese houding”.

Maar ander wat hierdie vreemde herlewing waarneem, merk op dat daar ’n ander, meer kommerwekkende inspirasie daarvoor is. In Junie 2015 het Dylan Roof, ’n Amerikaanse wit-heerskappy-aanhanger, nege swart kerkgangers in Charleston, Suid-Carolina, doodgeskiet. Roof het vooraf ’n aanlyn manifes opgestel wat op die webblad genoem The Last Rhodesian verskyn het, waarin hy op ’n foto verskyn geklee in ’n baadjie met die Rhodesiese vlag op (reg onder die ou Suid-Afrikaanse vlag). Sedertdien het die aanvraag vir goedere met ’n Rhodesiese tema skerp toegeneem.

Dit is duidelik dat Smith en Rhodesië aan die een kant en Mugabe en Zimbabwe aan die ander kant uiteenlopende reaksies ontlok. Daar is geen tussengrond nie: Óf hulle word verafgod óf hulle word verafsku. Hierdie geneigdheid tot binariteit is niks nuuts nie, maar in ’n wêreld wat vinnig besig is om na ekstremisme te neig, hetsy ver regs of ver links, is dit uitsonderlik verontrustend. En dit is wat die toenemend gewilde frase “om aan die verkeerde kant van die geskiedenis te wees” voortsit. Histories beskou, het beide Smith en Mugabe hulle land in die steek gelaat. Maar hierdie frase word nou aangewend deur groepe met ’n spesifieke politieke agenda om die aandag af te lei van hul eie swak of totaal ongefundeerde argumente. Soos die filosofieprofessor Jim Spiegel opmerk, is die frase bedoel om twee moontlike dinge te beteken: Eerstens kan dit suggereer dat met die verloop van tyd almal moontlik met die bepaalde sienswyse sal saamstem. As ’n meerderheidsopinie egter bepaal wat die korrekte siening is met betrekking tot ’n bepaalde saak, word feite deur opinie omvergewerp, wat dan lei tot foutiewe logika, wat in die filosofie bekend staan as die ad populum­-drogrede (drogrede met ’n beroep op die populêre opinie). Selfs as almal met ’n bepaalde sienswyse saamstem, beteken dit nog nie dat dit waar is nie. Baie mense sal byvoorbeeld saamstem dat Smith “aan die verkeerde kant van die geskiedenis” was in ag genome sy vele mislukkings as ’n leier en sy rassistiese beleidsrigting. Net so sal Rhodesië ook onthou word as ’n muishondstaat wat uit die staanspoor tot mislukking gedoem was. Smith en Rhodesië was verteenwoordigend van rassisme en blanke oorheersing. As gevolg van hierdie oorweldigende veroordeling is hulle nie erken nie en het hulle baie min internasionale ondersteuning geniet in hul stryd teen ZANU en ZAPU. Dit het dit moontlik gemaak vir guerrillagroepe om hulle aanvalle op sowel swart as wit burgerlike teikens te verskerp met baie min, indien enige, internasionale kritiek. Hierdie gruweldade is óf geïgnoreer óf geregverdig deur buitelandse waarnemers ten einde die bevrydingsnarratief te dien. Dit het uiteindelik die weg gebaan vir Mugabe om voort te gaan om misdade teen die mensdom te pleeg toe hy en ZANU-PF eers die mag gehad het, en het hulle in staat gestel om enige opposisie teen sy regime as misdadig af te maak. Op 15 Januarie 2016 het die staatsmondstuk The Patriot byvoorbeeld ’n artikel gepubliseer waarin gesê word dat David Coltart, ’n stigterslid van die Movement for Democratic Change (MDC) “aan die verkeerde kant van die geskiedenis” was toe hy daarop aangedring het dat Mugabe om verskoning vra vir die massamoorde in Matabeleland. Die artikel gaan voort en verklaar dat Coltart “een van die Rhodesiese oorblyfsels” is wat verantwoordelik is vir die “massaslagtings gedurende die vryheidstryd”. Om bloot op die beskouings van die meerderheid as ’n morele maatstaf te vertrou, is ’n gevaarlike gebruik, want dit kan maklik deur persone met ’n politieke agenda misbruik word.

Die tweede moontlike betekenis van “aan die verkeerde kant van die geskiedenis” is dat dit opgehaal word omdat die bepaalde siening uiteindelik as korrek bewys sal word. Daar is egter nie substantiewe getuienis om dit te staaf nie. Die steun wat Rhodesië byvoorbeeld tans van wit-heerskappy-groepe ontvang, is deels gebaseer op die aanname dat Smith korrek was toe hy voorspel het dat swart meerderheidsregering ’n fout sal wees indien dit op onverantwoordelike wyse aan hulle oorhandig sou word. Hierdie beskouing word onderlê deur die uitgangspunt dat Smith se regime ’n baken van voorspoedige, vooruitstrewende Westerse beskawing in Afrika was totdat dit deur kommunisme en swart Afrika-nasionalisme vernietig is. Daarom was Brittanje en die ander state wat geweier het om Rhodesië as onafhanklike staat te erken, bewese “aan die verkeerde kant van die geskiedenis”, terwyl Smith en die Rhodesiese wittes die helde was wat teen ’n groot getalle-oormag die kommunistiese bedreiging probeer afslaan het. Hierdie narratief hou egter nie rekening met die onderdrukking van die swart bevolking, hul uitbuiting vir hul goedkoop arbeid en die weerhouding daarvan om hulself in die regering te verteenwoordig nie. Daarbenewens is dit histories duidelik dat Rhodesië se posisie onder Smith onvolhoubaar was; dermate dat selfs apartheid-Suid-Afrika hom van Rhodesië gedistansieer het. Derhalwe is die grandiose en romantiese feeverhaal van wittes wat saamstaan teen die aanslag van liberalisme en die swart en kommunistiese gevaar, ook ’n bewese wanopvatting.

Die geskiedenis van Rhodesië se oorgang tot Zimbabwe is kompleks en genuanseerd en moet as sodanig benader word. Geskiedenis is vol verskillende skakerings, want geskiedenis is vol verskillende mense. Daar is nooit bloot tweevoudigheid nie. Daar is nooit net een aanvaarde ideologie wat teen ’n ander opgeweeg kan word nie. Daar is geen absolute goeie teenoor ’n absolute bose nie. Die geskiedenis het dit by herhaling bewys. Maar weens die meer onlangse sosiopolitieke onstuimigheid wat die wêreld aangegryp het, het die openbare populêre debat gedaal tot binêre ekstremisme, en dit wil nou voorskryf hoe daar na die verlede gekyk moet word. Dit is gevaarlik en moet vermy word, voordat ons onsself werklikwaar “aan die verkeerde kant van die geskiedenis” bevind.

Bronne

Brownwell, J. 2008. The hole in Rhodesia’s bucket: White emigration and the end of settler rule. The Journal of Southern African Studies, 34(3):591–610.

Cornwell, R. 2019. A life in focus: Ian Smith – last white leader of Rhodesia, now Zimbabwe, who fought to preserve minority rule. The Independent, 2 Februarie.

https://www.google.com/amp/s/www.independent.co.uk/news/lifeinfocus/a-life-in-focus-ian-douglas-smith-last-white-prime-minister-rhodesia-zimbabwe-a8754971.html%3famp.

Cowell, A. 2017. Ian Smith, defiant symbol of white rule in Africa, is dead at 88. The New York Times, 21 November.

https://www.nytimes.com/2007/11/21/world/africa/21smith.html?pagewanted=all&_r=0.

Graham, DS. 2015. The wrong side of “the right side of history”. The Atlantic, December.

https://www.google.com/amp/s/amp.theatlantic.com/amp/article/420462.

Guvamatanga, G. 2016. Coltart on the wrong side of history. The Patriot, 15 Januarie.

https://www.thepatriot.co.zw/old_posts/coltart-on-the-wrong-side-of-history.

Ismay, J. 2018. Rhodesia’s dead – but white supremacists have given it new life online. The New York Times, 10 April.

https://www.gooogle.com/amp/s/www.nytimes.com/2018/04/10/magazine/rhodesia-zimbabwe-white-supremacists.amp.html%3f0p19G=7900.

Meredith, M. 2002. Our votes, our guns: Robert Mugabe and the tragedy of Zimbabwe. New York: ?uitgewer?

Power, S. 2003. How to kill a country. The Atlantic, December.

https://www.google.com/amp/s/amp.theatlantic.com/amp/article/302845.

Shire, G. 2007. The case for Robert Mugabe: Sinner or sinned against? The Black Scholar, 37(1):32–5.

Spiegel, J. 2012. The hidden fallacies of “the wrong side of history”/ Wisdom and Folly, 23 August. https://wisdomandfollyblog.com/the-hidden-fallacies-of-the-wrong-side-of-history.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Rhodesië was eers Noord en Suid-Rhodesië.
    Zambia was Noord-Rhodesië en Zimbabwe Suid-Rhodesië.
    Beide is nou in hul moer en blaam kan net voor “bevrydingsorganisasies” gelê word. So ook in SA.
    Wat al die “as” betref, sit almal deesdae soos Job in “sak en as”!

  • Soos Suid Afrika onder die ANC is Mugabe se Zimbabwe 'n ongekwalifiseerde ramp. Om dit te vergelyk met Smith se doen en late is 'n belediging. Rhodesië se lot wys wat die ingryping van buitelandese moondhede in 'n land se interne aangeleenthede kan doen - soos Amerika daagliks uitvind. Britanje se aandeel in die ramp is 'n illustrasie van die "road to hell is paved with good intentions". Rhodesië sou op 'n evolusionêre wyse tot 'n meer verteenwoordigende land ontwikkel het, indien alleen gelaat. Dit het beleidsrigtings nagestreef waar SA dekades agter by was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top